Читать книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude - Страница 41

31 Die klont goud

Оглавление

’n Fabel van Esopus

’n Gierigaard wat hom nooit ophou bekommer het oor die veiligheid van al sy besittings nie – daar was so baie dáárvan dat hy gedurig bang was iemand besteel hom – het alles wat hy besit, verkoop en van die geld een yslike klont goud laat maak. Nou sou hy alles met een oogopslag kon dophou en baie makliker beskerm. (Dit was in die dae voor bankkluise en elektroniese transaksies.)

Sy klont goud het hy in ’n gat in die grond begrawe, in sy agterplaas. Elke oggend het hy die plek opgesoek, die gat oopgemaak, en dan sit en droom en hom verlekker oor die rykdom wat daar begrawe lê.

Die dorpsdief was gou om raak te sien dat daar iets snaaks met die gierigaard aan die gang was. Hy het nie meer van die môre tot die aand tussen sy verskillende besittings rondgedraf om ’n oog oor alles te probeer hou nie. Die dief het sy bewegings fyn dopgehou en gemerk dat hy elke dag lang tye op ’n sekere plek in sy agterplaas sit, met ’n geluksalige uitdrukking op sy gesig. Die dief het twee en twee bymekaargetel en daardie nag klim hy oor die omheining, grawe ’n bietjie rond en kom op die gat af waarin die reusagtige stuk goud begrawe lê. Hy vat dit toe en laat spat.

Die volgende oggend was die vrek in ’n toestand. Sy bol goud was weg! Daar was net ’n leë gat! Hy het gehuil en gevloek, sy vuis in die lug geswaai en sy hare uit sy kop getrek. Hy het so te kere gegaan dat sy buurman aangehardloop gekom het. Toe hy uitvind wat gebeur het, dink die buurman ’n oomblik na. Hy het sy vrekkerige buurman goed geken en kon hom goeie raad gee.

“Moenie jou so ontstel oor iets wat in elk geval in die grond begrawe was nie, man,” sê hy vertroostend. “Al wat jy hoef te doen, is om ’n klip te vat wat min of meer so groot soos jou verlore klont goud is en dit in die plek van jou skat te begrawe. Dan kan jy nog steeds elke dag hier kom sit en lekkerkry. Jy verbeel jou net die klip is jou klont goud. Jy was mos in elk geval nooit van plan om daardie goud te gebruik nie. Dus sal dit mos geen verskil aan jou maak of jy ’n klont graniet of ’n klont goud sit en streel nie!”

Daardie aand sê die buurman vir sy kind: “Onthou dat die waarde van geld nie daarin lê om dit te besit nie, maar in die gebruik en geniet daarvan.”

___________________________________

Die besit van baie geld bring nie die rus wat hulle besit wat dit nié begeer nie.

MARKIES DE SABLé

Dis dwase wat arm lewe om ryk te kan sterwe.

BH BROCKES

Die vermenigvuldiging van groot rykdom terwyl daar soveel armoede in jou land is, moet ’n oortreding van God se bedoeling wees. Dis waarom inhalige, hebsugtige mense nooit so gelukkig kan wees soos mense wat min het maar dit geniet nie.

POUS JOHANNES XXIII

Stories vir die lewe-omnibus

Подняться наверх