Читать книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude - Страница 22

14 Die Judasgesig

Оглавление

’n Italiaanse volksverhaal

Teen die agterste muur van ’n saal in die klooster van Santa Maria delle Grazie in Milaan is een van die beroemdste muurskilderye ter wêreld te sien: “Die laaste avondmaal” van Leonardo da Vinci.

Toe Da Vinci die eerste portretstudies vir dié fresko aan die maak was, so word vertel, het hy ’n jong man gevind wie se gesig van soveel edelheid getuig het dat hy hom gevra het om as model vir die Christusfiguur op te tree.

Daarna het Da Vinci meer as ’n jaar lank aan die apostelfigure geskets.

Toe hy ten laaste by Judas kom, het hy rondgesoek na ’n gesig wat as model vir die verraaier kon dien. Dit moes onmiskenbare innerlike verraad en verval weerspieël. Na ’n maande lange soektog ontdek hy waarna hy soek in die gelaat van ’n jong man in ’n berugte Milanese taverne.

Terwyl dié man met die “Judasgesig” vir hom poseer, het Da Vinci hom beter leer ken.

Tot sy verbasing moes hy uitvind dat dit dieselfde jong man was wie se edel gelaatstrekke hom ’n jaar of wat tevore geïnspireer het om die Christusgesig te skilder.

Die verandering van die jong man se uiterlike weens innerlike verwoesting was so vinnig en so volledig dat Da Vinci hom nie herken het nie.

___________________________________

Die mens is ’n plant wat óf ’n geurige spesery óf ’n verwoestende onkruid kan word. Wees dus bedag op watter een jy die meeste water gee.

FRANCIS BACON

Stories vir die lewe-omnibus

Подняться наверх