Читать книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude - Страница 21

13 Wat God bly maak

Оглавление

(I)

Daar is ’n ou legende wat lui dat vier engele God dopgehou het terwyl Hy besig was om die heelal te skep.

Die eerste een het gevra: “Hoe doen U dit?” Hy was die vader van die wetenskaplikes.

Die tweede een wou weet: “Hoekom doen U dit?” Hy was die vader van die filosowe.

Die derde engel het gevra: “Kan ek U nie help nie?” Hy was die vader van die filantrope.

Die vierde se vraag was: “Wat is die waarde daarvan?” Hy was die eerste eiendomsagent.

Daar was ook ’n vyfde engel. Hy het in stille ekstase na die grootsheid van God se skeppingswerk gekyk en spontaan hande geklap. Hy was die naaste aan God se hart.

(II)

’n Toegewyde Jood het elke dag op die voorgeskrewe tye uit sy voorgeskrewe gebedeboek gebid. Eendag was hy op reis en misgis hom toe met die tyd en afstand. Toe hy weer sien, was dit tyd dat hy moes bid.

Net daar hou hy met sy perdekar langs die pad stil, kniel op die gras en bid: “Here, dis tyd om te bid. U weet ek het nie my gebedeboek by my nie. Nou gaan ek maar die letters van die alfabet opsê, en U moet hulle asseblief rangskik sodat dit ’n gebed vorm wat U sal bly maak.”

God het hom in die hemel gehoor en geglimlag. “Weet julle,” sê hy vir die engele om sy troon, “van al die gebede wat ek vandag gehoor het, was dít die mooiste.”

___________________________________

Kindergebedjie:

“Liewe Jesus, sorg tog vandag vir Mamma en Pappa, en vir Ouma en tannie Ans en Juffrou en die President en die arm kindertjies – en moenie vergeet om Jouself baie goed op te pas nie, want as Jy iets oorkom, is ons almal in ons peetjie.”

Humor is die erns wat agter die skerts skuil.

ARTHUR SCHOPENHAUER

Stories vir die lewe-omnibus

Подняться наверх