Читать книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude - Страница 15

7 Die koning se valk

Оглавление

Genghis Kahn het gedurende die Middeleeue oor die groot Mongoolse Ryk in Oos-Europa geheers (1162-1227). Hy was baie lief vir jag en eendag, in vredestyd, het hy en sy vriende die veld ingery om hase te jag. In daardie tyd het hulle mak valke – hoogs intelligente voëls – geleer om die prooi uit die lug te bespied, af te duik daarheen, en so vir hul base aan te dui waar die diertjie was. Aan die einde van die dag was die koning nog lus om ’n bietjie in die bos rond te ry en hy stuur die res van die jaggeselskap huis toe. Ook sy mak valk het hy na die paleis toe teruggestuur, want die voël het die pad daarheen goed geken.

Dit was ’n warm dag en die koning was moeg. Hy kon nêrens ’n fontein of poeletjie raaksien om bietjie water te drink nie. Eindelik sien hy water langs ’n rots afdrup en hou sy perd in. Hy haal ’n silwerbeker uit sy saalsak en hou dit onder die yl stroompie wat drupsgewys in die beker loop. Die water het gekom uit ’n fontein wat ’n poeletjie hoog bokant die rotse gevoed het. Omdat dit nie die reënseisoen was nie, was die water maar skraps en het dit lank gevat voor die koning se beker vol was.

Net toe hy dit na sy lippe bring om dorstig te drink, hoor hy skielik ’n gefladder bokant hom. Die volgende oomblik swiep sy valk na benede en stamp die beker uit die koning se hand. Al die water was verlore!

Die valk vlieg nog ’n paar keer oor Genghis Kahn se kop en gaan sit toe hoog op die rots bo hom. Die koning was vies, maar dog dis seker ’n ongeluk. Hy tel toe maar die beker op en hou dit weer ewe geduldig onder die druppels wat teen die rots afloop. Sy dors was nou byna ondraaglik.

Hierdie keer lig hy al die beker om te drink voor dit nog halfpad vol was. Maar voor hy kan drink, duik die valk weer op hom af en stamp die beker uit sy hand. Die koning was nou bitter kwaad, maar sy dors dryf hom om ’n derde keer te probeer. En weer kom die valk tussenbeide. Genghis was nou woedend en trek sy swaard uit. “Kom net weer naby my!” dreig hy die valk. “Dit sal jou laaste beweging wees.”

Maar toe die bekertjie genoeg water bevat om te drink en die koning dit dorstig oplig, vlieg die vlak voor die swaard verby en stamp die beker weg. Dié keer rol dit ’n ent weg en val in ’n opening tussen twee rotse in – buite bereik van die koning.

Buite homself van frustrasie lig die koning sy groot swaard en kap na die voël. Die volgende oomblik lê die valk bloeiend op die grond. Hy gee ’n paar rukbewegings en sterf daar voor die koning se voete. “Dis wat jy kry as jy my probeer uitdaag,” sê die vegter-koning.

Omdat hy nog steeds nie water kon drink nie, begin die grote Genghis Kahn toe maar teen die rots opklouter om hopelik met sy bakhand uit die poel bo-op die rots te drink.

Toe hy bo kom en sy hand na die waterpoel uitsteek, vries hy skielik van skok. Want daar voor hom in die vlak poeletjie lê ’n yslike dooie slang, van die heel giftigste soort. Die water wat hy wou drink, sou dodelik giftig gewees het.

“My valk het my lewe probeer red!” roep die verdwaasde koning. “En hoe het ek hom daarvoor vergoed? Hy was my vriend en ek het hom vermoor!”

Daar word vertel dat Genghis Kahn daarna in sy koninkryk die opdrag gegee het dat ouers en onderwysers kinders van kleins af moes leer om nooit in woede oorhaastig op te tree nie. Hulle moes sê: “Die groot Genghis Kahn het dit beveel, omdat hy self te laat in sy lewe die duur les van selfbeheersing geleer het.”

___________________________________

Ongeduld is ’n wilde perd wat maklik sy ruiter se nek kan breek, terwyl die donkie van geduld hom by sy bestemming sou bring: stadiger maar seker.

SOUTHEY

Beheers eers jou hartstog voor jy oor die wêreld probeer heers.

HINDOE-SPREEKWOORD

Niemand kan met mag vertrou word nie. Niemand nie.

’n Mens weet tot hoeveel dwaasheid en kwaad jy self in staat is.

Dit behoort jou te oortuig dat jy nie by magte is om mag uit te oefen oor één ander mens se lot nie.

En weet jy dit nié, kan jy verál nie met mag vertrou word nie.

CP SNOW

Stories vir die lewe-omnibus

Подняться наверх