Читать книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude - Страница 13
Inleidend
ОглавлениеWysheid is ’n praktiese vermoë. Dit is om te weet wat die gepaste woord of daad of houding vir nóú is.
In ’n gesprek oor kerkeenheid is daar eenkeer weer uitvoerig gedebatteer oor kerkordelike reëlings. In die konteks van hierdie debat vra ’n spreker: “Voorsitter, wat is nou die eintlike probleem onder bespreking?” Hy verwag ’n juridiese antwoord, met reël nommer 3.2.4 as vertrekpunt.
“Die eintlike probleem is dat ons mekaar nie lief genoeg het nie,” sê die voorsitter.
Dis woorde van wysheid.
Tydens ons verblyf in Venda raak ons bevriend met een van die bodes by die universiteit. Hy nooi ons na hulle kerk toe, ’n opslaangeboutjie in die veld. Die eerste Sondag is hy spoggerig aangetrek: swart pak met frilletjieshemp en blink gepoetste skoene.
“Seker om ons te beïndruk,” dag ons ewe arrogant.
Die volgende Sondag daag hy op met ’n vertoiingde T-hemp, ouerige jeans en oopmondtekkies. Op my vraag waar sy mooi pak vandag is, antwoord hy: “Een Sondag trek ek deftig aan, en die ander Sondag sommer só.”
“Nou hoekom?” wonder ons.
“Dan weet die rykes en die armes hulle is almal ewe welkom in die kerk. Dis mos God se huis.”
Dis ’n daad van wysheid.
Die kern van wysheid is die openheid om geleer te word, om “teachable” te wees. Vir eers deur God wat ons uitnooi om nie stang-in-die-bek ons eie weg te volg nie. Maar dan ook die ontvanklikheid dat ander ons kan leer, want ’n bode verstaan partykeer meer van teologie as die doktor in sistematiek.
Wie ’n oormaat vertroue het in hul eie insig, is eiewys en koppig. ’n Kerk met kopiereg op die waarheid is sektaries. Geen wonder die wyse Jakobus waarsku dat ons nie almal leermeesters moet wees nie; liewer gou om te luister en stadig om te praat.
Daar is geen kortpad na wysheid nie. Dit vra nie geleerdheid nie, maar ondervinding. Want ons word deur die lewe self ingeoefen in goeie begrip en fyn aanvoeling.
Die volgende groepie verhale probeer iets vertel van die dikwels ontwykende deug van lewe-met-insig.
Piet Naudé