Читать книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude - Страница 16

8 Lincoln en die kwaai brief

Оглавление

In die tyd toe Abraham Lincoln president van Amerika was, was die iesegrimmige Edwin Stanton sy oorlogsekretaris. Die druk van die Burgeroorlog het Stanton se humeur verder as gewoonlik uitgerafel en sy tong nóg skerper gemaak.

Veral een generaal het Stanton uitermate geïrriteer. Eendag kla hy weer by die president oor die man se onnoselheid. “Hoekom skryf jy nie vir hom ’n brief waarin jy sê presies wat jy van hom dink nie?” vra Lincoln. Stanton was effe verbaas dat die vredeliewende president so iets sê, maar het gedink dat ook hy dalk aan die einde van sy geduld met die man was.

Stanton is huis toe en in die brief wat hy daardie aand geskryf het, het hy goed in die generaal se karakter ingeklim. Daar is min doekies omgedraai om die skerpheid van sy woede te versag. Die volgende oggend lees hy die brief vir president Lincoln voor. “Daar’s hy!” sê Lincoln. “Jy het hom lekker die waarheid vertel! “

Baie tevrede met sy skryfsel stap Stanton uit.

“Waarheen gaan jy nou met daardie brief?” roep Lincoln hom agterna.

Stanton is sommer weer geïrriteerd: “Ek gaan dit pos, natuurlik!”

“Maar jy is seker laf!” snuif die president. “As jy afgekoel het, gaan jy mos jammer wees dat die man dit net só gelees het. Kom gooi dit hier in die vuurherd. Jy het gisteraand ’n lekker tyd gehad toe jy dit geskryf het. Beskou dit nou as beloning vir die moeite om ’n ander, hofliker, een te skryf. As ék dit nie aanhoudend doen nie, sou ek sekerlik nie president geword het nie, en dit beslis nie nou nog gewees het nie …”

___________________________________

Een dag se selfbeheersing kan jou honderd dae se selfverwyt spaar.

CHINESE SPREEKWOORD

Moenie jou humeur verloor nie; niemand gaan jou daarna help soek nie.

ROY B ZUCK

Die beste beskerming teen die gevolge van jou woede is om die alfabet saggies op te sê in plaas daarvan om die letters in te span om jou boosheid mee uit te druk.

SENECA

Stories vir die lewe-omnibus

Подняться наверх