Читать книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude - Страница 18

10 ’n Gratis skat?

Оглавление

’n Sterwende boer was bevrees dat hy sy seuns in hul grootwordjare te veel bederf het. Hulle was nou nie juis die hardwerkendste jong boere in die omgewing nie. Toe besluit hy om aan hulle ’n boodskap na te laat wat hulle nie sou vergeet nie.

Hy het hulle geroep en gesê: “My seuns, ek gaan binnekort sterf. Ek wil hê julle moet weet dat daar ’n skat in my wingerd begrawe lê. As julle diep genoeg en op die regte plek spit, sal julle dit ontdek.”

Kort daarna is die pa oorlede, en dadelik het die seuns met graaf en pik die wingerd ingevaar. Elkeen se kop was vol drome oor die groot skat wat hulle daar sou vind. Hulle het die stuk land van kant tot kant deurgespit en omgedolwe op soek na die skat. Oor en oor het hulle dieselfde prosedure gevolg tot daar nie meer ’n stukkie grond was wat nié omgeploeg was nie.

Hulle het niks gevind nie.

Omdat die grond egter so deeglik omgespit is, het dit daardie jaar ’n druiweoes gelewer soos nog nooit tevore nie.

So het die boer sy seuns geleer dat harde werk gewoonlik nodig is om welvaart te bekom.

En dat ’n skat soms anders lyk as wat ’n mens verwag …

___________________________________

Mense was op ’n tyd so primitief dat hulle gedink het ’n mens kan nie ryk word sonder om hard daarvoor te werk nie.

WILLIAM BARCLAY

Stories vir die lewe-omnibus

Подняться наверх