Читать книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude - Страница 11

5 Saai saadjies van insig …

Оглавление

In die ou, ou tyd het daar ’n ryk sultan in Bagdad gewoon. Toe daar vir hom ’n seun gebore word, het hy ’n groot feesmaal gehou. Al die mense uit die adelstand het dit bygewoon en die duurste geskenke vir die prinsie saamgebring.

Een wyse ou man het ook daar opgedaag, maar sonder ’n present. Toe hy opmerk dat die sultan hom vraend aankyk, verduidelik hy: “U Majesteit, die prins ontvang vandag baie kosbare geskenke. Ek kon nie een bekostig nie. Maar my geskenk is dalk die kosbaarste … Ek belowe om, wanneer die prins eendag groot genoeg is, elke dag na die paleis toe te kom en vir hom stories te vertel: die verhale van ons volk se helde, van die wyses, die goeies van alle lande. Vandat hy kan verstaan totdat hy ’n volwasse man is, sal ek aanhou met vertel. As hy dan eendag oor ons regeer, kan u seker wees dat hy wys en eerlik en regverdig sal wees. ’n Mens leer uit ander se verhale.”

Die ou man het woord gehou. Jaar vir jaar het hy die prins se verbeelding vasgegryp met sy verhale uit die geskiedenis, met sy stories en sprokies …

Teen die tyd dat die prins sultan geword het, was sy karakter gevorm deur die morele waardes in die ou man se verhale. Lank ná die ou storieverteller se dood was die jong sultan steeds bekend vir sy wysheid en geregtigheid.

In Bagdad is daar vandag nog ’n monument vir dié sultan, met die inskripsie: Sy insig en goedheid was die gevolg van die saadjies wat die wyse ou man met sy stories in hom gesaai het …

Stories vir die lewe-omnibus

Подняться наверх