Читать книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude - Страница 4

Die storie agter dié stories

Оглавление

My oupa aan moederskant, genoem Piet-Hoek Botha (na die familieplaas in die “hoek” van die Kangovallei naby Oudtshoorn), het ’n groot vormende invloed op my gehad. Sy afkeer van grootdoenerigheid het ’n blywende indruk gelaat. By terugskoue verstaan ek hoekom. Hy het die fundamentele lewenswaarheid van eenvoud self geleef en dit met vertellings en stories by my ingeskerp.

So sou hy moedswillig sy koffie uit die piering drink as deftige mense kom kuier. “Pasop vir grêndgeit, Piet,” sou hy vir my sê, “’n mens verstik daarin.” En dit is nie uit suinigheid gesê nie – hy was later vermoënd en het ’n oop hand gehad – maar uit respek vir aardsheid en eenvoud. Ek hoor hom in die voorhuis mymer: “Al vlieg ’n voël bo in die wolke; hy pik nog sy kos op die grond.”

Vir aansit en huigel had hy geen tyd nie. “Pasop as jy by die vóórbidders gaan eet. Onder die lang tafelgebed loer hulle vir die grootste stuk vleis in die bak.” En as hy die vernames sien verbyloop, het hy soms skerp opgemerk: “Al groei ’n boom hoe hoog – onder lig ’n hond sy been teen die stam.”

Nou het oupa Piet nie geleerdheid gehad nie – net standerd twee gemaak, met ’n karige kennis van Ingels. Maar van wysheid en deugsaamheid “wis” hy. Op my voorneme om op Stellenbosch te gaan studeer, het hy gereageer: “Dis goed dat jy verder leer. Niemand kan dit van jou wegneem nie. Onthou net, ek was al bitter teleurgesteld in mense met geleerdheid.”

Later sou mense se filosofiese besinning oor deugde en moraliteit oupa Piet se patroon bevestig. Deugsaamheid is nie iets waaroor jy in elke situasie moet “besluit” nie. Dit hang saam met jou “karakter”, met wie jy IS. Lewenswaardes word die beste gevorm deur die na-leef van deugdelike mense as modelle en voorbeelde – hetsy werklike of fiktiewe mense. En dit word die maklikste oorgedra deur stories, vertellings spreuke, sprokies, legendes, fabels, anekdotes – almal “splinters van verhale” (Lyotard) waarin kennis van die lewe oorgedra word.

Waarom “werk” ’n storie?

Dit werk omdat jy mense nie in wysheid en deugde in kan argumenteer of preek nie. Jy oefen die wysheid totdat dit gewoonte word. Omdat jy in die huis van wysheid “woon”, tree jy “gewoon” so op!

Stories werk omdat dit die leser of hoorder intrek in die wêreld van die verhaal. Jy word meegesleur om die “punt” van die storie te “sien” en dan – hopelik – daarvolgens te lewe.

Dit werk omdat elke mens sélf ’n storie het. En wanneer ’n verhaal wat ons hoor of lees, óns verhaal kruis, bestaan die moontlikheid dat ons nuut na onsself sal kyk. Ons “sien” anders. Die oortuigingskrag van die verhaal laat ons anders dink en doen.

Stories werk, want waar mense hul verhale vir mekaar vertel – veral in ons land met sy geskiedenis van vreemdelingskappe – word nabyheid, bekendheid, rapport geskep. Dit werk omdat verhale verlede, hede en toekoms aan mekaar kan bind. Stories laat ons onthou; dit gee ons moed; dit laat ons hoop.

Dis dan ook geen wonder nie dat verhale so ’n kardinale rol speel in godsdienstige vorming. In die Joods-Christelike tradisie is die tradisieproses self grootliks verhalend. Dít sien ons in die talle verhale en wysheidsliteratuur in die Ou Testament. Dit kom ook na vore in die Evangelies as vier verhale oor Jesus. En Jesus se eie vertelstyl in die gelykenisse bevestig dat verhale draers is van “waarhede” en wysheid. Dit vestig ook die kerk as “vertelgemeenskap” waar dié verhale met mekaar gedeel word. Hier word ons eie lewensverhale gevorm en geslyp deur die Bybel se verhale. In die oorvertel van stories word kinders Christenskap “geleer”. Hulle leer die grammatika van geloof wat lewe. Hier verander die Christusverhaal ons om onsself te sien soos God ons sien (Luther); en om ander te sien soos God hulle sien.

Dat ons in Suid-Afrika meer “goeie mense” nodig het wat “ordentlik” sal optree, hoef nie verduidelik te word nie. Dis dalk tyd om weer te bid soos ons jongste dogter toe sy nog ’n dogtertjie was (by Ouma geleer!): “Here, sit vanaand ’n engel by elke deur en venster om slegte mense uit te hou.”

Hoeveel “slegte” mense behoort nie aan sindikate nie?

Hoeveel “slegte” mense beplan nie rekenaarbedrog nie?

Hoeveel “slegte” mense se werk is roof? Of se tydverdryf molesteer en verkrag?

Dit wil lyk asof ons jong demokrasie weens ’n gebrekkige moraliteit verbrokkel. Ons het – sáám met strukturele hervorming – goeie, deugdelike mense dringend nodig.

Watter deugde sou ons graag in ons samelewing wou sien?

Dit het tradisie geword om van sewe deugde te praat. Vir eers is daar die vier klassieke of kardinale deugde uit die Griekse filosofie: wysheid, regverdigheid, moed en selfbeheersing. Christelike teoloë het die drie deugde van geloof, hoop en liefde hierby gevoeg, maar terselfdertyd die klassieke deugde radikaal hervertolk vanuit die liefde vir God. ’n Mens kan hierby ook ’n paar moderner lewenswaardes voeg: vergenoegdheid, vriendskap, gasvryheid, aanvaarding, deernis, moed, integriteit asook gebed, vergifnis, genade en, les bes, ’n positiewe lewensgesindheid … Op die koop toe kry lesers ook ’n skeppie wysheid spesial vir pa’s en oupas, ma’s en oumas.

Hierdie omnibus van Stories vir die lewe kom uit verskillende agtergronde en tradisies. Party sal vir die lesers bekend wees. ’n Spesifiek Christelike deugdeboek is dit nie … ook nie ’n teologiese besinning oor die morele nie. Dié moet nog hier te lande met eg Suid-Afrikaanse voorbeelde geskryf word. Tog kom hier “insig vir die lewe” na vore. Al verteenwoordig die bronne waaruit die stories geneem is, ’n wye verskeidenheid kulture en oortuigings, illustreer al die verhale lewenswaardes waarmee Christene hulle kan vereenselwig.

Stories vir die lewe is ’n boek vir lekkerlees en nadink.

Dit kan gebuik word deur enigeen wat ’n preek of ’n praatjie of ’n toespraak moet hou en illustrasiestof soek om ’n standpunt op te kikker en vas te maak in die hoorder se geheue.

Dis vir skoolhoofde en klasonderwysers, vir leiers van groepe of vergaderings, wat ’n luisteraar-vriendelike aanknopingspunt nodig het.

Dis vir ouers wat hulle kinders stewige, tydlose waardes wil leer: “Daar’s mos ’n storie wat dit mooi verduidelik …”

Hier word die leser nie one minute wisdom (De Mello) gewaarborg nie. Wysheid as geoefende gewoonte is ’n proses van reframing (Capps) wat, soos goeie wyn, mettertyd beter word.

Hier is stories vir anders lewe.

Miskien met ’n knippie ongewone ordentlikheid?

Piet Naudé

Stories vir die lewe-omnibus

Подняться наверх