Читать книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude - Страница 14

6 Eerste dinge eerste

Оглавление

’n Kenner op die gebied van tydsbestuur het ’n klomp studente toegespreek. As illustrasie van ’n belangrike punt haal hy ’n wyebek-pot onder die kateder uit en begin tien groterige klippe daarin pak. Toe daar nie nog een kan ingaan nie, vra hy: “Die pot is nou vol, nè?”

“Ja,” koor die klas.

“Regtig?” vra die dosent en buk onder die kateder in om ’n emmertjie vol los gruis uit te haal. Dié gooi hy tussen die klippe in en skud die houer totdat dit die spasies tussen die groot klippe mooi gevul het. “Is die houer nóú vol?” vra hy.

Die hoogs intelligente groep besef dadelik dat dit ’n vangplek is en sê: “Waarskynlik nie!”

“Reg.” En daarmee duik die dosent weer na onder en kom te voorskyn met ’n houer vol sand. Dié gaan toe ook nog maklik in die pot in. Weer vra hy: “Is die pot nou heeltemal vol?”

“Nee!” sê die slimmes.

“Julle is weer reg,” sê die dosent terwyl hy water tussen die klippe en gruis en sand ingooi, totdat die houer werklik tot bo toe vol is. Toe kyk hy na die klas en vra: “Wat is die punt van hierdie illustrasie?”

Verskeie hande gaan op. “Ja?” vra die dosent vir die slimste van die yweriges.

“Dit illustreer dat ’n mens – al is jou werkskedule hóé vol – altyd nog iets om te doen kan inprop.”

“Verkeerd!” lag die dosent. “Die groot klippe simboliseer die belangrike dinge in die lewe: jou geliefdes, jou vriende, jou drome, jou gesondheid, jou geloof, ’n waardige doel vir jou lewe, tyd vir jouself … Sê my, sou ons al die groot klippe kon inkry as ons eerste die gruis en die sand en die water ingegooi het?”

“Nee,” lag die studente, wat nou begin verstaan waaroor dit gaan.

“Nou ja, sorg dat julle vir die res van julle lewe onthou: As jy nie éérste aan die belangrikste dinge in jou lewe aandag gee nie, sal jy nooit daarby uitkom nie. Jou lewe sal gevul bly met onbelangrike detail.”

___________________________________

Hy wat ander ken, is geleerd.

Hy wat homself ken, is wys.

LAO-TSE

Vergeet daarvan om te dink: Ek ken myself. ’n Mens se goeie dunk van jouself is die laaste illusie waarvan jy afstand doen.

OSWALD CHAMBERS

Ag, in die wêreld is daar maar een probleem, net een: hoe om aan die wêreld weer sin te gee; hoe om aan mense weer geestelike onrus terug te gee; hoe om iets soos ’n Gregoriaanse gesang op hulle te laat neerdou en hulle met geestelike sin te vervul.

Van pret en politiek, balansstate en blokkiesraaisels kan ’n mens nie lewe nie; jy kán nie.

ANTOINE DE SAINT-EXUPÉRY

Stories vir die lewe-omnibus

Подняться наверх