Читать книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude - Страница 17

9 Een bondel hout

Оглавление

’n Fabel van Esopus

’n Wyse koning het drie edelmanne aan sy hof gehad wat elkeen op sy eie baie goed en gaaf was, maar wat gedurig met mekaar baklei het en net nie kon saamwerk nie. Die koning het besef dat hulle nie veel vir sy koninkryk kon beteken solank hulle so verdeeld was nie.

Toe bedink hy ’n plan om hulle ’n les oor samewerking te leer. Terwyl hulle eenkeer saam met die koning op reis was, het dit bitter koud begin word teen die hoë berg waarteen hulle uitgery het. Hulle wou ’n vuur aan die brand steek, maar daar was nêrens hout nie. Tot hul verbasing haal die koning toe ’n bondel hout – vasgemaak met ’n tou – uit sy bagasie. Net reg vir vuurmaak. Hulle tande het al op mekaar geklap. Toe vra die koning: “Wie van julle kan die bondel deurbreek in kleiner stompies sodat ons vinnig kan vuurmaak?”

Omdat elkeen teenoor die ander wou bewys hoe sterk hy is, en omdat nie een van die drie met mekaar wou praat nie, het elkeen op sy beurt probeer om die hele bondel alleen oor die knie te breek. Natuurlik kon nie een dit regkry nie.

Die koning was al byna verkluim, toe sukkel hulle nog altyd. “K-k-kan julle nie miskien aan ’n plan dink hoe julle mekaar k-k-kan h-h-help nie?” bibber die koning. Ten einde raad loer die drie so onderlangs na mekaar en besef skielik al drie gelyk wat die oplossing is. Vinnig maak hulle die bondel hout los, verdeel dit in drie hope, en elkeen begin sy klompie houtjies een-een oor sy been breek. In ’n japtrap was die hele bondel hout in kort, bruikbare stukkies opgebreek en kon die vuur begin knetter.

Deur saam te werk het hulle hul almal se lewe gered. Die koning het tevrede geglimlag. Dit was nie nodig om die les uit te spel nie. Dit is goed aan hulle geïllustreer. Van daardie dag af was die drie edelmanne goeie vriende, en saam was hulle ’n formidabele mag in die koninkryk.

___________________________________

Samewerking en wysheid is bloedbroers.

CONFUCIUS

Wysheid is ’n pêrel wat die maklikste gevind word in kalm waters en onder ’n helder hemel.

WILLIAM COWPER

Jesus se gehoorsaamheid aan sy Vader was nie bloot nederinge onderwerping nie – dit was aksie; dit was volkome samemerking met sy Vader.

JOHN VINCENT

Stories vir die lewe-omnibus

Подняться наверх