Читать книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude - Страница 39

29 Wat meer wil jy hê?

Оглавление

Een lieflike dag het die kapitalis langs die kaai gaan stap toe hy ’n visserman sien wat uitgestrek langs sy boot lê en rustig sy pyp rook.

“Hoekom is jy nie uit op die see besig om vis te vang nie?” vra die kapitalis.

“Want ek wás al vandag uit en ek het al die vis gevang wat ek nodig het,” was die antwoord.

“Maar hoekom gaan jy nie weer uit en vang nóg nie?” het die kapitalis aangehou.

“En hoekom sou ek dit wou doen?” wou die visserman verbyster weet.

“Sodat jy meer geld kan maak,” was die selfversekerde antwoord. “Dan kan jy vir jou ’n groter en beter boot koop, en beter visvanggereedskap ook.”

“En wat sal ek dan doen?” het die visserman, duidelik onoortuig, gevra.

“Sjoe, dan kan jy selfs nóg meer vis vang, en selfs nóg meer geld maak.”

“Ja, maar wat doen ek dán?” het die visserman aangedring.

“Wel,” het die kapitalis gesê, “dan kan jy agteroorsit en die lewe geniet.”

“Kan jy dan nie sien nie?” het die visserman teruggekap. “Dis presies wat ek nou doen!”

___________________________________

Die meeste waarop ons in hierdie lewe kan hoop, is om tevrede te wees met wat ons het.

JOSEPH ADDISON

Ware vergenoegdheid hang nie af van wat ons het nie. ’n Bad was vir Diogenes* groot genoeg, maar ’n wêreld te klein vir Alexander.

CHARLES CALEB COLTON

* Diogenes (424-323 vC) was ’n Griekse filosoof en vriend van die wêreldheerser Alexander die Grote. Aardse besittings was vir Diogenes so onbelangrik dat hy in ’n ou bad gewoon het.

Stories vir die lewe-omnibus

Подняться наверх