Читать книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude - Страница 25

17 Die drie ringe

Оглавление

Na ’n drama van Gotthold Efraim Lessing

’n Heerser het ’n buitengewoon kosbare opaalring besit wat die wondervermoë gehad het om die draer daarvan na geregtigheid te laat streef en by God en die mense bemind te maak. In sy testament het hy bepaal dat dit altyd in sy familie moes bly. Hy het egter nie geweet aan watter van sy drie seuns om dit na te laat nie, want hy het almal ewe liefgehad. Toe maak hy die fout om die ring aan al drie te belowe, sonder dat hulle van mekaar weet.

Die koning het sy einde voel nader kom, en het besef dat hy iets moes doen om hom uit sy penarie te red. Hy laat maak toe by ’n goudsmid nog twee ringe wat identies soos die oorspronklike lyk, maar natuurlik nie die wonderkrag besit nie. Selfs die pa kon nie die egte ring van die nabootsings onderskei nie. In die geheim oorhandig hy toe aan elkeen van die drie seuns ’n ring en hou dit as die ware artikel voor.

Ná sy dood het hulle die bedrog uitgevind, en niemand kon bepaal wátter opaalring wel die besondere eienskap besit nie.

Hulle wend hulle toe na ’n wyse regter. “Ek weet ook nie watter een is die egte ring nie,” sê hy. “Miskien het julle pa self nie eens meer geweet nie. Dis net die ring wat vir ons sou kon sê, en hy kan nie praat nie …

“Maar wag, julle sê mos die ring bevat die wondervermoë om die draer daarvan na geregtigheid te laat streef en hom of haar bemind te maak by God en die mense. Nou ja, laat dít dan die beslissende faktor wees. Die twee ringe wat die draers daarvan nié tot geregtigheid en liefde aanspoor nie, is die onegtes.

“My uitspraak is: Julle sê almal dat julle die ring by julle vader gekry het. Beskou dit dus as eg. Doen dan elkeen julle bes om die egtheid van jóú ring te bewys deur regverdig te regeer en liefde te bewys: deur verdraagsaam teenoor mense en in oorgawe aan God te lewe. Dan sal dié eienskappe ook in julle nageslagte sigbaar wees.

“Gaan nou. Eendag sal julle weer voor ’n regterstoel verskyn – dié van ’n ander Regter, groter en wyser as ék. Hy sal die finale uitspraak gee.”

___________________________________

Ek sal jou ’n groot geheim vertel, my vriend: Moenie wag vir die oordeelsdag nie; die oordeel vind reeds plaas in elke besluit wat jy neem.

ALBERT CAMUS

Die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.

DIE PROFEET MIGA

’n Ydele padda het twee wildeganse gevra om hom saam te neem op hul winterreis na die suide.

“Maar jy is seker mal,” sê hulle. “Hoe dink jy moet ons jou vervoer?”

“Ek is mos nie onnosel nie,” sê die padda. “Ek het ’n slim plan bedink: Julle kan tussen julle ’n stok in julle bekke vashou, dan sal ek daaraan vasbyt en só saam-‘vlieg’.”

Die wildeganse was so beïndruk met dié plan dat hulle ingestem het en die drie is daar weg.

Die mense onder op die grond het hulle verbaas aan dié gesig. “Mensig, maar dis ’n slim plan!” roep hulle. “Wie kon so briljant gewees het om dié manier van reis uit te dink?”

Toe maak die trotse padda sy bek oop en skree, al vallende, “Dit was e-e-e-e-k … !”

ESOPUS

Stories vir die lewe-omnibus

Подняться наверх