Читать книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude - Страница 31

23 Die biskop se vrou

Оглавление

Toe die ou koning sterf, het sy windlawaai-seun by hom oorgeneem. Hy het besluit dat sy pa se ou raadgewers en amptenare nie by sy moderne regeerstyl pas nie. Hy het die staatsekretaris, tesourier en verskeie ouer adviseurs ondervra en bevind dat hulle onwaardig is om vir hom te werk. Hulle is summier afgedank en verban.

Die volgende persoon op sy agenda was die biskop. Die nuwe koning het sy bedenkings gehad of die biskop wys genoeg was om die kerk te lei. Hy het ’n boodskapper met ’n brief na die biskop se huis gestuur: “U moet oor drie dae na my paleis kom en die volgende drie vrae beantwoord: In watter rigting kyk God? Wat is ek werd? Wat dink ek? As jy hierdie drie vrae nie korrek kan beantwoord nie, word jy uit my koninkryk verban.”

Die biskop het die vrae bestudeer en sy hande in die lug gegooi. “Wat gaan met die man aan? Dis mos hopeloos onregverdig,” sê hy vir sy vrou, Ariel. “Ek het geen idee wat om op sulke lawwe vrae te antwoord nie.”

“Man, moenie jou so ontstel nie,” sê sy vrou rustig. “Ek sal gaan. Jy weet mos raaisels was nog altyd my sterk punt.”

“Hy sal mos onmiddellik weet jy is nie ek nie,” babbel die biskop senuweeagtig.

“My man, hy het jou nog nooit ontmoet nie,” kalmeer Ariel hom weer. “As ek jou klere aantrek – daardie los kleed! – en jou ampshoed opsit en my stem laer maak, sal hy niks vermoed nie!”

Dit was so ’n hopelose saak dat die biskop tot sy vrou se bisarre plan ingestem het. Toe die biskop se vrou in haar man se biskopsgewaad by die paleis opdaag, word sy dadelik na die koning geneem.

“Laat ons onmiddellik begin,” sê die koning. “In watter rigting kyk God?” Ariel glimlag met die koning en sê: “U Majesteit, ek het eers vir ú ’n vraag.” Toe stap sy na ’n kers wat voor die koning se troon brand. “In watter rigting, sou u sê, gee ’n kers lig?”

“Jy kan mos self sien – dit gee lig in alle rigtings!” antwoord die verbaasde koning.

“Nou ja, net so is God. Waar Hy kyk, is daar lig. Hy sien alles, oral. Sy heerlikheid vul die hele skepping.”

“Uitstekende antwoord!” roep die jong koning uit. “Nou vir my tweede vraag: Wat is ek werd?”

“29 silwerstukke,” antwoord Ariel sonder om ’n oomblik te aarsel.

Die koning skud soos hy lag: “Wat ’n onnosel antwoord! Ek het skatkamers vol silwer en goud. Ek besit hektare grond vol wingerd en ander kosbare produkte. 29 silwerstukke is ’n belediging!”

“Die evangelie vertel,” het Ariel saggies voortgegaan, “dat die Here Jesus vir 30 silwerstukke uitverkoop is. U is tog nie meer werd as die Here nie! Aangesien u sê dat u die Here dien en die hoogste gesag in die land het, het ek net een silwerstuk afgetrek.”

Die koning was verstom en het dié antwoord ook aanvaar: “Nou my derde vraag: Wat dink ek?”

“U Majesteit, u dink ek is die biskop, maar u is verkeerd. Ek is die biskop se vrou.” Toe haal sy die biskopmus van haar kop af en skud haar lang hare los. Die koning was geskok, maar toe bulder hy van die lag.

“Jy is ’n wyse vrou. Jy het al my raaisels reg beantwoord en my daarmee ’n bietjie nederiger gemaak. Gaan sê vir jou man hy bly die biskop. En as jy belangstel, bied ek jou ’n pos in my regering aan. Ek sien nou ek het sulke wysheid nodig …”

Stories vir die lewe-omnibus

Подняться наверх