Читать книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude - Страница 29

21 Jakob en die prinses

Оглавление

Eendag lank, lank gelede was daar ’n man wat die goedhartigheid en die wysheid vanself was. Daar was niemand met wie hy nie oor die weg kon kom nie. Jakob was sy naam. Jakob was ’n baie tevrede man. Ander het egter gedink dat hy baie rede het om ongelukkig te wees, want sien, Jakob was nie mooi nie. Dit was eers wanneer ’n mens hom leer ken het dat sy goedhartigheid en wysheid jou laat vergeet het van sy voorkoms.

Jakob en die koning van die land was groot vriende. Die koning was so beïndruk met sy wysheid dat hy hom dikwels paleis toe laat kom het om met hom te gesels. Later het Jakob so baie daar gekom dat daar spesiaal vir hom ’n kamer ingerig is.

Die paleispersoneel het baie van die nederige, vriendelike Jakob gehou. Maar met die koning se jongste dogter was dit ’n ander storie. Sy was so gewoond daaraan dat haar pa haar bederf dat sy jaloers geraak het op al die aandag wat hy aan Jakob gee.

Eendag toe hulle mekaar in die gang raakloop, sê sy katterig vir Jakob: “My pa sê jy is die wysste man in die hele koninkryk. Maar as dit so is, hoekom bewaar God dan soveel wysheid en kennis in so ’n … onindrukwekkende houer soos jou liggaam?”

Jakob was ’n oomblik uit die veld geslaan. Toe antwoord hy met ’n teenvraag: “Sê my, het jou pa ’n wynversameling?”

“Jy kan nie so slim wees soos hulle sê nie,” antwoord die prinses snipperig. “Almal in die land weet tog dat my pa ’n beroemde wynkenner is. Hy besit die beste kelder in die land.”

“Waarin stoor hy dié wonderlike wyn in sy kelder?” vra Jakob.

“In kruike van klei, natuurlik.”

“Kleikruike!” lag Jakob. “Ag, verskoon my dat ek lag, Prinses. Maar dit verbaas my dat ’n man met u vader se rykdom sy wyn in kleikruike aanhou. Ook eenvoudige mense soos ek stoor ons wyn in kleikruike. Ek het gedink dat koninklikes hul wyn in iets meer elegants – soos silwerkruike – sal berg.” En lag-lag stap Jakob weg.

Die prinses besluit daar en dan dat hulle nie mag afsteek by ander adellikes nie. Dus reël sy met die keldermeester – wat moet luister na prinsesse – om al haar pa se wyn in silwerkruike te laat gooi.

Nie lank daarna nie nooi die koning ’n klomp mense na ’n fees by die paleis. Hy laat die beste kos voorberei en sy beste wyn uit die kelder word voorgesit. Maar toe die gaste die koning se wyn proe, moet hulle skielik agter hulle servette wegduik om hul skok weg te steek. Want die wyn proe aaklig: vrank en suur.

Maar ten spyte van hul hoflike pogings kom die koning agter dat iets skort. En toe hy self proe, is daar konsternasie. Hy eis onmiddellik ’n verduideliking van sy wynmaker. Dié verwys hom na die keldermeester. En hy wys ’n vinger na die prinses en haar bevel om die wyn in silwerkruike te gooi. Die koning was briesend en sy dogter moes voor sy tafel verskyn en die gaste om verskoning vra.

Ná die fees storm die prinses by Jakob se kamer in. “Hoekom het jy my so mislei? Jy het mos geweet wyn word suur in silwerhouers!”

“Ek is regtig jammer dat jou pa so kwaad geword het,” sê Jakob, “maar ek moes op ’n manier aan jou demonstreer dat God soms aan die onbelangrikste en selfs lelikste mense die duur geskenk van wysheid gee.

“Wysheid, soos wyn, word die beste bewaar in eenvoudige houers.”

Stories vir die lewe-omnibus

Подняться наверх