Читать книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude - Страница 27

19 ’n Barmhartige president

Оглавление

Gedurende die Amerikaanse Vryheidsoorlog is ’n tienerseun so aangegryp deur die vryheidsideale van president Abraham Lincoln dat hy by die Unioniste aangesluit het.

Die seun was nog baie jonk, en toe hulle die eerste keer onder geweervuur deurloop, het hy so bang geraak dat hy weggehardloop het.

Hy is gearresteer, verhoor, skuldig bevind aan hoogverraad en veroordeel om voor ’n vuurpeloton te sterf.

Sy ouers het ’n pleitbrief aan die president geskryf. Toe Lincoln die feite hoor en ook hoe jonk die seun maar was, het hy die doodsvonnis teruggetrek en aan die kind volle presidensiële vryspraak toegestaan.

In sy amptelike verslag oor hierdie saak het Lincoln onder meer geskryf: “Ervaring het my geleer dat ’n mens ’n jong seun nie juis moed en dapperheid leer deur hom dood te skiet nie!”

Aan die einde van die oorlog, toe dit duidelik was dat Lincoln se Unioniste sou wen – só lui ’n ander staaltjie oor Lincoln – het ’n joernalis hom gevra hoe hy die suidelike state se rebelle sou behandel. “Asof hulle nooit weggebreek het nie,” was Lincoln se antwoord.

“Maar is dit nie veiliger om jou vyand te vernietig nie?” vra die onthutste verslaggewer.

“Heeltemal reg,” sê Lincoln. “’n Mens vernietig mos jou vyande as jy vriende van hulle maak!”

___________________________________

Hy wat ander nie kan vergewe nie, breek die brug af waaroor hy binnekort self moet loop.

GEORGE HERBERT

Stories vir die lewe-omnibus

Подняться наверх