Читать книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude - Страница 38

28 Tel jou seëninge

Оглавление

’n Goeie, maar arm vrou het huilend by haar rabbi kom raad vra: “Ek en my man en my kinders moet in een vertrek lewe, en ons val behoorlik oor mekaar.”

“Koop ’n paar hoenders,” het die rabbi aangeraai. Die vrou was verstom, maar het nogtans so gemaak. Maar ’n tydjie later is sy terug, nog ongelukkiger: “Rabbi, die hoenders kloek en skrop en die kinders skree en my man sê ek is aan die mal raak!”

“Koop ’n bokooi,” sê die wyse rabbi. Die vrou het in trane uitgebars, maar tóg ’n bok gaan koop.

Net die volgende dag is sy terug: “Rabbi, u raad vra te veel van my. Ek is nie heilig genoeg nie.”

“Ek is jammer,” sê die rabbi. “Verkoop die bok en raak ontslae van die hoenders.”

Daardie sabbat, ná die diens, kom bedank die vrou die rabbi: “Dít was nou goeie raad. Sonder die bokooi en die hoenders is die lewe wonderlik. Ons geniet die stilte en die baie ruimte. Dit het nog nooit so goed met ons gegaan nie, dank God.”

___________________________________

Snaaks dat ons so gemaak is dat ons eintlik net baie gelukkig kan wees in kontras met ongelukkigheid. Ons is skynbaar gelukkiger in teenstelling met hoe sleg dinge was, as met hoe goed dinge is.

SIGMUND FREUD

Stories vir die lewe-omnibus

Подняться наверх