Читать книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude - Страница 40

30 Wie se erfporsie is dit?

Оглавление

’n Jong paartjie het oornag miljoenêrs geword toe ’n veraf familielid hulle ’n fortuin laat erf. Hulle was stomgeslaan, en het nie geweet hoe om die spul geld te hanteer nie, daarom het hulle die dominee vir raad gaan vra.

“Die fortuin is besig om ons te vernietig,” vertel hulle hom. “Ons was altyd so gelukkig. Ons is eenvoudige mense met eenvoudige behoeftes. Nou bekommer ons ons dood oor hierdie klomp geld. Wat moet ons daarmee maak?”

“Gee dit weg,” sê die dominee. En toe hulle teëskop: “Julle het gesê dis besig om julle te vernietig; gee dit weg.” Die paartjie stem toe in om daaroor te gaan bid.

’n Week later kom hulle by die dominee en sê: “Jy is reg. Ons het oor die geld gebid en besluit om dit weg te gee. Hier is ’n lys van verdienstelike sake waarvoor ons dit wil gee. Kyk asseblief daarna en sê wat jy daarvan dink.”

Die dominee het na die lys gekyk. “Dis almal wonderlike organisasies hierdie, maar ek dink julle moet die geld hou.”

“Hoe nou?” het hulle gevra. “Ons dog jy voel ons moet dit weggee.”

“Ja,” het die dominee gesê “maar dit was toe julle gedink het die geld is julle s’n. Noudat julle weet dis nié, moet julle dit hou en reg benut. As julle dit alles gelyk weggee, sal dit hierdie organisasies nou dadelik help. Maar as julle goed daarna kyk en rentmeesters vir God is, sal dit baie langer hou en uiteindelik vir meer mense seën bring.”

___________________________________

Die kerke maak te veel van rentmeesterskap van geld, en te min word gesê oor rentmeesterskap – die verantwoordelike bestuur – van mag. Die moderne ekwivalent van vas, is die inperking van jou mag.

HARVEY COX

Stories vir die lewe-omnibus

Подняться наверх