Читать книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude - Страница 35

Inleidend

Оглавление

My ma sê van kleins af: “Pasop vir alles wat ’n ‘te’ bykry. Behalwe te-vrede.”

Vergenoegdheid is die deug van weet wanneer genoeg genoeg is. Dit is die deug van selfbegrensing, mildheid en nederigheid. Dit is iets van: “Hier stop ek vir eers. Selfs al kan ek verder.”

Vergenoegdheid behoort die wagwoord vir die wetenskap te wees: Nie alles wat kan, behoort nie.

Dis ook gepas as slagspreuk vir die Groenes en vir almal wat weet Planeet Aarde is ons enigste huis: Nie alles wat kan, hoef nie.

Dis ’n leuse ook vir ongebreidelde kapitalisme, wat behoort te weet: “The rich must live more simply so that the poor may simply live” (gespreek deur Elizabeth Ann Seaton): Nie alles wat kan, moet nie.

’n Ryk sakeman van Louis Trichardt het eenkeer ’n goeie belegging in ’n strategiese gebou laat verbygaan. Almal was verbaas oor sy terughoudenheid. “Maar jy hét mos die geld!” het hulle hom aangespoor.

“Ja,” antwoord hy toe, “maar ek kan ook net drie keer op ’n dag eet.”

Diegene wat onvergenoeg anderkant die draad loer, mis dikwels die groen gras by die huis. Só leer die verhale in dié afdeling ons. Vergenoegdheid laat jou met innerlike rus en uiterlike rustigheid. Jy hoef nie altyd op jaag te wees na die spektakulêre nie. Jy hoef veral nie te val vir die leuen wat jou dwing om dinge te koop wat jy nie wil hê nie, en om mense te beïndruk van wie jy nie hou nie (Foster).

Vergenoegdheid laat jou die buitengewone in die gewone waardeer. Dis waarvan hierdie verhale wil vertel.

Teen jou eerste indruk en maatstawwe in, sien jy: “’n Pragtige deel is vir my afgemeet. Ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi” (Ps 16:6).

Piet Naudé

Stories vir die lewe-omnibus

Подняться наверх