Читать книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude - Страница 24

16 Duur advies

Оглавление

Die groot Indiese leier Mahatma Gandhi het eendag tyd gemaak om na die probleem van ’n eenvoudige huisvrou te luister. “My seun eet so ongesond. Ek is bekommerd oor sy gesondheid. Sal u tog nie met hom praat en hom oorreed om minder suiker te gebruik nie?”

“Mevrou, kan jy asseblief volgende week terugkom en dieselfde versoek rig?”

Die moeder het ingestem en sewe dae later was sy weer by Gandhi: “Ek is nog steeds bekommerd oor my seun,” sê sy. “Hy eet steeds hopeloos te veel soetgoed. Aan vrugte en groente raak hy skaars.”

“Mevrou, ek is jammer om jou so te verontrief, maar kan jy asseblief volgende week weer met jou versoek na my toe kom?” vra Gandhi hoflik.

Die ma was baie teleurgesteld, maar het gemaak soos die mahatma vra: ’n Week later was sy weer terug met dieselfde versoek. En hierdie keer het Gandhi met die seun gesels en hom oorreed om sy eetgewoontes te verander.

“Ek is baie dankbaar dat u tyd gemaak het om met my seun te praat,” bedank die vrou hom, “maar ek kan nie verstaan waarom u wou hê ek moes drie keer terugkom om daarvoor te vra nie.”

Half verleë antwoord Gandhi: “Ek het nie besef hoe moeilik dit sou wees om self op te hou suiker gebruik nie. En ek kan tog nie met hom oor selfbeheersing praat, as ek myself nie kan beheers nie.”

___________________________________

’n Mens met selfbeheersing het meer waarde as iemand wat ’n stad inneem.

DIE SPREUKEDIGTER

Stories vir die lewe-omnibus

Подняться наверх