Читать книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude - Страница 26

18 Woorde in die wind

Оглавление

Die Middeleeuse verhaal word vertel van die jong man wat by ’n monnik gaan raad vra het: “Ek het gesondig deur skinderstories oor iemand te versprei. Wat kan ek nou daaraan doen?”

Die monnik het geantwoord: “Gaan sit ’n veer voor die deur van elke huis in die dorp neer.” Nadat die jong man so gemaak het, het hy by die monnik kom hoor of daar enigiets verder is wat hy kon doen.

“Gaan nou terug en gaan maak al daardie vere weer bymekaar,” het die monnik beveel. Dit het die jong man hewig ontstel: “Dis mos onmoontlik! Teen hierdie tyd het die wind hulle al die hele dorp vol gewaai!”

Toe sê die monnik: “Net so onmoontlik is dit om jou skinderstories terug te trek.”

___________________________________

Mense glo nie noodwendig alles wat hulle van ander hoor nie, maar hulle vertel dit darem oor, net om veilig te speel.

BERTRAND RUSSEL

’n Leuen word nie die waarheid omdat baie mense dit oorvertel nie; net so min word die waarheid ’n leuen omdat niemand dit raaksien nie.

MAHATMA GANDHI

Dié wat die waarheid ken, is nie altyd dié wat die waarheid liefhet nie.

CONFUCIUS

Stories vir die lewe-omnibus

Подняться наверх