Читать книгу Donderslag - Wilbur Smith - Страница 11
8
ОглавлениеDie tent se seil demp nie die bulderstem van binne nie. Dit dra duidelik tot waar Sean en sy wagte staan.
“Moet ek nou so wragtig bladskud en koffie drink saam met elke Rooinek wat ons vang? Ek het al genoeg werk vir tien man en dan kom dra julle vir my nóg aan. Vat hom na een van die veldkornette toe. Stuur hom Pretoria toe dat hulle hom daar opsluit! Doen met hom net wat julle wil as hy ’n spioen is, maar moet hom in hemelsnaam nie na my toe bring nie.”
Sean glimlag ingenome. Jan Paulus is sweerlik nie op sy bek geval nie. Daar is ’n stiller tussenpose terwyl Pluiskeil se stem in die tent mompel.
Dan weer die gebrul. “Se moer! Dit doen ek nie! Vat hom weg!”
Sean trek sy longe vol lug, maak sy hande bak om sy mond en roep tent toe: “Haai, jou bliksemse ou Boertjie! Is jy bang om my weer te sien of wat? Jy dink seker ek sal jou weer ’n bloedbek gee soos laas keer.”
Daar is ’n paar oomblikke van onheilspellende stilte, dan die geklater van ’n stoel wat omgeskop word, en die tentflap word oopgegooi. In die sonlig verskyn Jan Paulus, oë knipperend, diep fronsend, met die rooi hare soos ’n veldbrand om sy kop en skouers strydlustig vorentoe gekrom. Hy kyk heen en weer om te sien wie hom so beledig het.
“Hierso,” roep Sean, en Jan Paulus steek in sy spore vas. Onseker kyk hy na Sean.
“Jý!” Hy gee ’n tree nader en sê dan: “Dit is mos jy, of hoe? Sean!” En hy begin lag. Hy maak sy regtervuis oop en reik na Sean toe uit. “Sean! Allamagtig, kêrel. Sean!”
Hulle skud blad en grinnik vir mekaar.
“Kom in die tent in. Komaan, ou maat!”
Sodra hulle binne is, vra Jan Paulus: “Waar’s Katrina? Waar’s my kleinsus?”
En eensklaps verdwyn die glimlag van Sean se gelaat af. Hy gaan sit swaar op die riempiestoel en haal sy hoed af voordat hy antwoord. “Sy is dood, Paulus. Al vier jaar gelede.”
Stadig verander die uitdrukking op Jan Paulus se gesig; dit word strak en hard.
“Hoe?” vra hy.
Wat kan ek vir hom sê? wonder Sean. Durf ek hom vertel sy het selfmoord gepleeg, maar dat niemand ooit sal weet om watter rede nie?
“Koors,” sê hy. “Swartwaterkoors.”
“Jy’t ons nie laat weet nie.”
“Ek het nie geweet waar om julle te kry nie. Jou ouers …”
“Hulle is ook dood,” onderbreek Jan Paulus hom bruusk, en draai weg na die tent se wit seilwand toe. Stilte sak oor hulle neer terwyl hulle die gestorwenes onthou, die dinge waaraan hulle niks meer kan doen nie. Uiteindelik staan Sean op en gaan na die tent se opening toe.
“Dirk, kom hiernatoe.”
Mbejane stoot die seun vorentoe en Dirk kom vat Sean se hand. Sean lei hom by die tent in.
“Katrina se seun,” sê hy, en Jan Paulus kyk na die kind.
“Kom hier, boetman.” Huiwerig staan Dirk nader. Jan Paulus hurk sodat sy oë gelyk met die seun s’n is. Hy vat Dirk se gesig tussen sy hande en bestudeer hom deeglik.
“Ja,” sê hy. “Dis die soort seun wat sy sou hê. Die oë …” Sy woorde struikel en steek vas. Hy kyk nog ’n sekonde of wat in Dirk se oë. Dan praat hy weer. “Wees trots,” sê hy en kom orent.
Sean wys na die tentopening en dankbaar wikkel Dirk buitentoe na waar Mbejane wag.
“En nou?” vra Jan Paulus.
“Ek wil ’n vrypas hê deur die linies.”
“Gaan jy oorloop na die Engelse toe?”
“Ek is Engels,” sê Sean.
Jan Paulus frons ligweg terwyl hy hieroor dink. Dan vra hy: “Sal jy vir my jou woord gee dat jy nie die wapen vir hulle sal opneem nie?”
“Nee,” antwoord Sean en Jan Paulus knik – dis die antwoord wat hy verwag het.
“Ek is baie aan jou verskuldig,” besluit hy. “Ek het nie daardie keer met die olifant vergeet nie. Dis volle betaling van daardie skuld dié.” Hy gaan na sy opslaantafel toe en steek ’n pen in die ink. Hy staan gebukkend en skryf, waai die papier droog en gee dit vir Sean.
“Loop nou,” sê hy. “En ek hoop ons sien mekaar nie weer nie, want volgende keer skiet ek jou.”
“Of ek vir jou,” antwoord Sean.