Читать книгу Donderslag - Wilbur Smith - Страница 12
9
ОглавлениеDaardie middag lei Sean sy groepie oor die staal-spoorbrug oor die Tugela, deur die verlate dorpie Colenso en dan verder aan oor die vlakte. In die verte, by Chieveley-stasie, staan die Britse kamp se tente soos ’n plaat gousblomme op die grasvlakte gesaai. Nog lank voordat hy daar kom, loop Sean hom in ’n wagpos vas, beman deur ’n sersant en vier manskappe van ’n roemryke Yorkshire regiment.
“Hallo, Koos. En waar de duiwel dink jy gaan jy heen?”
“Ek is ’n Britse onderdaan,” lig Sean hulle in. Die sersant kyk na Sean se baard en gelapte baadjie. Hy kyk na die verfoeste perd wat hy ry, en die rigting waarvandaan Sean kom.
“Sê weer?” vra hy.
“Ek is ’n Britse onderdaan,” herhaal Sean in ’n aksent wat die Yorkshireman vreemd moet opval.
“En ek’s natuurlik ’n jollie Japannees,” stem die sersant opgewek saam. “Gee maar daar jou geweer, ou bul.”
Twee dae lank sit Sean gevange in ’n doringdraad-kampong terwyl die inligtingsdiens ’n kabelgram na die registrateur van geboortes op Ladyburg stuur, en op ’n antwoord wag. Twee lang dae waarin Sean deurentyd broei – nie oor hoe hy behandel word nie, maar oor die vrou wat hy gevind en liefgekry en so gou weer verloor het. Hierdie twee dae van gedwonge niksdoen kon nie op ’n slegter tyd gekom het nie. Deur elke woord wat hulle gewissel het in sy verbeelding te herhaal, deur elke aanraking van hul hande en lywe weer te voel, deur haar gesig voor sy geestesoog op te roep en elke besonderheid in te drink, brand Sean die herinnering aan haar so diep in sy wese in dat dit vir altyd daar sal bly. Al weet hy nie eens wat haar van is nie, sal hy haar nooit vergeet nie.
Teen die tyd dat hulle hom vol verskonings vrylaat en sy perde, geweer, geldsak en bagasie teruggee, het Sean hom al klaar in so ’n donker bui in gedink dat net drank of geweld dit sal kan verlig. Die dorpie Frere, die volgende stasie op die spoorlyn kus toe, kan albei hierdie dinge bied.
“Vat vir Dirk saam met jou,” beveel hy vir Mbejane. “Maak ’n kamp anderkant die dorp langs die pad, en maak ’n groot vuur sodat ek julle in die donker kan kry.”
“Wat gaan jy dan maak, nkosi?”
Sean maak aanstaltes na die smerige klein kantien toe wat Frere se dorstiges bedien. “Ek gaan soontoe,” antwoord hy.
“Kom, nkosana.” Terwyl hy en Dirk verder met die straat langs ry, besluit Mbejane hoe lank hy vir Sean gaan kans gee voordat hy hom kom haal. Dis baie jare vandat die nkosi laas so doelgerig afgesit het kroeg toe, maar daar was die afgelope paar dae baie om hom te ontstel. Hy sal tot middernag nodig hê, besluit Mbejane, dan sal hy gereed wees om te slaap.
Van die deur af kyk Sean die kantien deur. Dis ’n enkele groot kamer met ’n kroegtoonbank teen die agterste muur, en die vertrek is gemaklik vol warm lywe en die reuk van drank en sigare. Terwyl hy nog in die deur staan, steek Sean sy hand in sy broeksak en tel stilletjies sy geld – tien goue ponde is wat hy homself toelaat, meer as genoeg vir die drank wat hy beoog om te drink.
Namate hy sy weg tussen die mense deur na die kroegtoonbank toe baan, kyk hy die mans om hom deur. Meestal soldate, van ’n dosyn verskillende regimente. Kolonialers en soldate vanoor die Britse Ryk, meestal manskappe, en ’n groepie junior offisiere by ’n tafel teen die muur. Daar is ’n paar burgerlikes – seker transportryers, kontrakteurs en sakemanne – twee vroue oor wie se beroep daar geen twyfel kan wees nie by die offisiere, en ’n dosyn swart kelners.
“Wat sal dit vir jou wees, my skat?” vra die groot vrou agter die toonbank toe hy daar aankom. Sean voel geaffronteer oor hoe sy hom aanspreek, en oor haar snor.
“Brandewyn.” Hy is nie lus vir kletspraatjies nie.
“Wil jy die bottel hê, my skat?” Sy sien sy behoefte raak.
“Dit sal werk, vir eers,” stem hy saam.
Hy drink drie stywe doppe, en besef teleurgesteld dat hulle nie die gewenste uitwerking het nie. Die drank maak net sy verbeelding nog skerper, tot op die punt dat hy Ruth se gesig duidelik voor hom kan sien, in die fynste besonderhede, selfs die klein swart moesie hoog op haar wang en hoe haar ooghoeke trek as sy glimlag. Hy sal ’n beter plan moet maak om te vergeet.
Met albei elmboë nog op die toonbank en die glas in sy regterhand, leun hy agteroor en kyk weer die mans om hom deur. Hy beoordeel elkeen van hulle as moontlike bron vir afleiding, en gaan dan aan na die volgende een toe. Uiteindelik is daar net die ouens by die dobbeltafel oor.
Sewe spelers, die spel is poker, en sover hy kan agterkom, is die wedgeld maar min. Hy vat sy bottel, loop soontoe en neem stelling in tussen die kring toeskouers, agter ’n kavallerie-sersant met ’n hand vol vrot kaarte. ’n Paar hande later kort die sersant net een kaart om almal van dieselfde kleur te hê, maar hy tref dit ongelukkig met die laaste kaart. Nogtans bluf hy, stoot die wedgeld twee keer op, en verloor dit als teen twee pare oorkant die tafel. Dan gooi hy sy kaarte neer en blaas vies deur sy lippe.
“Daar gaan my laaste geld.” Hy skraap sy oorblywende paar munte bymekaar en staan op.
“Jammer, Jack … Wil iemand sy plek oorvat?” Die wenner kyk na die kring toeskouers. “’n Lekker gawe spel, vir kontant.”
“Deel daar vir my.” Sean gaan sit, plaas die bottel strategies aan sy regterkant en stapel vyf goue munte voor hom.
“Die ou het goud! Welkom.”
Sean gooi die eerste hand in, verloor in die volgende hand twee pond teen drie koninginne, wen op die derde hand vyf pond. Daarvandaan volg sy geluk min of meer dieselfde patroon. Hy speel met ’n kil doelgerigtheid, en elke keer as hy sekere kaarte wil hê, kry hy hulle.
Hoe sê die spreekwoord? Is die liefde weg, dan val die kaarte reg. Sean glimlag sonder vreugde en trek die vyf van harte om sy reeks te voltooi – genoeg om ’n ander speler se drie sewes te klop – en hark die wedgeld nader. Dit bring sy wins vir die aand op dertig of veertig pond te staan, en hy begin dit geniet.
Drie spelers het in die laaste uur onttrek, en daar is nou net vier van hulle by die tafel. “Hoe lyk dit, gaan ons die verloorders kans gee om hulle geld terug te wen?”
“Wil jy die wedgeld opstoot?” vra Sean vir die man wat die voorstel gemaak het. Hy is die enigste ander wenner, ’n groot man met ’n rooi gesig, wat na perdesweet ruik. Seker ’n transportryer.
“As almal saamstem. Minimum weddenskap vyf pond.”
“Dit pas my,” sê Sean, en die ander twee brom instemmend. Met soveel geld op die spel, is almal aanvanklik versigtig, maar mettertyd kry die spel weer sy loop. Sean se geluk neem effe af, maar tog sit hy ’n uur later met vyf-en-sewentig pond wat hy bietjie vir bietjie gewen het. Dan deel Sean ’n vreemde hand.
Die speler links van hom sit dadelik nog geld op, die ou met die perdereuk doen dieselfde, die vierde ou roep, en Sean kyk na sy kaarte. Tot sy blydskap sien hy die sewe, agt, nege en tien van klawers, en die ses van diamante. ’n Lekker reeks sommerso van meet af uitgedeel.
“Roep jou twintig en stoot nog twintig,” verklaar hy. Dit bring ’n opgewonde beroering onder die toeskouers.
“Ek roep.” Nommer Een het te min geld.
“Roep,” eggo Perdereuk en gooi sy goud in die pot.
“Ek vou.” Nommer Drie sit sy kaarte onderstebo neer en stoot hulle weg.
Sean draai terug na Nommer Een toe. “Hoeveel kaarte vir jou?”
“Ek hou wat ek het.”
Sean voel ’n ramp aankom. “En vir jou?” vra hy vir Perdereuk.
“Ek staan ook net so.”
Twee direk gedeelde hande teen sy klein reeks … Met die verspreiding van kleure, met hom wat vier klawers het, lei hy af een van hulle het seker ’n hand vol van net een kleur. Met ’n nare gevoel op sy maag besef Sean hy is in die moeilikheid, dat sy hand gaan verloor.
Hy moet vir die ander klawer gaan. Dis nog steeds nie ’n besliste wenhand nie, maar dis sy enigste kans.
“Ek sal een vat.” Hy gooi die ses van diamante by die weggooipak, en deel vir hom nog ’n kaart van die pak af.
“My beurt.” Nommer Een se gesig gloei van vertroue. “Ek stoot die maksimum – nog veertig. Dit sal julle tagtig pond kos om my te sien, kêrels. Laat ons kyk of julle die ballas het.”
“Ek sal graag wil opstoot, maar dis die maksimum. Ek roep.” Perdereuk se uitdrukking is heeltemal neutraal, maar sy voorkop glim van die sweet.
“Laat ek net sien wat’s nuut.” Sean tel sy kaarte op en skuif sy nuwe kaart se hoekie van agter die ander vier af uit. Dis swart. Hy skuif dit verder – ’n swart ses. Stadig bou die spanning in hom op, soos in ’n stoomketel wat gestook word. Hy suig ’n diep asemteug in en maak die kaart heel oop.
“Ek roep ook,” sê hy en blaas sy asem hard uit.
“Drie viers, twee koninginne … kyk of julle bliksems dít kan klop!”
Perdereuk plak sy kaarte vies op die tafel neer, sy rooi gesig vertrek van teleurstelling. “Verdomp, van alles wat kon gebeur! Ek het almal dieselfde kleur.”
Nommer Een gryns van opwinding en reik na die geld toe uit.
“Wag eers, ou maat,” sê Sean vir hom en sprei sy kaarte op die tafel oop.
“Dis net in dieselfde kleur, myne is beter,” protesteer Nommer Een.
“Kyk weer.” Sean vat aan elke kaart terwyl hy hulle aftel. “Ses, sewe, agt, nege en tien, almal klawers! Dié reeks loop jou hand onder die stof.” Hy druk Nommer Een se hande van die geld af en hark dit na hom toe, begin die munte in stapels van twintig pak.
“Jy’s uiters gelukkig vanaand,” gee Perdereuk sy mening, die teleurstelling steeds duidelik op sy gesig.
“Jip,” stem Sean saam. Tweehonderd-agt-en-sestig pond. Nie te versmaai nie.
“Snaaks hoe dit altyd op die groot hande gebeur,” gaan Perdereuk voort. “En veral as jy deel. Wat het jy nou weer gesê, watse werk is dit wat jy doen?”
Sonder om op te kyk, begin Sean die stapels ponde in sy sakke sit. Hy glimlag effe. Die perfekte einde vir ’n perfekte aand, besluit hy.
Toe hy seker is die geld is veilig, kyk hy op na Perdereuk en glimlag breed vir hom. “Nou komaan dan, boet,” sê hy.
“Met plesier.” Perdereuk stoot sy stoel agteruit en staan op.
“Dieselfde hier,” stem Sean saam.
Perdereuk loop vooruit teen die agterste trappe af na die werf toe, Sean kom agterna en dan volg die res van die kantien se mense. By die onderste trap gaan Perdereuk staan, luister na Sean se voetstappe op die houttrap agter hom. Skielik swaai hy om en slaan, sy gewig agter die vuishou.
Sean ruk sy kop weg, maar die hou vang hom tog op die slaap en hy val agtertoe teen die ander mense. Terwyl hy val, sien hy hoe Perdereuk agter onder sy baadjie in reik en ’n mes uitpluk. Die lem glim silwer in die lig wat deur die kantien se vensters val – ’n slagmes, geboë, agt duim lank.
Die skare spat uiteen en laat Sean alleen op die trappe lê, en Perdereuk kom in vir die nekslag. Met ’n aaklige geluid op sy lippe swaai hy die mes van bo sy kop af – ’n lomp, ongeoefende tegniek.
Sean is net effens disnis. Hy volg die mes se silwer beweging moeiteloos en die man se gewrig klap teen sy oop linkerhand.
Vir ’n lang oomblik lê die man bo-op Sean, sy mes-arm hulpeloos in Sean se greep, terwyl Sean sy aanvaller se krag beproef en teleurgesteld besef dis g’n uitdaging vir hom nie. Perdereuk is nou wel ’n kolos, maar die maag wat teen Sean druk is groot en pap, en die gewrig in sy hande is benerig sonder die ferm, rubberige gevoel van spier en sening.
Perdereuk begin stoei, probeer sy mes-arm loswikkel, die sweet pêrel op sy gesig en begin drup – dit het ’n onaangename olierige reuk soos galsterige botter, wat sleg met die perdereuk kombineer.
Sean vat stywer om die man se gewrig, gebruik eers net sy voorarm se krag.
“Aaarg!” Perdereuk hou op spartel. Sean span sy hele arm se krag in, hy kan sy skouerspiere voel bult.
“Liewe jirre!” gil Perdereuk toe die bene in sy gewrig kraak. Sy vingers skiet oop en die mes klater op die houttrap.
Terwyl hy die man nog vashou, kom Sean orent.
“Voertsek!” Sean gooi hom agtertoe sodat die man in die stof te lande kom. Hy haal gemaklik asem, voel kil en onaangeraak terwyl hy kyk hoe Perdereuk terugskarrel op sy knieë en sy gebreekte gewrig vashou.
Miskien is dit die man se poging om te vlug wat Sean se kop laat uithaak, of miskien is dit die drank wat hom omkrap, wat die gevoel van verlies en frustrasie vererger en dit in ’n gekke uitbarsting van waansin omskep. Skielik is dit vir Sean asof die man voor hom op die grond die oorsaak van al sy swaarkry is – dis die man wat Ruth van hom af weggevat het.
“Jou vark!” grom hy. Die man besef daar is ’n verandering in Sean en kom haastig op die been. Sy kop draai desperaat heen en weer soos hy wegholplek soek.
“Jou walglike vark!” Sean se stem slaan hoog deur van die rou emosie. Vir die eerste keer in sy lewe pak die moordlus Sean beet. Hy loop stadig op die man af, sy vuiste klem en los, klem en los, en die woorde wat uit sy mond bars, maak nie meer sin nie.
Stilte het oor die werf neergesak. In die skaduwees staan die toeskouers, yskoud in die aangesig van hierdie wreedaardigheid. Perdereuk staan ook op die plek gevries, net sy kop beweeg en geen klank kom oor sy oop lippe nie – en die heeltyd gaan Sean nader met die slingerbeweging van ’n kobra wat bakkop staan.
Op die laaste oomblik probeer die man hardloop, maar sy bene is traag en swaar van vrees, en Sean slaan hom op die bors met die klank van ’n byl wat in ’n boom in byt.
Met die val volg Sean hom, gaan sit wydsbeen op die man se bors, bulder onsamehangend met net een herkenbare woord – die vrou vir wie hy lief is se naam. In sy waansin voel hy die man se gesig onder sy vuiste breek, voel hy hoe die warm bloed op sy arms spat, op sy gesig, en hoor hy die skare se geskree.
“Hy gaan hom doodmaak!”
“Kry hom daar af!”
“Kom help my, in godsnaam – hy’s so sterk soos ’n bees.”
Hulle gryp hom, ’n arm van agter omsluit sy keel, daar is die skok toe iemand hom met ’n bottel slaan, hy voel hoe hulle lywe hom toepak.
Met mans wat aan hom vasklou, twee van hulle op sy rug en ’n dosyn ander om sy arms en bene, kom Sean orent.
“Ruk sy bene onder hom uit.”
“Trek hom plat, man. Trek hom plat.”
Met ’n groot stuwing van krag stamp Sean die mans wat aan sy arms klou teen mekaar vas, en hulle laat los. Hy skop sy regterbeen los, en die manne aan die linkerkant los ook en laat spaander. Hy reik oor sy skouers, pluk die mans van sy rug af en staan alleen. Sy bors dein soos hy asemhaal, die bloed van die sny op sy kop loop langs sy gesig af in sy baard in.
“Kry ’n skietding!” roep iemand.
“Daar’s ’n haelgeweer agter die toonbank.” Maar niemand verlaat die kring om Sean nie en hy gluur hulle aan met wildstarende oë in sy bebloede gesig.
“Jy’t hom doodgemaak!” beskuldig ’n stem hom. Die woorde dring deur die waansin, Sean se liggaam ontspan ietwat en hy probeer die bloed met sy oop handpalm afvee. Hulle merk die verandering in hom.
“Kalm nou, ou kêrel. Pret is pret, maar moord is ’n ander storie.”
“Wees net rustig. Laat ons kyk wat jy aan hom gedoen het.”
Sean kyk af na die lyf wat daar lê, en hy is verward en skielik bang. Die man is dood, hy’s seker daarvan.
“O, my God!” fluister hy, staan agteruit en vee sy oë vergeefs af, smeer net die bloed oor sy gesig.
“Hy’t ’n mes uitgetrek. Moenie bekommerd wees nie, ou maat, jy’t ooggetuies.” Die skare se bui het verander.
“Nee,” mompel Sean. Hulle verstaan nie. Vir die eerste keer in sy lewe het hy sy krag misbruik; dit gebruik om iets sonder goeie rede dood te maak – om dood te maak vir die blote plesier daarvan, om dood te maak soos ’n luiperd dit doen.
Dan beweeg die man effens; hy rol sy kop en een van sy bene skop liggies. Sean voel die hoop in hom opvlam.
“Hy lewe!”
“Gaan roep die dokter.”
Vreesagtig gaan Sean nader en kniel langs die man. Hy haal sy eie serp van sy nek af en gebruik dit om die bloed van die man se mond en neus af te vee.
“Hy sal regkom, los hom maar vir die dokter.”
Die dokter kom, ’n skraal, lakoniese man wat tabak pruim. In ’n stormlantern se geel lig ondersoek en druk-druk hy aan die beseerde terwyl hulle om hom saamdrom en hulle nekke rek om oor sy skouers te kyk. Uiteindelik staan die dokter op.
“Als reg. Julle kan hom beweeg. Dra hom na my spreekkamer toe.” Dan kyk hy na Sean. “Is dit jou handewerk?”
Sean knik.
“Herinner my dat ek jou nie kwaad maak nie.”
“Ek wou nie, dit het net sommer gebeur.”
“Is dit so?” Die dokter spoeg ’n stroom geel tabaksous in die stof in. “Kom ons kyk na jou kop.” Hy trek Sean se kop af na sy hoogte toe en stoot die swart hare uit die pad uit.
“’n Aar bygekom. Daar’s nie steke nodig nie. Was dit met ’n bietjie jodium.”
“Hoeveel, Dok, vir die ander ou?” vra Sean.
“Betaal jy?” Die dokter kyk hom vraend aan.
“Ja.”
“Gebreekte kakebeen, gebreekte sleutelbeen, omtrent twee dosyn steke en ’n paar dae in die bed met harsingskudding,” prewel hy terwyl hy somme in sy kop maak. “Sê maar so twee ghienies.”
Sean gee hom vyf. “Kyk mooi na hom, Dok.”
“Dis my werk.” En hy loop agter die manne aan wat vir Perdereuk van die werf af dra.
“Ek reken jy’t ’n dop nodig, meneer. Dis op my,” bied iemand aan. Die hele wêreld hou van ’n wenner.
“Ja,” stem Sean saam. “Ek kan doen moet ’n dop.”
Sean drink nog net daardie een. Wanneer Mbejane hom teen middernag kom haal, is dit ’n gesukkel om vir Sean op die perd te kry. Halfpad kamp toe gly Sean af en val in die pad, bly net daar lê. Dan pak Mbejane hom weer en laat hom oor die perd se rug hang, kop en arms wat eenkant afhang en bene anderkant.
“Môre gaan jy dit tien teen een berou,” sê Mbejane vermanend toe hy vir Sean langs die vuur aflaai en hom net so bebloed en met stewels en al in sy kombers toerol.
Hy is reg.