Читать книгу Donderslag - Wilbur Smith - Страница 5

2

Оглавление

Daar is die oggend weer moeilikheid toe hy vir Dirk aansê om by die waens te bly, en Sean is befoeterd teen die tyd dat hy die brug oor die Apiesrivier oorsteek stad toe. Langs hom draf Mbejane om by die perd by te hou.

Diep ingedagte draai Sean in Kerkstraat in, voordat hy die ongewone bedrywigheid om hom raaksien. ’n Groep ruiters dwing hom om sy perd na die kant van die straat toe te stuur. Sean kyk belangstellend terwyl hulle verbyry.

Burgers in ’n bont mengelmoes van tuisgemaakte en gekoopte klere ry in ’n formasie wat ’n mens seker met ’n bietjie verbeelding sou kon aansien vir ’n kolonne van viere. Maar wat Sean se nuuskierigheid prikkel, is hoe baie van hulle daar is … goeie hemel! Daar moet minstens tweeduisend wees, van seuns tot grysbaarde, elkeen belaai met bandeliere en ammunisie, en langs elke linkerknie steek ’n Mauser-agterlaaier se kolf uit sy skede. Met kombersrolle aan die saals gebind en klaterende waterbottels en kookgerei, kom hulle verby. Een ding is duidelik – dis ’n oorlogskommando dié.

Van die sypaadjie af roep vroue en ’n paar mans.

“Als van die beste, hoor! Skiet raak!”

“Kom gou terug.”

Die burgers lag en roep antwoorde uit. Sean buk af na ’n meisie toe wat langs sy perd staan. Sy wuif met ’n rooi serp en glimlag, maar Sean merk dat haar wimpers vol trane is, soos dou op grashalms.

“Waarheen gaan hulle?” Sean moet hard praat om bo die rumoer gehoor te word.

Sy kyk op en die beweging laat ’n traan losglip; dit loop teen haar wang af, drup van haar ken af en maak ’n nat kolletjie op haar bloes.

“Na die trein toe, natuurlik.”

“Die trein? Watter trein?”

“Kyk, hier kom die kanonne.”

Verbyster kyk Sean na die kanonne wat verbyrammel, twee van hulle. Artilleriste in blou uniforms met goue omboorsel sit styf en regop op die waens, en die perde beur vorentoe om die kanonne se geweldige gewig te trek. Hoë wiele wat met staal beslaan is en glinsterende brons in die sluitstukke steek af teen die kanonlope se somber grys.

“Wel, slaat my dood!” sê Sean. Dan draai hy opgewerk om na die meisie toe en gryp haar aan die skouer. “Waarheen gaan hulle? Waarheen?”

“Meneer!” Sy glip uit sy greep uit.

“Asseblief, ek is jammer, sê my tog net,” roep Sean agter haar aan toe sy in die skare verdwyn.

Hy sit nog ’n minuut of wat verward, dan begin sy brein weer werk.

Dit is dus oorlog. Maar waar en teen wie?

Geen stamopstand sal tog die mobilisering van soveel man regverdig nie. Daardie kanonne is die modernste wapens wat Sean hom kan indink.

Nee, dis die witman se oorlog.

Teen die Oranje-Vrystaat? Onmoontlik, hulle is broeders.

Dan teen die Britte? Die gedagte skok hom. En tog – en tog, vyf jaar gelede was daar sulke gerugte. Dit het voorheen gebeur. Hy onthou 1895, en die Jameson-inval. Enigiets kon gebeur het in die jare wat hy van die beskawing afgesny was – en nou het hy hom doodonskuldig hierin kom vasloop.

Hy neem vinnig sy posisie in oënskou. Hy is Brits. Gebore in Natal onder die Union Jack. Hy lyk soos ’n burger, praat soos een, ry soos een; hy is in Afrika gebore en het dit nooit verlaat nie – maar tegnies gesproke is hy ewe veel ’n Engelsman as iemand wat in die hartjie van Londen gebore is.

Sê nou net dis ’n oorlog tussen die Republiek en Brittanje, en sê nou die Boere vang hom – wat sal hulle dan met hom doen?

Beslag lê op sy waens en ivoor, dis vir seker. Hom in die tronk gooi, of dalk as spioen skiet!

“Ek moet spore maak,” prewel hy, en sê dan aan Mbejane: “Komaan, terug na die waens toe, nou dadelik.” Voordat hy nog by die brug is, verander hy egter van gedagte. Hy moet eers seker maak wat aangaan. Daar is net een persoon na wie toe hy kan gaan, en hy sal die kans moet waag.

“Mbejane, gaan terug kamp toe. Kry vir nkosana Dirk en hou hom daar, selfs al moet jy hom vasbind. Moenie met enigiemand praat nie en moenie dat Dirk met enigiemand praat nie, jou lewe hang daarvan af. Het jy dit so?”

“Ek verstaan, nkosi.”

En toe begin Sean, op die oog af ’n burger nes al die ander, stadig sy weg baan deur die skare en die drukte van waens na ’n algemene handelaar toe aan die bopunt van die stad, naby die stasie.

Sedert Sean dit laas gesien het, is die bord bo die ingang nuutgeverf in rooi en goud: I. Goldberg. Invoer en Uitvoer. Handelaar in Mynmasjinerie. Groothandel en Kleinhandel. Koopagent: goud, edelstene, velle, ivoor en natuurlike produkte.

Ondanks die oorlog, of dalk juis daarom, is meneer Goldberg se plek baie bedrywig. Die winkel is volgepak en Sean dwaal ongemerk tussen die klante deur, stilweg op soek na die eienaar.

Hy kry hom waar hy ’n sak koffiebone verkoop aan ’n man wat kennelik sy bedenkinge oor die gehalte het. Die gesprek oor die gehalte van meneer Goldberg se koffiebone teenoor dié van sy mededinger oorkant die straat raak later gekompliseerd en tegnies.

Sean leun teen ’n rak vol handelsware, stop sy pyp en kry dit aan die gang terwyl hy wag en vir meneer Goldberg in aksie dophou. Die man moes ’n advokaat gewees het, sy argument is genoeg om eers vir Sean en uiteindelik ook die klant te oortuig. Laasgenoemde betaal, tel die sak op sy skouer en loop brom-brom by die winkel uit terwyl meneer Goldberg hom natgesweet en rooi in die gesig agternakyk, ingenome met sy prestasie.

“Jy’t niks gewig verloor nie, Izzy,” groet Sean hom.

Goldberg kyk oor sy goudraambrilletjie na hom, begin onseker glimlag en dan herken hy vir Sean. Hy knip sy oë van skok, skud sy kop so vinnig dat sy kieste dril wanneer hy vir Sean wys om agter hom aan te kom na die kantoor toe. Sean volg hom.

“Is jy mal, meneer Courtney?” Goldberg wag hom ontstoke in. “As hulle jou vang …”

“Luister, Izzy, ek het gisteraand eers hier aangekom. Ek het vier jaar laas met ’n wit man gepraat. Wat de hel gaan hier aan?”

“Jy’t nie gehoor nie?”

“Nee, magtig, ek het nie.”

“Dis oorlog, meneer Courtney.”

“Dit kan ek sien. Maar waar? Teen wie?”

“Op al die grense – Natal, die Kaap.”

“Teen?”

“Die Britse Ryk.” Goldberg skud sy kop asof hy sy eie woorde nie kan glo nie. “Ons het so wragtig die hele Britse Ryk aangevat.”

“Ons?” vra Sean skerp.

“Die Transvaalse Republiek en die Oranje-Vrystaat. Ons het al klaar groot oorwinnings behaal – Ladysmith word beleër, Kimberley, Mafeking …”

“En jy is een van die ‘ons’ waarvan jy praat?”

“Ek is hier gebore, in Pretoria. Ek is ’n burger.”

“En gaan jy my verklap?”

“Natuurlik nie. Jy’s al jare lank ’n goeie klant van my.”

“Dankie, Izzy. Kyk, ek moet hier wegkom so gou ek kan.”

“Dit sal wys wees.”

“Wat van my geld in Volkskas, kan ek dit daar uitkry?”

Izzy skud sy kop meewarig. “Hulle het alle vyande se rekeninge gevries.”

“Verdomp! Godsverdomme!” vloek Sean bitter, en sê dan: “Izzy, ek het twintig waens en tien ton ivoor net hier buite die dorp – stel jy belang?”

“Hoeveel?”

“Tienduisend vir die hele spul: osse, waens, ivoor – als.”

“Dit sal onpatrioties wees, meneer Courtney,” besluit Goldberg, blykbaar teësinnig, “om met die vyand handel te dryf. In elk geval, ek het net jou woord dat dit tien ton is.”

“Hel, Izzy, ek is nie die Britse leër nie – daai hoop is maklik twintigduisend pond werd.”

“Jy wil hê ek moet dit sommerso koop, sonder dat ek dit eens gesien het, voetstoots? Nou ja, dan gee ek jou vierduisend, in goud.”

“Sewe.”

“Vier-en-’n-half.”

“Jou blikskottel.”

“Vier-en-’n-half.”

“Nee, te hel met jou. Vyf!” sis Sean.

“Vyf?”

“Vyf!”

“Nou goed dan, vyf.”

“Dankie, Izzy.”

“Plesier, meneer Courtney.”

Sean verduidelik haastig waar sy laer staan.

“Jy kan iemand stuur om dit te gaan haal. Sodra dit donker is, vat ek die pad na die Natalgrens toe.”

“Bly van die paaie af en vermy die spoorlyn. Joubert het dertigduisend man in Noord-Natal, rondom Ladysmith en met die Tugela langs.” Goldberg gaan na die kluis toe en haal vyf klein seilsakkies daaruit. “Wil jy tel?”

“Jy’t my vertrou, ek vertrou jou. Tot siens, Izzy.” Sean laat val die swaar sakkies voor by sy hemp in en laat hulle teen sy lyfband sit.

“Alles van die beste, meneer Courtney.”

Donderslag

Подняться наверх