Читать книгу Donderslag - Wilbur Smith - Страница 15

12

Оглавление

Luitenant-kolonel Garrick Courtney trek sy uniformbaadjie uit en hang hom versigtig oor die staanhanger langs sy skryftafel. Hy vat-vat aan die pers sylint waaraan die swaar bronskruis hang totdat dit nét reg sit. Sy lippe vorm die woorde op die inskripsie – Vir Dapperheid – en hy glimlag.

Die sjampanje wat hy by middagete gedrink het, laat sy brein soos ’n blink diamant in sy skedel voel, skerp en hard en helder.

Hy gaan sit, draai sy stoel kant toe en strek sy bene uit, dwars met die skryftafel langs.

“Stuur hom in, ordonnans!” roep hy, en kyk na sy stewels. Jy kan nie die verskil sien nie, besluit hy. Niemand kan met die blote oog sien watter een het vlees en been onder die gepoleerde leer nie, en watter een die houtbeen met die vernuftige enkelskarnier.

“Kolonel.”

Die stem laat hom skrik en hy trek sy bene haastig in, steek hulle onder die stoel weg. “Curtis!” Hy kyk op na die man wat voor hom staan. Tim staan netjies op aandag, kyk reg bo-oor Garrick se kop, en Garry laat hom so staan. Hy geniet dit dat hierdie groot lummel daardie twee sterk bene moet gebruik om eer aan Garrick Courtney te betoon. Laat hom staan. Garry wag, hou hom dop, en uiteindelik begin Tim vroetel en keelskoonmaak.

“Op rus!” Daar kan nou geen twyfel wees wie die mag het nie. Garry tel die briewemes van sy tafel af op en draai dit in sy hande om terwyl hy praat. “Jy wonder seker hoekom ek jou laat kom het.” Hy glimlag breed. “Wel, die rede is dat ek uiteindelik vir jou ’n opdrag het. Ek het vanmiddag saam met generaal Buller geëet.” Hy wag dat die feit insink. “Ons het die offensief bespreek. Hy wou my mening hê oor sekere planne wat hy in gedagte het … In elk geval, dis nie die punt nie. Ek wil hê jy en jou manne moet die rivier aan albei kante van Colenso verken. Kyk hierso.” Garry sprei die kaart op die tafel oop. “Daar is driwwe hier en hier.” Hy wys met die briewemes na die plekke. “Kry hulle en merk hulle duidelik. Ondersoek die pad- en spoorbrug en maak seker hulle is nog heel. Doen dit vannag. Ek verwag môreoggend ’n volledige verslag. Jy kan gaan.”

“Ja, kolonel.”

“O, Curtis,” stop Garry hom toe hy by die tentopening uit begin koes. “Dis nie nou die tyd vir foute of verskonings nie – krý daardie driwwe.”

Die seilflap val agter Curtis toe, en Garry maak sy lessenaarlaai oop en haal ’n silwer fles daaruit wat met kornalynstene versier is. Hy skroef dit oop en ruik die inhoud voor hy drink.

Teen sonop kom die Guides twee-twee en bedremmeld in die kamp aan. Sean en Saul kom heel laaste. Hulle gee hul perde vir die bediendes en sluit aan by die groep om die vuur.

“Wat’s nuus?” Tim kyk op van waar hy hurk met sy hande om ’n beker koffie geklem. Sy klere is sopnat en stoom slaan daaruit op in die vlamme se hitte.

“Hulle het die spoorbrug opgeblaas, maar die padbrug is nog heel,” sê Sean.

“Is jy seker?”

“Ons het daaroor geloop.”

“Dis ten minste iets,” brom Tim.

Sean lig sy wenkbrou skepties. “Jy dink so? Jy dink nie hulle het dalk die brug gelos juis omdat hulle wil hê ons moet daaroor kom nie?”

Niemand antwoord nie, en Sean gaan afgemat voort: “Toe ons die brûe ondersoek het, het ek en Saul bietjie anderkant die rivier ook verken. Net anderkant is daar ’n reeks koppies. Ons het onder hulle langs gesluip.”

“En?”

“Die Boere sit in daai koppies soos penne op ’n ystervark se rug. Enigiemand wat die brug helder oordag oorsteek, gaan die hel uit hom uit geskiet kry.”

“Heerlike vooruitsig,” brom Tim.

“Hmm, tog te lekker, nè? Genoeg om van te kots. Wat het julle gekry?”

“Baie water.” Tim kyk na sy nat klere. “Diep water.”

“G’n drif nie?” raai Sean teleurgesteld.

“Niks. Maar ons het ’n veerboot op die wal gekry met ’n gat in sy bodem. Dit kan die rede wees dat daar ’n drif op die kaart aangedui is.”

“Dus kan jy nou vir ons geliefde kolonel die goeie nuus gaan vertel,” sê Saul en grinnik. “Maar ek wed jou tien teen een dit sal g’n verskil maak nie. As ek moet raai, sou ek sê Buller gaan Colenso binne die volgende twee dae aanval. Net perdalks kry hy ’n paar duisend man oor daardie brug, en dan het ons ’n kans.”

Tim kyk hom swaarmoedig aan. “En die Guides sal die voortou neem …”

“Maar dis dan op die kaart gemerk,” protesteer luitenant-kolonel Garrick Courtney. Sy kop is geboë, sodat Tim die pienk kopvel kan sien deur die voortjies wat die kam in sy vaalbruin hare gemaak het.

“Ek het al drake en seemonsters op kaarte gesien, kolonel,” antwoord Tim.

Garry kyk hom aan met sy bleekblou oë. “Jy word nie betaal om grappies te maak nie, Curtis.”

“Jammer … kolonel.”

Garry frons. Curtis kan die rang na ’n belediging laat klink. “Wie’t jy uitgestuur?” vra hy.

“Ek het self gegaan, kolonel.”

“Jy kon dit in die donker misgeloop het.”

“As daar ’n drif is, sal ’n pad of ten minste ’n voetpad soontoe lei. Ek sou nie so iets misgekyk het nie, kolonel.”

“Maar in die donker … jy kon ’n fout gemaak het,” hou Garry vol. “Jy kon dalk iets misgekyk het wat in daglig duidelik sou wees.”

“Wel …”

“Juistement.” Vinnig gaan Garry voort. “Nou, die brûe. Jy sê hulle staan nog.”

“Net die padbrug, maar …”

“Maar wat?”

“Die manne wat ek gestuur het, berig dat die heuwels anderkant die rivier swaar verdedig word. Amper asof die brug aspris heel gelos is vir ’n lokval.”

“Curtis.” Garry sit die briewemes nadruklik op die kaart voor hom neer.

Sy neus is te groot vir die spasie tussen sy oë en as hy sy lippe nog tuit ook, soos nou, lyk hy soos ’n voël, besluit Tim – ’n mossie, ’n klein, bruin mossie.

“Curtis,” herhaal Garry sag. “Dit lyk my jy’t nie eintlik lus vir hierdie besigheid nie. Ek stuur jou uit om ’n taak te verrig en jy kom terug met ’n rits verskonings. Ek dink nie jy besef hoe belangrik dit is nie.”

Tjiep-tjiep, klein mossie … Tim glimlag ongemerk.

Garry raak rooi. “Byvoorbeeld, vir wie het jy gestuur om daardie brûe te verken? Ek neem aan dit is betroubare manne.”

“Hulle is, kolonel.”

“Wie?”

“Friedman.”

“Ag, die ou Joodse prokureurtjie. ’n Slim keuse, hoor, Curtis, sommer ’n bielie van ’n keuse.” Garry snuif en tel weer die briewemes op.

Liewe aarde, verwonder Curtis hom. Nou’s die kolonel nog bevooroordeeld teen Jode ook. Hierdie klein mossie is ’n wáre man.

“Wie anders het jy gestuur?”

“’n Nuwe rekruut.”

“’n Nuwe rekruut! ’n Nuwe rekruut!” Garry laat val die mes en hef sy hande op ten hemele.

“Ek het toevallig voor die oorlog saam met hom gewerk, ek ken hom goed, kolonel. Hy is ’n eersteklas kêrel. Ek sal hom bo omtrent enigiemand vertrou. Om die waarheid te sê, ek wou vir kolonel vra om sy bevordering tot sersant goed te keur.”

“En wat is hierdie held se naam?”

“Snaaks genoeg, dieselfde as u s’n, kolonel. Maar hy sê julle is nie verwant nie. Sy naam is Sean Courtney.”

Stadig, baie stadig, verander die uitdrukking op Garry se gesig. Dit raak glad, neutraal. Bleek ook, soos die lewelose, deurskynende bleekheid van ’n lyk se gesig. Alle lewe in sy oë verdof – hulle kyk binnetoe, terug na die geheime plekke van jare gelede. Die donker plekke. Hulle sien twee klein seuntjies teen ’n koppie uit klim …

Hy klim deur digte bos, jong bene sterk onder hom. Klim in diep skaduwee, met die reuk van verrottende blare en die sagte gewoer-woer van insekte om hom. Hy is natgesweet in die Natalse oggendhitte. Sy oë priem deur die digte groen blare om die bosbok wat hulle jag te sien, terwyl die hond oorywerig aan die leiband strem.

Die hond blaf een keer, en dadelik is daar die beroering van ’n groot lyf wat voor hulle uit beweeg, die kap van ’n hoef teen klip, en dan die geraas van die bok wat op loop gaan.

Die skoot, die kort knal, dan die bok wat gewond blêr waar hy in die bos lê en skop, en Sean se stem wat hoog roep, nog ongebreek: “Ek het hom. Ek het hom, eerste skoot! Garry, Garry! Ek het hom, ek het hom!”

In die sonskyn in, agter die hond aan wat hom sleep. Sean wat wild van opwinding teen die steilte af na hom toe hol met die haelgeweer in sy hand. Sean wat val, die geweer wat uit sy hande uit spat, die knal van nog ’n skoot en die slag wat Garry se been onder hom uit skop.

Hy sit op die gras, staar na sy been. Sien die klein wit beensplinters en die deurmekaar vleis en die bloed wat donker en sterk en dik soos poeding pomp.

“Ek het nie bedoel om dit te doen nie … O Here, Garry, ek het dit nie bedoel nie. Ek het gegly, sowaar, ek het net gegly.”

Garry sidder; ’n gewelddadige, byna sensuele spasma ruk deur sy hele lyf, en die been onder die tafel bewe saam.

“Is als reg, kolonel?” Tim klink besorg.

“Ek is piekfyn, dankie, Curtis.” Garry vryf sy hare terug van sy slape af. Hy het groot bles inhamme en sy haarlyn is oeserig. “Gaan voort.”

“Wel, soos ek gesê het, dit lyk soos ’n lokval. Hulle het daardie brug daar gelos omdat hulle …”

“Dis jou rol om inligting in te win, Curtis. Dis die generale staf se rol om dit te evalueer. Ek neem aan dis al wat jy te rapporteer het? … Nou goed dan, jy kan gaan.”

Hy moet nou ’n dop vat, sy hand bewe al klaar op die laai se handvatsel.

“O ja, Curtis.” Sy stem kraak van ’n droogheid in sy keel, maar hy praat verder: “Die bevordering waarvoor jy gevra het, dis goedgekeur. Maak die man ’n sersant.”

“Baie dankie, kolonel.”

“Natuurlik sal hy die gids vir die eerste aanval wees as ons ’n direkte aanval op die brug loods.”

“Kolonel?”

“Jy verstaan mos hoekom, of hoe?”

Tim het nog nooit hierdie temerige toon by die kolonel gehoor nie. Dis amper asof hy Tim se goedkeuring soek. Asof hy sy besluit probeer regverdig.

“Ek bedoel, hy ken die brug, hy was oor hom. Hy’s mos die man wat die omgewing ken, nie waar nie?”

“Ja, kolonel.”

“En per slot van sake is hy ’n sersant. Ek bedoel, ons moet iemand met ’n rang eerste oorstuur, nie sommer enigiemand nie.”

“Ek kan self gaan, kolonel.”

“Nee, ons gaan jou by die drif nodig hê.”

“Nes kolonel wil.”

“Jy sal nie vergeet nie, nè? Jy sal hom stuur?” Amper pleitend.

“Ek sal hom stuur,” stem Tim in en koes by die tent uit.

Garry pluk die laai oop en sy vingernaels krap op die growwe hout in sy haas om die fles te vind.

Donderslag

Подняться наверх