Читать книгу Donderslag - Wilbur Smith - Страница 21

18

Оглавление

Veggeneraal Jan Paulus le Roux staan op die hoogtes bo die Tugela en haal sy wye slaprandhoed af. Sy kop is kaal, omring met rooi hare – korter bo sy ore, welig aan die agterkant. Sy kopvel is glad en roomwit waar sy hoed die son afskerm, maar sy gesig is verweerd en so deur die elemente vervorm dat dit soos ’n rooi klipkrans lyk.

“Bring my perd, Hennie.” Hy praat met die seun wat langs hom staan.

“Ja, oom Paul.” En die outjie hol teen die bult af na die perdelaer toe.

Vanuit die loopgraaf by Jan Paulus se voete kyk een van sy burgers op na hom. “Die Here het ons gebede verhoor, oom Paul. Hy het vir ons ’n groot oorwinning gegee.”

Jan Paulus knik swaar. Sy stem is laag en nederig, sonder enige spoor van blydskap. “Ja, Frederik, dis ’n groot oorwinning in die Here se naam.”

Maar nie soos ek dit beplan het nie, dink hy. Buite bereik van die kanonne, byna te ver om met die blote oog te sien, verdwyn die Britse mag se laaste oorblyfsels in die vaal vertes in. As die manne net kon gewag het, dink hy bitter. Hy het dit so goed verduidelik, maar nogtans het hulle nie na hom geluister nie.

Sy hele strategie was op die brug gefokus. As sy burgers op die koppie onder die hoogtes net hulle vuur kon weerhou het totdat die Kakies eers oor die rivier gekom het. Dan sou God die vyand in hul duisende eerder as in honderde aan hulle uitgelewer het. Vasgevang in die amfiteater van die hoogtes met die rivier agter hulle, sou niemand van hulle kon ontsnap nie, nie nadat sy artillerie die brug agter hulle verwoes het nie. Teleurgesteld kyk hy af na die lokval wat hy so sorgvuldig gestel het. Van bo af kan hy die loopgrawe sien, versteek en slim geplaas sodat hulle ondraaglike vuur kon laat neerreën in die graskom waarin hy die Britse mag wou lok. Nou sal daardie wip nooit toeslaan nie, want hy weet die Britte sal nie weer terugkom nie.

Hennie kom teen die steilte uit met sy perd aan die hand, en Jan Paulus klim in die saal. “Komaan, laat ons ondertoe gaan.”

Op twee-en-veertig jaar is Jan Paulus le Roux jonk vir sy bevelspos. Daar was teenkanting in Pretoria toe hy ná ou generaal Joubert se aftrede aangestel is, maar president Kruger het vasgeskop en die volksraad moes maar verlief neem. Tien minute gelede het Jan Paulus vir die president ’n telegraafboodskap gestuur wat sy vertroue regverdig het.

Met lang stiebeuelrieme, sy massiewe lyf loslit en ontspanne in die saal, sy sambok wat aan sy pols hang en die wyerandhoed wat sy gesig beskerm, ry Jan Paulus nader om te sien wat die geveg opgelewer het.

Toe hy die koppies bereik en tussen die burgers deur ry, staan hulle in loopgrawe teen die hellings op en juig hom toe. Hulle stemme smelt saam in ’n dawerende gebulder wat van die hoogtes af eggo soos leeus wat ’n suksesvolle jag aankondig. Uitdrukkingloos bekyk Jan Paulus hulle gesigte in die verbygaan. Hulle is vol rooi stof en kruitvlekke, en sweet loop in donker strepe deur die vuiligheid. Een man met ’n beenwond gebruik sy geweer as kruk en daar is harde lyne van pyn om sy mond terwyl hy jubel. Jan Paulus trek sy perd in. “Lê plat, kêrel, is jy nou totaal besimpeld!”

Die man gryns gepynig en skud sy kop. “Nee, oom Paul. Ek gaan saam om die kanonne te gaan haal.”

Bruusk beduie Jan Paulus vir die manne wat langs die gewonde burger staan. “Vat hom weg. Vat hom na die dokters toe.” En hy ry tot waar kommandant Van Wyk vir hom wag.

“Ek het jou gesê om jou manne in te hou totdat die Kakies oorgesteek het,” sê hy sommer met die groetslag.

Van Wyk se glimlag verdwyn. “Ja, oom Paul. Ek weet. Maar ek kon hulle nie keer nie. Die jong outjies het dit begin. Toe hulle die kanonne so reg onder hulle neuse sien … Ek kon hulle nie keer nie.” Van Wyk draai en wys oor die rivier. “Kyk net hoe naby is hulle.”

Jan Paulus kyk oor die rivier. Die kanonne staan in die oopte, so naby dat hy die wielspeke tussen die doringbossies deur kan tel en die bronsdetail op die vuurmeganismes kan sien.

“Die versoeking was te groot,” las Van Wyk floutjies by.

“Tja. Dis gedane sake en ons kan dit nie met woorde ongedaan maak nie.” Grimmig besluit Jan Paulus dat hierdie man nooit weer bevel sal voer nie. “Komaan, ons gaan haal hulle.”

By die padbrug roep Jan Paulus halt en die lang ry ruiters steek vas. Hoewel dit nie op sy gesig wys nie, ruk sy maag van afsku oor wat hy sien.

“Kry hulle uit die pad uit,” beveel hy. Toe die dertig burgers afklim en vorentoe gaan om die brug skoon te maak, roep hy agter hulle aan: “Hanteer hulle versigtig, tel hulle op, moet hulle nie soos mieliesakke rondsleep nie. Dit was manne hierdie, dapper manne.” Langs hom huil die seun, Hennie, openlik. Die trane val op sy gelapte tweedbaadjie.

“Wees stil, jong,” sê Jan Paulus sag. “Trane is vir vroumense.” En hy stuur sy perd deur die nou gangetjie tussen die dooies. Dis net die stof en die son en die liddietwalms wat sy eie oë irriteer, probeer hy homself wysmaak.

Stil, sonder die triomfantelike houding van oorwinnaars, kom hulle by die kanonne en sprei tussen hulle uit. Dan klap ’n enkele skoot en ’n burger steier en gryp na ’n kanonwa se wiel vir steun.

Jan Paulus ruk sy perd om en lê plat langs die dier se nek soos hy na die donga toe jaag waarvandaan die skoot gekom het. Nog ’n skoot fluit oor sy kop, maar net toe kom Jan Paulus by die donga. Hy trek sy perd op sy agterbene in, spring uit die saal en skop die geweer uit die Britse manskap se hande uit voordat hy die vent orent pluk.

“Daar was al klaar vandag te veel doodslag, jou sot.” Hy struikel oor sy Engelse woorde, sy tong lomp van woede toe hy in die soldaat se gesig skree. “Dis oor en verby. Gee op.” En dan wend hy hom tot die oorlewende kanonniers wat in die donga skuil. “Gee oor, almal van julle!” Vir ’n lang minuut beweeg niemand, dan staan hulle een-een op en skuifel uit die donga uit.

Terwyl ’n groep Boere die gevangenes weglei, en ander begin om die kanonne en ammunisiewaens aan te haak, kom Britse draagbaardraers van tussen die bome af aangestryk. Sommer gou loop die kakiefigure en die burgers deurmekaar, soos patryshonde op soek na gewondes.

Twee van hulle, Indiërs van die mediese korps, kry ’n man wat op die linkerflank lê. Jan Paulus sien hulle het moeite met hom. Hy gee sy perd se leisels vir Hennie en gaan staan nader.

Half deurmekaar vloek die gewonde man iets verskrikliks en sit hom teë toe die twee Indiërs sy been wil spalk.

“Los my uit, julle bliksems,” sê hy en ’n swaaiende vuis tref een van hulle dat hy doer op sy bas gaan sit. Jan Paulus herken die hou en die stem, en begin hardloop.

“Gedra jou, of ek klap jou dat jy hik,” grom hy toe hy by die gewonde man kom.

Dronkerig rol Sean sy kop en probeer kyk wie daar staan. “Wie praat? Wie’s jy? Bly weg, los my uit!”

Jan Paulus antwoord nie. Hy kyk na die wonde en wil opgooi daarvan.

“Gee vir my.” Hy vat die spalke van die geskokte draers af en hurk langs Sean.

“Voertsek!” skree Sean vir hom. “Ek weet wat jy wil doen. Jy wil hom afsny!”

“Sean!” Jan Paulus gryp sy gewrig en hou dit vas terwyl Sean spartel en vloek.

“Ek sal jou vrekmaak, jou etter. Ek sal jou vrekmaak as jy net aan my been raak.”

“Sean! Dis ek. Kyk na my!”

En stadig begin Sean ontspan, sy oë kry rigting. “Dis jy … dis sowaar jy,” prewel hy. “Moenie dat hulle … moenie dat hulle my been vat nie. Nie soos hulle met Garry gemaak het nie.”

“Wees stil, of ek moker jou oor die kop,” grom Jan Paulus. Nes sy gesig, is sy hande groot en rooi, met eelterige vingers soos worse, maar nou gaan hy so sagkens te werk soos ’n ma met haar kind. Uiteindelik, terwyl hy die enkel vashou, kyk hy na Sean.

“Hou nou vas, ek moet hom reguit trek.”

Sean probeer glimlag, maar sy gesig is grys onder die gevegsvuil, en sweet pêrel soos ’n uitslag van klein blasies op sy vel.

“Moenie so baie praat nie, Boertjie. Doen dit!”

Diep in die geskeurde vlees kraak been teen gebreekte been en Sean snak na sy asem. Elke spier in sy lyf ruk saam, en ontspan dan toe hy flou word.

“Ja,” hyg Jan Paulus. “Dis beter.” En nou wys sy gesig vir die eerste keer meegevoel. Hy maak klaar met die verbande, en vir nog ’n paar sekondes bly hy langs Sean se bewustelose lyf hurk. Dan fluister hy so sag dat die twee draers nie kan hoor nie: “Slaap lekker, boet. Mag die Here jou been spaar.”

En hy kom orent, alle tekens van jammerte of hartseer weer agter die rooi klipwand van sy gesig verberg.

“Vat hom weg,” beveel hy, en wag terwyl hulle die draagbaar optel en daarmee wegstrompel.

Hy gaan na sy perd toe, loop effens sleepvoet deur die gras. Uit die saal kyk hy nog een keer suide toe, maar die twee draers en hulle vrag het al tussen die mimosabome verdwyn. Hy gee sy perd die spore en volg die lang optog van waens, gevangenes en kanonne terug na die Tugela toe. Die enigste geluid is die rytuig se geklingel en wawiele wat klaend kners.

Donderslag

Подняться наверх