Читать книгу Donderslag - Wilbur Smith - Страница 6

3

Оглавление

Teen die tyd dat Sean sy bediendes klaar betaal het, is daar twee ure se daglig oor. Hy stoot die klein hopie ponde oor die wa se afgeslane agterklap na die laaste man toe en gaan dan deur die komplekse afskeidsritueel – die bladskud en handeklap, die herhaling van formele frases – dan staan hy uit sy stoel uit op en kyk in die kring rond. Hulle hurk geduldig, hou hom met strak gesigte dop, maar tog sien hy daarin die weerspieëling van sy eie hartseer oor die afskeid. Dis manne met wie hy saamgeleef het en baie swaar tye deurgemaak het. Dis nie maklik om hulle nou te verlaat nie.

“Dis verby,” sê hy.

“Yebo, dis verby,” stem hulle in ’n koor saam, maar niemand roer nie.

“Gaan nou, magtig.”

Stadig staan een van hulle op en vat sy bondeltjie besittings bymekaar: ’n karos, twee assegaaie, ’n ou hemp wat Sean vir hom gegee het. Hy balanseer die bondel op sy kop en kyk na Sean. “Nkosi!” sê hy en lig sy vuis in ’n saluut.

“Nonga,” antwoord Sean. Die man draai weg en loop uit die laer uit.

“Nkosi!”

“Hlubi.”

“Nkosi!”

“Zama.”

Dis ’n ererol van lojaliteit – Sean sê hulle name vir die laaste keer, en een-een verlaat hulle die laer. Sean staan en kyk hoe hulle in die skemer wegloop. Nie een van hulle kyk om nie en geen twee van hulle loop saam nie. Dis oor en verby.

Afgemat draai Sean terug na die laer toe. Die perde is gereed – drie met saals, twee pakperde.

“Ons eet eers, Mbejane.”

“Die kos is gereed, nkosi. Hlubi het gekook voordat hy weg is.”

“Komaan, Dirk. Aandete.”

Tydens die maal is Dirk al een wat praat. Hy klets vrolik, opgewonde oor hierdie nuwe avontuur, terwyl Sean en Mbejane Hlubi se bredie instop sonder om dit eens te proe.

Iewers in die toenemende donker huil ’n jakkals – ’n eensame klank op die aandwind, nommerpas vir ’n mens se gemoedstemming as jy jou vriende en ’n fortuin verloor het.

“Dis tyd.” Sean wikkel in sy skaapvelbaadjie in en knoop hom toe terwyl hy die vuur toeskop, maar skielik steek hy vas en staan met sy kop skuins soos hy luister. Daar is ’n nuwe geluid op die wind.

“Perde,” bevestig Mbejane.

“Gou, Mbejane, my geweer.” Die Zoeloe spring op, hol na die perde toe en trek Sean se geweer uit die skede uit.

“Uit die lig uit en bly stil,” beveel Sean terwyl hy vir Dirk in die skadu’s tussen die waens in boender. Hy gryp die geweer by Mbejane, werk ’n patroon in die sluitstuk in en die drie van hulle sit gebukkend en wag.

Klippies knars en skuif onder hoewe, en daar is die sagte geluid van ’n tak wat uit die pad gestoot word.

“Net een,” fluister Mbejane. ’n Pakperd runnik sag en word dadelik uit die donker beantwoord. Dan stilte, ’n lang stilte wat oplaas deur die gerinkel van saaltuig verbreek word toe die ruiter afklim.

Dan sien Sean hom: ’n skraal figuur wat langsaam uit die donker te voorskyn kom. Hy hou sy geweer op die aankomeling gerig. Daar is iets buitengewoon aan die manier waarop die vreemdeling beweeg – grasieus, maar met ’n swaai in die heupe, lang bene soos ’n vulletjie – en Sean weet hy is jonk … baie jonk, te oordeel aan sy lengte.

Verlig kom Sean orent en hou die figuur dop wat onseker by die vuur vassteek en in die donkerte in tuur. Die seun dra ’n mus wat tot oor sy ore kom en sy baadjie is van ’n duur, heuningkleurige seemsleer. Sy rybroek is pragtig gesny en pas styf om sy boude. Sean besluit sy agterstewe is te groot en uit proporsie met die klein voete in gepoleerde Engelse jagstewels. ’n Regte laventelhaan, en daar is afkeer in Sean se stem toe hy uitroep: “Bly net waar jy is, ou maat. Wat maak jy hier?”

Die effek van Sean se bevel is onverwags. Die seun spring, die blink stewels se sole lig maklik ses duim van die grond af en toe hy weer land, kyk hy na Sean.

“Praat jong, ek het nie heelnag tyd nie.”

Die seun maak sy mond oop, en weer toe, lek sy lippe en praat: “Ek het gehoor jy gaan Natal toe.” Die stem is laag en hees.

“Wie’t jou dit vertel?”

“My oom.”

“Wie’s jou oom?” vra Sean.

“Isaac Goldberg.”

Sean probeer die nuwe inligting inneem en tussendeur bekyk hy die gesig voor hom. Skoongeskeer, bleek, groot donker oë en ’n mond gemaak vir lag wat nou bangerig pruil.

“En as dit so is?” vra Sean.

“Ek wil saamgaan.”

“Vergeet daarvan. Klim terug op jou perd en gaan huis toe.”

“Ek sal betaal – ek sal jou goed betaal.”

Is dit die stem of liggaamshouding? wonder Sean. Daar is iets baie eienaardig omtrent die klong. Hy staan met ’n plat leerbeursie wat hy in albei hande voor sy heupe hou – ’n verdedigende houding, asof hy iets beskerm. Wat?

En skielik weet Sean wat dit is.

“Haal af jou mus,” beveel hy.

“Nee.”

“Haal af.”

Die seun huiwer nog ’n oomblik … dan, in ’n byna opstandige gebaar, ruk hy die mus af en twee dik vlegsels, glinsterend in die vuurlig, val byna tot by sy middel uit en verander hom in ’n oogwink van ’n opgeskote seun in ’n asemrowende vrou.

Hoewel hy dit geraai het, is Sean onvoorbereid vir die skok van hierdie onthulling. Dis nie soseer haar skoonheid nie, eerder haar uitrusting wat hom verbyster. Nog nooit in sy hele lewe het Sean ’n vrou in ’n langbroek gesien nie, en nou is sy asem skoon weggeslaan. ’n Langbroek, onse genade! Sy kan omtrent net sowel kaal wees van die middel af ondertoe – selfs dít sou minder onbetaamlik wees.

“Tweehonderd pond …” Sy kom nader, bied die beursie aan. Met elke tree span die broek se materiaal oor haar dye en Sean dwing sy skuldige oë op na haar gesig toe.

“Hou jou geld, meisie.”

Haar oë is grys, rookgrys. “Tweehonderd nou, en nog soveel as ons in Natal aankom.”

“Ek stel nie belang nie.” Maar hy stel tog belang, daardie sagte lippe het begin bewe.

“Hoeveel dan? Maak jou prys.”

“Kyk, meisie, ek lei nie ’n bliksemse optog nie. Daar is al klaar drie van ons, en een is ’n kind. Daar lê ’n harde rit voor ons, baie myle, en derduisende Boere tussenin. Ons kanse is al klaar skraal genoeg. Nog iemand in die geselskap, en dit nogal ’n vrou, maak dit so te sê onmoontlik. Ek wil nie jou geld hê nie, al wat ek wil hê is om my seun in veiligheid te bring. Gaan huis toe en wag tot die oorlog oor is – dit sal nie lank vat nie.”

“Ek gaan Natal toe.”

“Nou goed dan. Doen wat jy wil … maar nie saam met ons nie.” Sean kan homself nie langer vertrou om daardie grys oë se aantrekkingskrag te weerstaan nie, en hy wend hom tot Mbejane. “Perde,” snou hy en loop van haar af weg. Sy staan en hou hom stil dop terwyl hulle opklim, maar sy stribbel nie teë nie. Van waar Sean uit die saal uit op haar afkyk, lyk sy baie klein en alleen.

“Ek is jammer,” sê hy bars. “Wees nou verstandig en gaan huis toe.” Haastig draai hy om en sit op ’n draffie af, die nag in.

Die hele nag ry hulle, ooswaarts deur die oop, maanverligte veld. Eenkeer ry hulle by ’n donker opstal verby en ’n hond blaf. Hulle mik ’n ruk lank weg en draai eers later weer ooswaarts, sorg dat die Suiderkruis aan hulle regterkant bly. Toe Dirk in die saal aan die slaap raak en omkantel, vang Sean hom voor hy val, trek hom oor op sy skoot en hou hom vir die res van die nag vas.

Voor sonop bereik hulle ’n klomp bosse langs ’n stroom, kniehalter die perde en slaan kamp op. Mbejane kry die ketel oor ’n klein, goedgeskermde vuur aan die kook en Sean rol vir Dirk, nog vas aan die slaap, in sy komberse toe. Net toe kom die meisie in die kamp ingery en spring van haar perd af.

“Ek het julle twee keer amper verloor.” Sy lag en haal die hoed af. “Ek het my yskoud geskrik.” Sy skud die glansende vlegsels los. “Koffie! O, wonderlik, ek’s vrek van die honger.”

Dreigend kom Sean op die been en gluur haar met gebalde vuiste aan, maar sy steur haar aan niks, kniehalter eers haar perd voordat sy ag slaan op Sean.

“Vergeet maar van goeie maniere, sit gerus,” sê sy, en sy glimlag so onnutsig vir hom, boots sy houding so presies na met haar hande op daardie verloklike heupe dat Sean eenvoudig moet glimlag. Hy probeer dit keer, want hy weet dis ’n teken van oorgawe, maar sy poging is so onsuksesvol dat sy vrolik lag.

“Hoe’s jou kookvernuf?” vra hy.

“So-so.”

“Jy beter iets daaraan doen, want van nou af werk jy vir die saamry.”

Later, toe hy haar kos vir die eerste keer proe, erken hy teësinnig: “Nie sleg nie, onder die omstandighede.” En hy mop die oorskiet met ’n broodkorsie op.

“Moet dit net nie oordoen nie.” Sy bedank hom, sleep haar kombersrol in die skaduwee in, rol dit oop, trek haar stewels uit, wikkel haar tone en gaan lê met ’n behaaglike sug.

Sean gaan maak sy eie bed, doelbewus só dat hy haar ongesiens kan dophou onderdeur die hoed wat op sy gesig lê.

Hy word teen die middag wakker en sien sy slaap met een wang in haar oop hand, haar wimpers inmekaar gevleg en ’n paar los, donker lokke oor haar gesig, wat in die stil hitte van die dag klam van die sweet en bloesend is. Hy kyk vir ’n lang tyd na haar, voordat hy saggies opstaan en oorstap na sy saalsakke toe. Toe hy afstap water toe, vat hy sy plat seil-wassakkie saam met hom, die orige broek wat nie te veel gelap of gevlek is nie, en ’n skoon syhemp.

’n Ruk later sit hy op ’n klip langs die water, kaal en skoongeskrop, en bekyk hy sy gesig in die gepoleerde staalspieël.

“’n Groot werk.” Hy sug en begin knip aan die groot bos baard wat drie jaar laas ’n skêr gesien het.

Teen sononder, selfbewus soos ’n meisie in haar eerste partytjierok, loop Sean terug na die kamp toe. Hulle is almal wakker. Dirk en die meisie sit saam op haar kombers, so verdiep in hulle gesprek dat nie een van hulle hom sien aankom nie.

Mbejane is besig by die vuur. Hy steier agtertoe en bekyk Sean van kop tot tone sonder om verdere emosie te wys.

“Ons beter eet en aan die gang kom.”

Dirk en die meisie kyk op. Haar oë vernou eers, raak dan weer wyer, verwonderd.

Dirk gaap hom aan, en waag dan: “Pa se baard is heel snaaks.” En die meisie probeer met alle mag haar lag inhou.

“Kry jy jou komberse opgerol, ou seun.”

Sean probeer Dirk van die onderwerp af kry, maar soos ’n bulhond bly Dirk vasbyt. “En hoekom dra Pa Pa se beste klere?”

Donderslag

Подняться наверх