Читать книгу Donderslag - Wilbur Smith - Страница 4

1

Оглавление

Vier jaar van rondry in die gramadoelas waar daar geen paaie is nie, het die waens verniel. ’n Hele paar van die wielspeke en disselbome is met rofweg gekapte hout vervang, die seile is al soveel keer gelap dat die oorspronklike materiaal skaars te siene is en die spanne is uitgedun van agttien tot tien osse elk, deur roofdiere en siekte afgemaai. Maar op hierdie gehawende waens is vyfhonderd olifante se tande; tien ton ivoor – die opbrengs van Sean Courtney se geweer – wat hy vir bykans vyftienduisend goue ponde gaan omruil sodra hy in Pretoria aankom.

Sean is weer ’n ryk man. Sy klere is gevlek en hang los aan sy lyf, sommerso wild en wakker gelap; sy stewels se bokante is byna deurgeslyt en die sole met rou buffelleer reggemaak; ’n groot ongeknipte baard hang op sy bors en sy bos swart hare krul tot in sy nek, waar dit met ’n stomp skêr net bo sy baadjiekraag happerig afgesny is. Maar ondanks sy voorkoms is hy ryk – in ivoor, asook goud wat vir hom in Volkskas Bank in Pretoria se kluise gehou word.

Op ’n hoogte langs die pad sit hy op sy perd en hou sy waens se rustige ploetergang dop. Dis nou tyd vir die plaas, dink hy ingenome. Hy is sewe-en-dertig jaar oud, nie meer ’n jong man nie, en dis tyd om die plaas te koop. Hy weet watter een hy wil hê en hy weet presies waar hy die opstal gaan bou – naby die platorand, sodat hy saans op die wye stoep oor die vlakte kan sit en uittuur na die Tugela toe in die blou verte.

“Môre vroeg is ons in Pretoria.” Die stem langs hom onderbreek sy dagdroom. Sean versit in die saal en kyk af na die Zoeloe wat langs die perd hurk.

“Dit was ’n goeie jag, Mbejane.”

“Nkosi, ons het baie olifante geskiet.” Mbejane knik en Sean merk vir die eerste keer die silwer in sy hare. Ook nie meer ’n jong man nie.

“En baie ver gereis,” gaan Sean voort.

Mbejane knik ernstig, hy stem saam.

“’n Man raak moeg van die rondtrekkery,” sug Sean hardop. “Daar kom ’n tyd dat jy daarna verlang om twee nagte op dieselfde plek te slaap.”

“En om jou vroue te hoor sing terwyl hulle in die landerye werk,” vat Mbejane dit verder. “En om jou vee teen sononder in die kraal in te sien kom, met jou seuns wat hulle aanjaag.”

“Daai tyd het vir ons albei gekom, my vriend. Ons gaan terug Ladyburg toe.”

Toe Mbejane opstaan, ratel sy spiese teen sy skild van rou leer, spiere speel onder die swart satyn van sy vel en hy kyk glimlaggend op na Sean. Dis die ene wit tande, stralend, daardie glimlag. Sean moet meedoen en hulle grinnik vir mekaar soos twee klein seuntjies wat iets stouts aangevang het.

“As ons die osse druk, kan ons vannag nog in Pretoria wees, nkosi.”

“Kom ons probeer,” moedig Sean hom aan en laat sy perd teen die helling af loop om by die optog aan te sluit.

Terwyl die waens stadig in die wit gloed van die oggend aangesukkel kom, kom daar ’n beroering aan die agterkant en dit versprei met die ry langs – die honde blaf en die bediendes moedig die ruiter aan wat by hulle verbyjaag na die optog se voorpunt toe. Hy lê vorentoe in die saal, spoor die ponie met sy elmboë en knieë aan. Sy hoed hang aan die riempie om sy nek en sy swart hare waai in die wind.

“Daai kleintjie brul harder as die leeu wat sy pa is,” brom Mbejane, maar sy uitdrukking is liefdevol terwyl hy kyk hoe die ruiter by die voorste wa kom en die ponie op sy agterpote intrek.

“Hy verfoes ook elke perd wat hy ry se bek.” Sean se stemtoon is so bars soos Mbejane s’n, maar daar is dieselfde liefdevolle uitdrukking in sy oë toe hy kyk hoe sy seun ’n springbok se bruingestreepte lyf van die saalknop af lossny en in die pad langs die wa laat val. Twee van die wadrywers haas hulle om dit op te tel, en Dirk Courtney skop sy ponie in die lies en galop tot waar Sean en Mbejane langs die pad wag.

“Net een?” vra Sean toe Dirk die ponie intrek en omdraai om langs hulle in te val.

“O nee, ek het drie gekry – drie met drie skote. Die manne bring die ander.” Ewe rustig, asof dit doodnatuurlik is dat hy op nege jaar vleis vir die hele geselskap voorsien. Dirk sit gemaklik in die saal, die teuels in een hand en die ander hand op sy heup, ’n weerspieëling van sy pa se liggaamshouding.

Terwyl hy gluur om sy trots en liefde te verberg, bekyk Sean sy seun onderlangs. Sy gesig is byna onbetaamlik mooi – die onskuldige oë en die vlekkelose vel hoort eerder by ’n meisie. Die son pik dieprooi glanspunte uit die donker bos krulhare, sy oë is wydgeplaas en omring deur lang wimpers, met sy voorkop se delikate lyn daarbo. Sy oë is smaraggroen en sy vel goud en daar is robyne in sy hare – ’n gesig wat deur ’n juwelier geskep is. Dan kyk Sean na die mond en ervaar ’n tikkie ongemak. Die mond is te groot, die lippe te wyd en sag. Die vorm is verkeerd – asof dit op die punt is om nukkerig of selfbejammerend te wees.

“Ons maak vandag ’n voldag se trek, Dirk. G’n uitspan voordat ons in Pretoria is nie. Ry terug en gaan sê vir die drywers.”

“Stuur vir Mbejane. Hy doen niks nie.”

“Ek het gesê jy moet gaan.”

“Agge nee, Pa! Ek het al vandag genoeg gedoen.”

“Gaan, magtig!” raas Sean onnodig heftig.

“Ek het dan nou net eers teruggekom, dis nie regverdig dat …” begin Dirk, maar Sean laat hom nie klaarmaak nie.

“Elke keer as ek jou iets vra, praat jy teë. Maak soos ek sê.” Hulle kyk mekaar in die oë; Sean aan ’t gluur en Dirk verwytend, nukkerig. Sean herken die uitdrukking en sug. Dit gaan seker weer wil teen wil wees – een van die konfrontasies wat al hoe meer gereeld plaasvind. Sal hierdie een soos die ander eindig? Moet hy die neerlaag aanvaar en weer die sambok inlê? Wanneer was die laaste keer – twee weke gelede? – toe hy vir Dirk aangespreek het oor ’n kleinigheid, iets oor hoe hy na sy ponie kyk. Dirk het dikbek gestaan totdat Sean klaar gepraat het, en toe sommer weggeloop tussen die waens in. Sean het nie verder daaraan gedink nie, hy was besig om met Mbejane te praat toe daar skielik ’n tjank van pyn uit die laer opgeklink het en hy hom soontoe moes haas.

Dirk het in die middel van die kring waens gestaan. Sy gesig was rooi van woede, en voor sy voete het een van die babahondjies se klein lyfie gelê en ruk terwyl hy sulke fyn tjankies gee, sy ribbes gebreek en ingeduik van Dirk se skop.

In blinde woede het Sean vir Dirk bygedam, maar selfs in sy ontsteltenis het hy ’n stuk tou gebruik en nie die geniepsige seekoeisambok met sy dun punt nie. Toe het hy Dirk na sy wa toe gestuur.

Teen middagete het hy hom laat roep en op ’n verskoning aangedring. Sonder om te huil, met sy lippe en kakebeen styf gespan, het Dirk geweier.

Sean het hom weer geslaan, met die tou, maar hierdie keer gevoelloos, nie uit woede nie. Dirk het nie ingegee nie.

Uiteindelik was Sean so desperaat dat hy die sambok ingelê het. Vir tien swiepende houe wat elkeen met ’n venynige klap oor sy boude geëindig het, het Dirk stil gelê onder die sweep. Sy lyf het met elke hou effens geruk, maar hy het geen geluid gemaak nie, en Sean het hom geslaan met ’n naar gevoel op sy eie maag en die sweet van skaamte en skuld wat in sy oë loop. Hy het die sambok meganies geswaai met sy vingers om die handvatsel geklem, sy mond vol slymerige spoeg en selfhaat.

Toe Dirk uiteindelik skree, het Sean die sambok laat val, teruggesteier teen die wa se kant en uitasem daar gestaan en hyg terwyl hy moes veg teen die naarheid wat suur in sy keel opstoot.

Dirk het weer en weer geskree, en Sean het hom gaan omhels en teen sy bors vasgedruk.

“Ek’s jammer, Pa! Ek is jammer. Ek sal dit nooit weer doen nie, ek belowe. Ek is lief vir Pa, die liefste van alles en ek sal dit nooit weer doen nie,” het Dirk gehuil en hulle het aan mekaar vasgeklou.

Vir dae daarna het nie een van die bediendes vir Sean geglimlag of met hom gepraat buiten om bevele te erken nie. Want daar is nie een van hulle, insluitend Mbejane, wat nie sou steel en verneuk en lieg om te verseker dat Dirk Courtney als kry wat hy wil hê, presies wanneer hy dit wil hê nie. Hulle kan enigiemand haat wat hom dit verbied, selfs vir Sean.

Dit was twee weke gelede. En nou, dink Sean terwyl hy na daardie lelike mond kyk, gaan ons die hele ding weer oordoen?

Dan glimlag Dirk skielik. Dis een van daardie bui-veranderinge wat Sean nogal verwar, want as Dirk glimlag, kom sy mond reg. Dis onweerstaanbaar.

“Ek sal dit doen, Pa.” Opgewek, asof hy dit vrywillig doen, spoor hy die ponie aan en ry terug na die waens toe.

“Parmantige klein klits!” brom Sean ter wille van Mbejane, maar in die stilligheid wonder hy oor sy eie skuld aan die toedrag van sake. Hy het die seun grootgemaak met ’n wa as sy tuiste en die veld as sy skool, tussen ’n klomp volwasse mans oor wie hy, as sy onweerlegbare geboortereg, gesag het.

Sedert sy ma vyf jaar gelede dood is, het hy nie die sagte invloed van ’n vrou geken nie. Geen wonder hy is so wild nie.

Sean probeer om nie aan Dirk se ma te dink nie. Daar is ook skuld; skuld waarmee hy eers met die verloop van jare vrede gemaak het. Nou is sy dood, daar is niks te wen deur homself te martel nie. Die donkerte dreig om sy goeie luim van ’n paar minute gelede te verdring en hy stoot dit van hom af weg, raps die perd se nek met die los stuk teuels en stuur die dier met die pad langs – suidwaarts na die lae lyn heuwels op die horison; suid na Pretoria.

Dirk is ’n wildewragtig. Maar as ons eers in Ladyburg is, sal hy regkom, troos Sean homself. Hulle sal sy nonsens uitboender in die skool, en ek sal maniere inboender by die huis. Nee, hy sal regkom.

Daardie aand, 3 Desember 1899, lei Sean sy waens teen die heuwels af en slaan langs die Apiesrivier kamp op. Nadat hulle geëet het, stuur Sean vir Dirk bed toe in sy wa. Dan klim hy die heuwels alleen uit en kyk terug oor die landskap na die noorde toe. Dis silwergrys in die maanlig, strek stil en onmeetbaar die verte in. Dit was die ou lewe. Meteens draai hy sy rug daarop en loop af na die stadsligte toe wat in die vallei onder hom wink.

Donderslag

Подняться наверх