Читать книгу Donderslag - Wilbur Smith - Страница 7

4

Оглавление

Hulle drie ry langs mekaar in die donker, Dirk in die middel, terwyl Mbejane agterna kom met die pakperde. Die landskap styg en daal onder hulle soos die golwe van ’n eindelose see, en die manier waarop die gras in die nagwind beweeg, laat dit nog meer na branders lyk. Die koppies waarby hulle verbyry, is eilande in die see, en die jakkalse se gehuil die stemme van seevoëls.

“Hou ons nie te ver oos nie?” Die meisie verbreek die stilte, haar stem meng met die wind se sagte geruis.

“Met goeie rede,” antwoord Sean. “Ek wil die Drakensberg se stert oorsteek ver van die Boeremag af wat by Ladysmith en die spoorlyn is.” En hy kyk bo-oor Dirk se kop na haar. Sy ry met haar gesig opgehef na die hemel.

“Ken jy die sterre?” vra hy.

“Bietjie.”

“Ek ook. Ek ken hulle almal,” sê Dirk en wys na die suide toe. “Dis die Suiderkruis met die aanwysers, en dis Orion met sy swaard in sy gordel, en daar loop die Melkweg.”

“Vertel my van ’n paar ander,” versoek die meisie.

“Die res is sommer gewoon, hulle tel nie. Hulle het nie eens name nie.”

“O, maar hulle het, en die meeste van hulle het ’n storie ook.”

Daar is ’n pouse. Dirk is nou in ’n moeilike posisie: hy moet óf erken hy weet nie – en Dirk se trots laat hom dit nie toe nie – óf hy moet die kans laat verbygaan om ’n paar lekker stories te hoor. Al is sy trots ook hoe groot, sy lus na stories is groter.

“Vertel my ’n paar.”

“Jy sien daardie klompie daar onder daardie helder een? Hulle is die Sewe Susters. Wel, eens op ’n tyd …”

Binne minute is Dirk heel meegevoer. Hierdie stories is selfs beter as Mbejane s’n, seker omdat hulle nuut is, terwyl hy Mbejane se hele verhaleskat uit sy kop uit kan opsê. Soos ’n valk kom hy neer op elke ongeloofbare wending.

“Maar hoekom skiet hulle nie sommer die ou heks nie?”

“In daardie dae het hulle nie gewere gehad nie.”

“Hulle kon ’n pyl en boog gebruik het.”

“Jy kan nie ’n heks met ’n pyl en boog doodmaak nie. Die pyl gaan net – psst – dwarsdeur haar sonder om haar seer te maak.”

“So waar as vet!” Dis regtig indrukwekkend, maar voordat hy dit aanvaar, vind Dirk dit nodig om ’n kundige se raad in te roep. Hy vra vir Mbejane, vertaal die probleem in Zoeloe. Toe hy hoor dat Mbejane met die meisie saamstem, is Dirk oortuig, want Mbejane is welbekend vir sy kennis van die bonatuurlike.

Daardie nag raak Dirk nie in die saal aan die slaap nie. Toe hulle voordag kamp, is die meisie se stem skoon hees gepraat, maar sy het Dirk geheel en al verower en vir Sean amper ook.

Die hele nag lank, terwyl hy na haar stem luister en die sagte laggies waarmee sy die stories besprinkel, voel Sean hoedat die saad wat met hul eerste ontmoeting geplant is in sy binneste ontkiem en begin groei. Hy begeer die vrou só dat hy skoon die kluts kwytraak in haar teenwoordigheid. Verskeie kere in die nag probeer hy aan die gesprek deelneem, maar telkens maak Dirk sy bydraes minagtend af, gretig om weer na die meisie te luister. Teen die oggend se koers besef hy dat hy jaloers is op sy eie seun, jaloers op die aandag wat Dirk kry en waarna hy wat Sean is so hunker.

Terwyl hulle ná ontbyt koffie drink, op hulle komberse onder ’n klompie seringbome, merk Sean op: “Jy het nog nie vir ons gesê wat jou naam is nie.”

En natuurlik is dit Dirk wat antwoord. “Sy het vir my gesê. Jou naam is mos Ruth, of hoe?”

“Dis reg, Dirk.”

Met moeite onderdruk Sean die redelose woede wat in hom opwel. Toe hy praat, verklap sy stem niks daarvan nie. “Ons het genoeg van jou gehoor vir een nag, ou seun. Gaan lê nou, maak jou oë en mond toe, en hou dit so.”

“Ek is nie vaak nie, Pa.”

“Maak soos ek sê.” Sean staan op en loop met lang treë uit die kamp uit. Hy klim die klein koppie bo hulle. Dis nou heeltemal lig en hy bespied die veld alkant toe, tot op die horison. Daar is geen teken van mense of huise nie. Hy klim weer af en vroetel met die perde se kniehalters voordat hy na die seringbome toe terugkeer.

Ten spyte van al sy teëpratery is Dirk soos ’n klein hondjie opgekrul, en van die vuur se kant af, onder ’n hoop komberse uit, kom Mbejane se onmiskenbare gesnork. Ruth lê ’n entjie van hulle af, met ’n kombers oor haar bene en haar oë toe, en die voorkant van haar hemp styg en daal op ’n manier wat Sean twee goeie redes gee om nie te slaap nie. Hy lê op sy een elmboog gestut en gee sy oë en verbeelding vrye teuels.

In die afgelope vier jaar het hy nooit ’n wit vrou gesien nie; vier jaar sonder die klank van ’n vrou se stem of die troos van haar lyf. Aan die begin het dit hom gepla – die rusteloosheid, die redelose neerslagtigheid, die skielike woedeuitbarstings. Maar gaandeweg in die lang dae van jag en ry, met die eindelose stryd teen droogte en storms, teen gediertes en die elemente, het hy sy lyf onder beheer gebring. Vroue het onwerklik geraak, vae spooksels wat hom net in die nag gepla het sodat hy woel en sweet en in sy slaap uitroep totdat die natuur hom verligting gee en die spooksels vir ’n ruk verdwyn, besig om hul kragte vir hul volgende besoek op te bou.

Dis geen spooksel wat nou langs hom lê nie. Hy sou sy hand kon uitsteek en die sagte dons op haar wang streel en die warm, sysagte vel voel.

Sy maak haar oë oop – hulle is melkerig grys van die slaap, en fokus stadig totdat sy sien hoe deurdringend hy na haar kyk.

Oor wat sy in sy oë sien, haal sy haar hand onder die komberse uit en strek dit na hom toe uit. Haar ryhandskoene is af. Vir die eerste keer merk hy die dun goue ring om haar vierde vinger.

“Ek sien,” mompel hy sag, en sê dan in protes: “Maar jy is te jonk … te jonk om getroud te wees.”

“Ek is twee-en-twintig.”

“Jou man … waar is hy?” Miskien is die swerkater dood, sy laaste hoop.

“Ek gaan nou na hom toe. Toe dit lyk of oorlog gaan uitbreek, is hy Natal toe, Durban toe, om ’n werk te kry en vir ons daar huis op te sit. Ek was veronderstel om hom te volg, maar die oorlog het gouer gekom as wat ons gedink het. Ek was vasgekeer.”

“Ek sien.” Ek is besig om jou na ’n ander man toe te vat, dink Sean bitter, en stel dit in ander woorde: “Hy sit dus in Durban en wag dat jy jou eie pad deur die linies vind.”

“Hy is in die Natalse leër. Hy het verlede week ’n boodskap deurgekry na my toe. Hy wou hê ek moet in Johannesburg bly totdat die Britte die stad inneem. Hy sê met so ’n groot mag sal hulle binne drie maande in Johannesburg wees.”

“Hoekom het jy toe nie gewag nie?”

Sy haal haar skouers op. “Geduld is nou maar eenmaal nie in my aard nie.” Onnutsigheid flikker weer in haar oë. “In elk geval, ek het gedog dit sal pret wees om weg te vlug – dis so ondraaglik vervelig in Johannesburg.”

“Het jy hom lief?” vra Sean skielik.

Die vraag verbaas haar en die glimlag verdwyn van haar lippe af. “Hy is my man.”

“Dit beantwoord nie my vraag nie.”

“Jy het g’n reg om so ’n vraag te vra nie.” Nou is sy kwaad.

“Jy moet my sê.”

“Het jy jou vrou lief?” kap sy terug.

“Ek het haar liefgehad, ja. Sy is al vyf jaar dood.”

Haar woede flikker en verdof so vinnig soos wat dit ontvlam het. “O, ek is jammer. Ek het nie geweet nie.”

“Vergeet dit. Vergeet ek het gevra.”

“Ja, dis beter so. Ons het lelik begin kleitrap.” Haar hand met die ring is steeds in sy rigting uitgesteek, op ’n mat van dooie blare. Hy steek sy hand uit en lig hare op. Dis ’n klein handjie.

“Meneer Courtney, Sean, dis beter as … ons moenie … Ek dink ons moet liefs nou probeer slaap.” En sy trek haar hand terug en rol weg van hom af.

Die wind maak hulle in die middel van die middag wakker. Dit kom aangedruis uit die ooste, vee die gras plat en skud die takke bo hulle koppe.

Sean kyk in die lug op terwyl die wind sy hemp laat flap en sy baard laat fladder. Hy leun vorentoe daarteen, toring so skielik bo Ruth uit dat sy meteens besef hoe groot hy is. Hy lyk soos die god van storms, met lang, sterk bene ’n ent uitmekaar geplant en die spiere op sy bors en arms duidelik sigbaar onder sy hemp se wit materiaal.

“Dit raak bewolk,” roep Sean bo die wind se gedruis. “Daar sal vannag g’n maanlig wees nie.”

Sy staan op en ’n skielike windvlaag ruk haar van balans af. Sy steier teen hom vas en sy arms sluit om haar. Vir ’n oomblik is sy teen sy bors aangedruk, kan sy die lenige veerkragtigheid van sy lyf voel, sy manlike reuk in haar neus. Dis vir albei van hulle ’n skok, hierdie onverwagte intieme kontak, en toe sy wegbreek, is haar grys oë wyd oop van vrees oor die beroering wat sy in haar binneste voel.

“Ek is jammer,” fluister sy. “Dit was ’n ongeluk.” En die wind gryp haar hare en laat dit in ’n donker warreling oor haar gesig dans.

“Ons moet opsaal en ry in die daglig wat nog oor is,” besluit Sean. “Ons sal nie vannag kan ry nie.”

Die wolke kom op die wind aangerol, sprei uit, verander van vorm en sak laer af aarde toe – wolke met die kleur van rook en kneusings, swaar van die reën wat hulle bring. Die nag kom vroeg. Steeds druis die wind en stamp-stamp teen hulle in die skemerte.

“Die wind sal oor ’n uur of so gaan lê, en dan kom die reën. Ons moet skuiling soek voor dit te donker word.”

Anderkant ’n koppie kry hulle ’n klip-oorhang en laai hul goed daar af. Terwyl Sean houtpenne in die grond inkap en die perde se leirieme daaraan vasmaak om te keer dat hulle in die storm wegdwaal, sny Mbejane gras en pak ’n matras daarvan op die klipvloer onder die oorhang.

In hulle oliejasse toegedraai, sit en eet hulle biltong en koue mieliebrood. Daarna onttrek Mbejane stil-stil na die skuiling se verste punt en kruip onder sy komberse in. Hy het die vermoë om dadelik en diep aan die slaap te raak, selfs onder die moeilikste omstandighede.

“Nou toe, ou seun. Bed toe met jou.”

“Mag ek net …” begin Dirk sy gewone teëpratery.

“Nee, jy mag nie.”

“Ek sal vir jou sing,” bied Ruth aan.

“Vir wat?” Dirk is verwonderd.

“’n Slaapliedjie … het niemand nog vir jou ’n slaapliedjie gesing nie?”

“Nee.” Maar Dirk se belangstelling is geprikkel. “Wat gaan jy sing?”

“Klim eers in die bed.”

Langs Sean in die donker, baie bewus van sy grootte en sy skouer wat aan hare raak, sing Ruth met die wind se dreuning as begeleiding. Eers Afrikaanse volksliedjies: “Nooi, nooi” en “Jannie met die hoepelbeen”. Dan ander ou gunstelinge soos “Vader Jakob”. Haar stem beteken vir elkeen van hulle iets.

Die klank daarvan maak vir Mbejane wakker en herinner hom aan die wind in die Zoeloelandse koppies en die jong meisies wat met oestyd in die landerye sing. Dit maak hom bly dat hy huis toe gaan.

Vir Dirk is dit die stem van die ma wat hy skaars geken het. ’n Vertroostende geluid, en sommer gou is hy aan die slaap.

“Moenie ophou nie,” fluister Sean.

Dan sing sy vir hom alleen. ’n Liefdeslied van tweeduisend jaar gelede, vervul met haar mense se lyding, maar ook met vreugde. Die wind gaan lê terwyl sy sing en haar stem raak saam met dit stil, totdat net die oorweldigende nagstilte oorbly.

Die storm bars los. Die eerste donderslag kom en die weerlig vurk blou gekartel deur die wolke. Dirk maak ’n kermgeluidjie, maar hy bly slaap.

In die strak blou lig sien Sean dat Ruth se wange nat is van die trane en toe die donkerte hulle weer omsluit, begin sy teen hom bewe. Hy reik uit na haar toe en sy klou aan hom vas, klein en warm teen sy bors, en hy kan die sout van haar trane op sy lippe proe.

“Sean, nee, ons moenie.”

Maar hy tel haar op en hou haar dwars voor sy bors en loop in die nag in. Die weerlig slaan weer en verlig die landskap verbysterend helder, sodat hy die perde kan sien waar hulle kop omlaag staan, en die koppie bo hulle se skerp buitelyn.

Die eerste reëndruppels spat teen sy skouers en in sy gesig. Die reën is warm en hy dra vir Ruth verder. Dan is die nag vol reën, ’n allesomvattende pêrelwit mistigheid in die lig van weerligstrale, en die reuk van reën op droë grond – ’n warm, aardse reuk.

Donderslag

Подняться наверх