Читать книгу Donderslag - Wilbur Smith - Страница 17

14

Оглавление

Hulle lê sy aan sy in die gras, hul rûe nat van die dou wat deur hul baadjies dring. Die nag is stil. Daar is geen wolke nie en die sterre is groot en helder. Voor hulle lê die Tugela-hoogtes, donker en dreigend afgeëts teen die blink smeersel van die Melkweg.

Saul gaap wyd, en byna dadelik doen Sean dieselfde. Hoewel hulle die nag niks geslaap het nie, is dit nie van moegheid nie – dis eerder omdat hul senuwees op hol is oor die vooruitsig om die Boere se geweervuur aan te durf …

“Nog anderhalf uur tot sonop,” fluister Saul. Sean antwoord met ’n bromgeluid. Dit help nie om die ure te tel nie. Om dertien minute voor sewe sal die son opkom, en dan sal die Britse magte van agter hulle af oor die bruin grasvlakte opruk.

Weer eens gaan staan Sean op sy knieë en bespied die terrein voor hulle, laat sy blik stadig met die Tugela se wal langs gly tot by die groot staalbrug ’n honderd treë voor hulle. Hy bekyk elke bossie op die duskantse wal om seker te maak hulle het nie vermeerder of beweeg nie. Tevrede sak hy terug in posisie.

“Liewe aarde, maar dis koud!” Saul bewe so dat Sean dit kan voel.

“Dit sal gou warm word.” Sean glimlag in die donker toe hy antwoord. Die helder naglug het gister se hitte laat ontsnap, die gras en hulle klere is nat, selfs die staal van hul gewere is pynlik koud om aan te raak – maar Sean het lankal geleer om fisieke ongemak te ignoreer. Hy kan, indien nodig, heeltemal stil lê terwyl tsetsevlieë op sy nek kom sit en hulle steeksnuite brandend in die sagte vel agter sy ore prik. Nogtans is dit ’n verligting wanneer die oosterkim grys word en dit tyd raak om te roer.

“Ek gaan nou,” fluister hy.

“Alles van die beste. Ek sal ontbyt gereed hê wanneer jy terugkom.”

Dis ’n taak vir een man. ’n Taak wat Sean nie aanstaan nie. Hulle het reeds seker gemaak daar is geen vyande duskant die rivier nie. Nou, ter elfder ure wanneer dit te laat vir die Boere is om hulle stellings te verander, moet iemand die rivier oorsteek en uitvind met hoeveel man hulle die brug beset. ’n Klompie Boere-Maxims, opgestel om die brug op ’n kort afstand te verdedig, of selfs ladings gestelde plofstof sal maak dat die Britte se kans op sukses van iets na niets toe kwyn.

Sean haak die geweer oor sy skouer en begin vorentoe kruip deur die gras. Twee keer stop hy om eers te luister, maar daar is min tyd – die son kom oor ’n uur op. Hy bereik die brug en, in die diep skaduwees gehul, staar hy na die oorkantste wal toe. Niks roer nie. In die sterlig bult die koppies soos walvisrûe in die see van gras. Hy wag vyf minute – lank genoeg vir ’n rustelose brandwag om te begin vroetel – maar nog steeds is daar niks.

“Hier gaan ek,” prewel hy saggies en meteens is hy bang. Vir ’n oomblik herken hy nie die gevoel nie, want hy het dit nog maar net drie of vier keer in sy hele lewe ervaar, en nog nooit met so min rede nie. Hy koes agter die brug se staalpilare, sy bene voel swak en hy het ’n olierige gevoel op die maag. Dis eers wanneer hy die smaak agter in sy keel kry – iets soos visolie gemeng met die oorskot van ’n dooie, vrot ding – dat hy sy vrees herken vir wat dit is.

Ek is bang, is sy verbaasde reaksie, wat vinnig omsit in kommer.

Dis hoe dit gebeur. Hy weet dit van ander mans. Hy het hulle rondom kampvure daarvan hoor praat, onthou die woorde en die bejammering wat daarmee saamgaan.

“Tja, hierdie handlanger het hom teruggebring kamp toe. Hy was aan ’t bewe asof hy koors het, en hy het gehuil. Ek het gedog hy het seergekry.

“ ‘Daniel,’ het ek gesê, ‘Daniel, wat makeer?’

“ ‘Dit het geknak,’ het hy geantwoord met trane wat in sy baard in loop. ‘Dit het in my kop geknak, ek het dit gehoor. Ek het die geweer neergegooi, omgespring en weggehardloop.’

“ ‘Het hy gestorm, Daniel?’ het ek gevra.

“ ‘Nee, man. Ek het hom nie eens gesien nie, ek het hom net naby in die katdoring hoor vreet. Toe knak dit in my kop en ek vlug.’

“Hy was g’n lafaard nie. Ons het baiemaal saam gejag, ek het al gesien hoe hy ’n aanstormende olifant van so naby af skiet dat die geweerloop byna teen die gedierte druk. Hy was goed, maar hy het te nou saam met die gevaar geleef. Toe knak dit in sy kop. Hy het nooit weer gejag nie.”

Hy het vrees versamel soos ’n ou skip eendmossels en groeisels onder die waterlyn optel, en nou is dit op die punt wat dit hom ook kan breek, besef Sean. As hy nou vlug soos daardie ou jagter gevlug het, sal hy nooit weer jag nie.

Gebukkend in die donkerte, papnat van die koue sweet in die ysige voordag, voel Sean skoon naar. Hy is fisiek siek, haal swaar deur ’n oop mond asem, die warm olierigheid in sy maag dreig om op te kom, en hy is so swak dat sy bene bewe en hy een van die brug se pilare moet vasgryp vir ondersteuning.

Vir ’n minuut wat na ’n ewigheid voel, staan hy so. Dan begin hy daarteen veg, die vrees onderdruk. Hy maak sy bene styf en dwing hulle om vorentoe te beweeg. Hy toets bewustelik die spanning in sy sfinkter – so naby het hy aan die grootste vernedering gekom. Hy besef nou dat die ou storie oor lafaards se vuil broeke waar is, en dat dit op hom ook van toepassing kon wees.

Hy betree die brug, tel voet vir voet versigtig op, swaai hom vorentoe, sit hom neer en verskuif sy liggaamsgewig daarnatoe. Sy asemhaling is doelbewus, elke teug in opdrag van sy brein. Hy kan nie sy lyf vertrou om selfs net die eenvoudigste takie onbewustelik te verrig nie, nie nadat dit hom so verraai het nie.

As die Boere by die brug gewag het, sou hulle hom lankal kon doodskiet. Hy stap oop en bloot op die middel van die brug langs, groot en swaar in die sterlig, en sy voetstappe klink hard op die metaal.

Onder sy skoensole verander die metaal in gruis. Hy is oorkant. Hy hou aan loop in die middel van die pad af, volg die geleidelike draai na die donker heuwels se kant toe.

Hy loop aan met sy vrees en die klank daarvan druis in sy kop soos branders. Sy geweerband glip van sy skouer af en die wapen klater op die pad neer. Hy staan vir ’n volle minuut voordat hy sover kom om te buk en dit op te tel. Dan draai hy om en loop terug. Hy tel sy voetstappe, stadig, meet hulle uit, een per sekond, om seker te maak dat hy nie begin hardloop nie. Want hy weet as hy hardloop, is sy doppie geklink – hy sal nooit weer jag nie.

“Als reg daar?” vra Saul toe hy terugkeer.

“Ja.” Sean sak langs hom neer.

“Iets gesien?”

“Nee.”

Saul staar hom aan. “Is jy seker jy makeer niks?”

Sean sug. Een keer tevore was hy bang. Die vrees het hom in ’n toegevalde mynskag beetgepak. Later het hy teruggegaan en sy vrees in dieselfde skag agtergelaat, hy het alleen weggeloop daarvandaan. Hy het hierdie keer gehoop om sy vrees op dieselfde manier anderkant die rivier agter te laat, maar dit het hom teruggevolg. Hy weet met sekerheid dat dit hom van nou af nooit weer alleen sal laat nie, dat dit altyd by hom sal wees.

Ek moet dit mak maak, besef hy. Ek sal dit moet tem, aan saal en toom gewoond maak.

“Ja, ek’s doodreg,” antwoord hy vir Saul. “Hoe laat is dit?”

“Halfses.”

“Dan gaan ek nou vir Mbejane terugstuur.”

Sean staan op en gaan na waar Mbejane met hul perde wag. Hy gee vir Mbejane die klein blokkie groen lap wat die vooraf vasgestelde teken is dat nóg die brug, nóg die dorp sterk verdedig word. Hy stop die rooi lap terug in sy baadjiesak.

“Ek sal terugkom,” sê Mbejane vir hom.

“Nee.” Sean skud sy kop. “Daar is niks vir jou hier nie.”

Mbejane maak die perde los. “Bly in vrede.”

“Gaan in vrede.” Sean is dankbaar dat Mbejane nie daar sal wees as getuie nie, ingeval hy onder sy nuutgevonde vrees knak.

Maar ek mag nie knak nie, besluit hy hardnekkig. Vandag sal die toets wees. As ek vandag kan deurstaan, dan het ek dit mak gemaak.

Hy gaan terug na waar Saul in die donker wag, en saam lê hulle en wag dat die dag breek.

Donderslag

Подняться наверх