Читать книгу Donderslag - Wilbur Smith - Страница 9
6
ОглавлениеMbejane sien dit eerste en praat sag met Sean. Dis omtrent twee myl eenkant toe, soos ’n vlek bruin rook wat van agter die naaste rant af opslaan, so dof dat Sean ’n oomblik moet soek voordat hy dit kry. Dan draai hy anderkant toe en soek naarstiglik na wegkruipplek. Die naaste is ’n bult rooi klippe ’n halfmyl van hulle af, veels te ver.
Ruth merk hy is ontsteld. “Wat is dit, Sean?”
“Stof,” sê hy. “Ruiters. Op pad hiernatoe.”
“Boere?”
“Seker, ja.”
“Wat gaan ons doen?”
“Niks.”
“Niks?”
“As hulle oor die rant kom, sal ek hulle tegemoet ry en probeer om ons pad oop te bluf.” Hy wend hom tot Mbejane en praat in Zoeloe. “Ek sal na hulle toe gaan. Hou my fyn dop, maar hou aan om verder weg te ry. As ek my arm oplig, moet jy die pakperde loslaat en jaag. Ek sal hulle so lank besig hou as wat ek kan, maar as ek my arm oplig, is dit oor en verby.” Hy maak vinnig die saalsak met die goud se gespes los en gee dit vir die Zoeloe. “Met ’n goeie voorsprong kan jy hulle seker tot sononder ontduik. Vat die nkosikazi waarheen sy wil gaan en ry dan saam met Dirk terug na my ma toe op Ladyburg.”
Hy kyk weer na die rant se kant toe, net betyds om twee ruiters te sien verskyn. Sean lig die verkyker van sy bors af. In die ronde gesigsveld sien hy hulle duidelik, hulle gesigte so gedraai dat hy hul helms se vorm duidelik kan sien. Hy sien hulle blinkgepoetste uitrusting glinster, hoe groot hulle perde is en die kenmerkende saaltuig.
“Soldate!” roep hy verlig.
Asof hulle dit wil beaam, verskyn ’n eskader kavallerie in twee netjiese rye op die kim, met vlaggies wat vrolik in die woud van hul lanse wapper.
Dirk jil van opwinding, Ruth lag langs hom en Mbejane sleep behoorlik die pakperde. Sean galop staande in die stiebeuels en wuif met sy hoed terwyl hy naderjaag.
Die lansiers steur hulle nie aan die entoesiastiese verwelkoming nie, sit hom net strak en dophou. Toe hy naby kom, groet die offisier hom agterdogtig.
“Wie is jy, meneer?” Maar hy lyk minder geïnteresseerd in Sean se antwoord as in Ruth se rybroek en wat daarin is. Tydens die verduidelikings wat volg, begin Sean al hoe minder van die man hou. Hoewel die gladde, rooigebrande vel en donsige geel moestas nie help nie, is dit sy ylblou oë wat Sean die minste aanstaan. Miskien staar hulle altyd so, maar Sean betwyfel dit. Hy kyk net kortliks na Sean terwyl hy rapporteer dat hy geen kontak met Boere gemaak het nie, dan draai sy oë terug na Ruth toe.
“Ons sal jou nie langer ophou nie, luitenant,” brom Sean en vat sy teuels vas om te ry.
“Jy is nog tien myl van die Tugelarivier af, meneer Courtney. Teoreties beset die Boere hierdie gebied, en hoewel ons ver van hulle hoofmag se flanke is, sal dit baie veiliger wees as jy onder ons beskerming na die Britse linies toe kom.”
“Dankie, nee. Ek wil albei gevegsmagte vermy en so gou as moontlik in Pietermaritzburg kom.”
Die offisier haal sy skouers op. “Nes jy wil. Maar as dit my vrou en kind was …” Hy maak nie sy sin klaar nie, draai net in die saal en wink die kolonne vorentoe.
“Komaan, Ruth.” Sean vang haar oog, maar sy roer nie.
“Ek gaan nie saam met jou nie.” Daar is ’n dooie klank in haar stem en sy kyk weg van hom af.
“Moenie simpel wees nie.” Haar stelling skok hom en gee sy antwoord ’n barsheid wat vonke van woede in haar oë ontlok.
“Mag ek saam met julle ry?” vra sy vir die offisier.
“Wel, mevrou.” Hy huiwer, kyk vlugtig na Sean voordat hy voortgaan. “As jou man …”
“Hy is nie my man nie. Ek ken hom skaars.” Sy onderbreek en verontagsaam Sean se protes. “My man is een van julle soldate. Ek sal bly wees as julle my saamvat, asseblief.”
“Nou ja! Dis dan ’n perd van ’n ander kleur,” sê die offisier, maar die lui arrogansie in sy stemtoon verberg skaars sy opgewondenheid oor die vooruitsig om Ruth se geselskap te hê. “Ek sal jou graag vergesel.”
Met haar knieë stuur Ruth haar perd en val langs die offisier in. Hierdie maneuver bring haar regoor Sean te staan, asof sy anderkant ’n heining is.
“Ruth, asseblief. Laat ons net eers hieroor praat, net ’n paar minute.”
“Nee.” Haar stem verklap geen gevoel nie, en haar gesig ook nie.
“Net om tot siens te sê.”
“Ons het klaar afskeid geneem.” Sy kyk van Sean na Dirk en dan weg.
Die offisier lig sy geklemde vuis omhoog en verhef sy stem. “Kolonne! Kolonne, voorwaarts!” Toe sy groot, glansende ros wegspring, grynslag hy vir Sean en salueer ironies met sy vingers op sy helm se rand.
“Ruth!”
Maar sy kyk nie meer na Sean nie. Haar oë is stip vorentoe gerig. Sy ry weg aan die kolonne se voorpunt, haar ken vorentoe gestoot, daardie gul mond in ’n stywe streep, en die dik vlegsel bons teen haar rug op maat van die perd se gang.
“Dis ’n gatslag vir jou, ou maat!” skree een van die agterste soldate, en dan is hulle verby.
Kromgetrek in die saal kyk Sean hulle agterna.
“Gaan sy terugkom, Pa?” vra Dirk.
“Nee, sy kom nie terug nie.”
“Hoekom nie?”
Sean hoor nie die vraag nie. Hy kyk, wag vir Ruth om terug te kyk na hom toe. Maar hy wag vergeefs, want meteens is sy weg, oor die rant en in die volgende vallei in. ’n Paar sekondes later is die hele kolonne buite sig. Daarna is daar net die wye leegheid van die land en die lug daarbo – so groot soos die leegheid in sy binneste.