Читать книгу Donderslag - Wilbur Smith - Страница 19
16
Оглавление“Hart het hom lelik vasgeloop!” Generaal sir Redvers Buller se stem pas by sy boepens. Hy leun skoon agteroor om die lang teleskoop voor sy oog te balanseer. “Wat dink jy, Courtney?”
“Wel, hy het seer sekerlik nie die drif bereik nie, generaal. Dit lyk my hy word by daardie kronkel van die rivier vasgepen,” stem Garry saam.
“Verdomde vent! My bevele was tog duidelik,” brom Buller. “Wat kan julle uitmaak van die kanonne – sien julle enigiets daar?”
Die hele groep offisiere swaai hulle teleskope na die dorp se kant toe waar Colenso se sinkplaatdakke, dof tussen al die stof en rook, bo die doringbome uitsteek.
“Ek kan nie …” begin Garry, en wip dan van die skrik toe die 4.7-vlootkanon in die stelling langs hulle knal. As hy maar net geweet het wanneer dit gaan kom, dink Garry, en hop weer toe die volgende skoot dawer.
“Hulle word nie beman nie,” onderbreek een van die ander stafoffisiere.
Garry is jaloers op sy kalm houding. Hy het die ritteltit so erg dat hy hard met albei hande moet klem om sy verkyker op die dorp gefokus te hou. Elke keer as die vlootkanon skiet, skop dit so erg dat die stof op hulle neersif. Die son is fel en hy is dors. Hy dink aan die fles in sy saalsak en die kanon se volgende skoot vang hom onverhoeds. Hierdie keer lig albei sy voete van die grond af.
“… Stem jy saam, Courtney?” kom Buller se stem.
Hy het nie die vraag se eerste helfte gehoor nie. “Inderdaad, generaal.”
“Goed so.” Die generaal wend hom tot sy adjudant. “Stuur ’n ruiter na Hart toe. Sê hom hy moet so gou moontlik terugtrek, voordat hy te veel verliese ly. So gou as wat jy kan, Clery.”
Op daardie oomblik maak Garry ’n merkwaardige ontdekking: Agter die ondeurdringbare masker van sy gesig met die manjifieke silwer moestas, agter die uitdrukkinglose uitpeuloë, is generaal sir Redvers Buller net so verskrik en onseker soos Garry Courtney. Die manier waarop hy gedurig by Garry kers opsteek bewys dit. Natuurlik kom dit nie by Garry op dat daar ’n ander rede kan wees waarom Buller heeltyd sy mening vra eerder as die ander stafoffisiere s’n nie, naamlik dat Buller uit hierdie oord op blindelingse ondersteuning kan staatmaak.
“Dis dan dit vir die linkerflank.” Buller is kennelik verlig oor sy besluit. Dan begin hy met sy teleskoop regterkant toe kyk, na die lae, ronde bult van Hlangwane-koppie. “Dit lyk of Dundonald sy kant bring.” Vroeër het lustelose geweervuur en pom-poms van die regterflank af opgeklink. Nou is dit stil.
“Maar die middel …” Asof hy die oomblik uitgestel het, wend Buller hom oplaas tot die hel van stof en vlamme en skrapnel wat Colenso omhul.
“Kom saam.” Hy klap sy teleskoop toe. “Ons beter van nader gaan kyk wat hulle daar vermag het.” En hy lei sy staf terug na die perde toe. Garry hink langs, hom, versigtig dat niemand sy plek langs die generaal oorneem nie.
By Lyttelton’s Brigade se hoofkwartier, in ’n diep donga sowat ’n halfmyl duskant die dorp se eerste geboue, vat dit Buller ’n halfminuut om uit te vind wat hulle uitgerig het. Dit verbyster hom.
“Ons hou die dorp, generaal. Al drie kompanies het met die pad langs na die padbrug opgeruk en dit beset. Maar ons het geen hoop om dit te hou nie. Ek het ’n boodskapper gestuur met die bevel dat hulle moet terugval dorp toe.”
“Maar hoekom skiet die kanonne nie? Wat het van kolonel Long geword?”
“Die kanonne is stilgemaak. Kolonel Long is swaar gewond.”
Terwyl Buller op sy perd sit en dit als stadig inneem, pluk ’n sersant in die Transvaalse Staatsartillerie die lus van sy Nordenfelt-kanon en skiet ’n skoot wat ’n Britse militêre terugslag in ’n klinkende nederlaag omskep, ’n skoot wat wêreldwyd sal eggo.
Die kanonkoeël trek vanuit die brokkelrige, klipperige koppies op die noordoewer met ’n boog opwaarts oor die rivier vol water wat bruin is van skrapnel, skote wat te kort geval het en bloed; hoog oor die verlate kanonne wat net deur lyke beman word en bo-oor die oorlewende kanonniers se koppe waar hulle skuil, sodat hulle vir die hoeveelste keer moet koes. Dit begin afkom oor die dorpie Colenso waar moeë manne wag, daal verby doringbome en mimosas en die bruin grasveld vol gesneuweldes, totdat dit uiteindelik in ’n pluim van stof grondvat … reg in die middel van generaal Buller se staf.
Onder hom val Garry se perd, op slag dood, en pen sy been vas. As dit vlees en bloed was, en nie gekerfde eikehout nie, sou dit gebreek wees. Hy voel die bloed deur sy uniform sypel en druppels wat in sy gesig en mond spat.
“Ek is getref. Help my. Here help my, ek’s gewond.” En hy wriemel en roei in die gras, vee die bloed van sy gesig af.
Rowwe hande kry sy been losgewikkel en trek hom weg van die perd af.
“Nie jou bloed nie, jy’s ongedeerd. Nie jou bloed nie, sýne.”
Handeviervoet staar Garry verskrik na die majoor wat langs hom gestaan het en hom teen die plofslag beskut het. Skrapnel het sy kop afgesny, en die bloed spuit nog steeds by sy nek uit soos uit ’n stukkende pyp.
Rondom hom spook manne met hul paniekbevange perde wat runnik en opsteier. Buller sit dubbelgevou in die saal en hou die kant van sy bors vas.
“Generaal, generaal. Is als reg?” ’n Adjudant hou Buller se perd se leisels vas en probeer die dier in bedwang bring. Twee offisiere hardloop na Buller toe en help hom van die perd af.
Hy staan tussen hulle, sy gesig vertrek van pyn, en toe hy praat is sy stem hees, bewend. “Val terug, Lyttelton! Val terug op die hele front!”
“Generaal,” protesteer Brigadier Lyttelton. “Ons beset die dorp. Laat ek die kanonne onder dekvuur hou tot vanaand, dan kan ons hulle terugkry.”
“Magtig, Lyttelton, jy’t my gehoor. Val dadelik terug. Die aanval het misluk.” Buller se asem fluit in sy keel en hy hou steeds die kant van sy bors vas.
“Om nou terug te val sal beteken ons ly swaarder verliese as tot dusver. Die vyand se artillerie is op hierdie afstand ingestel …”
“Val dadelik terug! Hoor jy dan nie?” Buller skreeu omtrent.
“Die kanonne …” probeer Lyttelton weer, maar Buller het klaar na sy adjudant toe gedraai.
“Stuur ruiters na lord Dundonald se brigade toe. Hy moet dadelik terugval. Ek gee hom geen speling nie, hy moet kontak verbreek en terugval. Sê hom … sê hom die aanval het op die linkerflank en in middel misluk, sê hom die kanonne is verlore en hy loop gevaar om omsingel te word. Gaan nou dadelik. Jaag!”
Daar is ’n gemor onder die offisiere, hulle kan nie glo wat hulle hoor nie. Miserabel kyk almal na Lyttelton, pleit stil by hom, want hy is die mees senior van hulle.
“Generaal Buller.” Hy praat sag, maar so dringend dat dit Buller se aandag trek, ondanks die bomskok. “Laat my ten minste toe om die kanonne te probeer terugkry. Ons kan hulle nie net so los nie. Laat my ’n groep vrywilligers …”
“Ek sal gaan, generaal. Asseblief, laat ek probeer.” ’n Jong offisier druk ywerig voor Garry in. Garry weet wie hy is, almal weet, want buiten dat hy een van die mees belowende en gewildste jongelinge onder Buller se bevel is, is hy ook die legendariese lord Roberts se enigste seun.
Met sy adjudant se hulp gaan Buller na ’n mimosaboom toe en sak swaar neer met sy rug teen die growwe bas. Hy kyk op na die jong Roberts toe, dof, skynbaar sonder belangstelling. “Nou goed dan, Bobbie, Lyttelton sal jou die manne gee. Gaan maar.”
Hy spreek ’n doodvonnis oor die jong offisier uit. Nogtans lag Roberts opgewonde, opgeruimd, en hardloop na sy perd toe.
“Ek dink ons het almal verversings nodig. Ek nooi julle vir ’n toebroodjie en ’n glas sjampanje, of hoe?”
Buller knik vir sy adjudant, wat hom haas om kos en drank uit sy saalsakke te gaan haal. ’n Los kanonkoeël ontplof twintig jaarts van hulle af, en skop kluite oor hulle. Onwrikbaar vee Buller ’n stukkie droë gras uit sy baard en kies vir hom ’n gerooktesalm-toebroodjie.