Читать книгу Donderslag - Wilbur Smith - Страница 8

5

Оглавление

Dis ’n stil oggend, so skoongewas van die reën dat hulle, van waar hulle saam op ’n koppie se kruin staan, die berge helderblou en skerp op die suidelike horison kan sien.

“Dis die Drakensberg se punt, ons het dit met twintig myl gemis. Daar’s min kans dat ’n Boerepatrollie hierlangs sal kom. Van nou af kan ons bedags reis. Nie te lank nie, dan sal ons kan terugswaai en anderkant die gevegslinies by die spoorlyn aansluit.”

Oor die oggend se skoonheid, met die landskap wat wegdein na Natal se groot, oop grasvelde, en oor die vrou wat langs hom staan, is Sean opgewek.

Oor die vooruitsig van die einde van hierdie reis en die vooruitsig van ’n ander soort reis met hierdie vrou as sy metgesel, is hy tevrede.

Wanneer hy praat, draai sy stadig om na hom te kyk, haar ken opgelig omdat hy soveel langer as sy is. Vir die eerste keer besef Sean dat sy luim nie in haar oë weerspieël word nie.

“Jy is lieflik,” sê hy, en sy bly stil, maar nou kan hy die skadu’s in haar oë herken as hartseer, of dalk iets selfs erger.

“Ruth, sal jy saam met my kom?”

“Nee.” Sy skud haar kop stadig, met seerkry in haar oë. Die dik swart slang van haar hare rol oor haar skouer en hang teen haar baadjie se heuningkleurige seemsleer.

“Jy moet.”

“Ek kan nie.”

“Maar, laas nag …”

“Laas nag was malligheid … die storm.”

“Dit was rég. Jy weet dit.”

“Nee. Dit was die storm.” Sy kyk weg van hom af, boontoe in die oggendlug. “En nou is die storm verby.”

“Dit was méér as dit. Jy weet dit net so goed soos ek – dit was só vandat ons mekaar die eerste keer gesien het.”

“Dit was malligheid, onderduims. Iets wat ek met leuens sal moet verberg, nes ons dit gisteraand in donkerte moes verberg.”

“Ruth, asseblief, moenie só daaroor praat nie.”

“Nou goed dan, ek sal nie. Ek sal glad nie daaroor praat nie, nooit ooit weer nie.”

“Ons kan dit nie net daar laat nie. Jy weet ons kan nie.”

In antwoord strek sy haar hand uit sodat die son die goud daaraan vang.

“Ons moet hier op die berg in die sonskyn groet. Al ry ons nog ’n entjie verder saam, is dit hier waar ons vir mekaar tot siens sê.”

“Ruth …” begin hy, maar sy druk haar hand op sy mond en hy voel die ring se metaal op sy lippe, en dit voel vir hom asof die ring so koud is soos sy vrees om dít te verloor wat sy nou van hom af gaan wegvat.

“Nee,” fluister sy. “Soen my net nog een keer, en laat my gaan.”

Donderslag

Подняться наверх