Читать книгу Donderslag - Wilbur Smith - Страница 13

10

Оглавление

Teen sonop vee Sean sy gesig af met ’n lap wat hy in ’n beker warm water gedoop het, bekyk sy weerkaatsing in die klein metaalspieël, en die enigste ding wat hom ’n bietjie beter laat voel, is die tweehonderd-en-iets pond wat hy van gisteraand af oor het.

“Is Pa siek?” Dirk se onsimpatieke belangstelling in sy toestand maak Sean net nog meer beduiweld.

“Eet jou ontbyt,” sê Sean doelbewus kwaai om verdere vrae te ontmoedig.

“Daar is nie kos nie.” Mbejane is terug in sy gewone rol as beskermer

“Vir wat nie?” Sean rig sy bloedbelope oë op Mbejane.

“Een van ons dink mos dis belangriker om sterk drank en ander dinge te koop, eerder as kos vir sy seun.”

Uit sy baadjiesak haal Sean ’n hand vol geld. “Gaan,” beveel hy. “Koop kos en vars perde. Gaan gou sodat ek nie so siek soos wat ek hier sit nog na jou beskuldigings ook hoef te luister nie. Vat vir Dirk saam.”

Mbejane kyk na die geld en lag. “Die aand was toe darem nie ’n totale vermorsing nie.”

Nadat hulle weg is Frere toe – met Dirk wat langs die groot, halfkaal Zoeloe draf en sy stem wat dra totdat hy meer as ’n honderd jaarts ver is – skink Sean vir hom nog ’n beker koffie en hou sy hande bak daarom terwyl hy na die gloeiende kole staar. Hy kan op Mbejane reken om die geld goed te benut; hy is ’n geduldige onderhandelaar wat, indien nodig, twee dae daaraan kan wy om ’n enkele os te koop. Hierdie dinge pla Sean nie nou nie. Pleks daarvan speel hy die vorige aand se gebeure in sy kop terug. Hy berou sy moorddadige woedeuitbarsting, maar probeer dit regverdig in die lig van als wat hy verloor het – die vrug van baie jare se harde werk wat in ’n enkele dag van hom af gestroop is; die swaarkry en onsekerheid wat gevolg het – en uiteindelik die krisispunt toe die drank en dobbelspanning sy selfbeheersing geknak het.

Maar dit is nie al nie, hy weet hy vermy die grootste kwessie – Ruth. Toe hy weer aan haar dink, word hy oorweldig deur verlange, wanhoop waarvan hy die gelyke nog nooit deurgemaak het nie. Hy kreun, en wend sy oë tot die môrester wat op die pienk horison verdof namate die son opkom.

Nog ’n paar minute lank versink hy in die teerheid van sy liefde; hy onthou haar manier van stap, die donker erns van haar oë, haar mond wanneer sy glimlag en haar stem as sy sing – totdat die herinneringe dreig om hom in hul knusse sagtheid te versmoor.

Dan spring hy orent en loop rusteloos heen en weer deur die gras langs die vuur. Hy moet wegkom van hierdie plek af, en sommer gou ook. Hy moet iets kry om te doen, iets wat hom sal keer om verder so te dink, iets waarmee hy sy hande besig kan hou, die hande wat nou brand van die begeerte om haar weer vas te hou.

Met die pad langs, noordwaarts na Colenso toe, marsjeer ’n lang kolonne infanterie verby hom in die oggendlig. Hy steek vas en hou hulle dop. Elke man leun vorentoe onder die swaar rugsak en die geweerlope staan langs hul skouers uit.

Ja, dink hy, ek sal saam met hulle gaan. Miskien kan ek dít wat my laas nag ontwyk het, vind op die plek waarheen hulle op pad is. Ons sal teruggaan Ladyburg toe, ons sal die nuwe perde hard ry. Ek sal vir Dirk by my ma los, en dan kom ek terug na hierdie oorlog toe.

Hy begin weer ongeduldig heen en weer loop. Waar de joos bly Mbejane?

Van die hoogtes af kyk Sean na Ladyburg. Die dorpie lê in ’n netjiese kring om die kerktoring. Hy onthou die toring as ’n glimmende baken in sy nuwe koperbeslag, maar ná negentien jaar in die wind en weer het dit dofbruin geraak.

Negentien jaar. Dit voel nie so lank nie. Daar is nou ’n rangeerwerf by die stasie, ’n nuwe betonbrug oor Bobbejaanspruit, die bloekoms in die plantasie anderkant die skool is hoër, en die vlambome langs die hoofstraat is weg.

Effe teësinnig draai Sean sy kop en kyk regs, oor Bobbejaanspruit, naby die platorand, na waar hy Theuniskraal se groot Kaaps-Hollandse gewelhuis met die rietdak en geelhoutluike agtergelaat het. Dis nog daar, maar nie soos hy dit onthou nie. Selfs op hierdie afstand kan hy klam kolle op die mure sien, plekke waar dit afskilfer. Die dak lyk oes soos ’n nat langhaarhond se pels, een van die luike hang skeef aan sy skarniere, die grasperk is bruin, en hier en daar slaan die grond deur. Die melkery agter die huis het inmekaargeval, die dak is weg en die skouerhoë murasie lyk maar bedroewend.

“Die bliksem!” Sean se woede vlam oombliklik op toe hy sien hoe sy tweelingbroer die lieflike ou huis verwaarloos het. “Hy’s so lui, hy sal nie uit ’n natgepiste bed uit opstaan nie.”

Vir Sean is dit nie net ’n huis nie; dis die plek wat sy pa gebou het, wat hom van sy geboortedag af en deur sy kinderdae beskut het. Toe sy pa onder die Zoeloespiese by Isandlwana beswyk het, het die helfte van die plaas en huis Sean s’n geword. Hy het snags in die studeerkamer gesit met stompe wat in die klipkaggel brand en die gemonteerde buffelkop daarbo wat skaduwees teen die plafon gooi. Hy het sy aandeel weggegee, maar dit is nog steeds sy tuiste. Garry, sy broer, het g’n reg om dit te verwaarloos en so te laat uitmekaarval nie.

“Sy moer!” spreek Sean sy gedagtes hardop uit, maar byna dadelik betig sy gewete hom. Garry is mank, sy been deur ’n roekelose skoot met ’n haelgeweer onder die knie afgeskiet. En Sean het daardie geweer gehanteer. Sal hy ooit verlos word van daardie skuld? Hoe lank moet hy nog boete doen? Hy protesteer teen die aansprake van sy gewete.

Dis nie al wat jy aan jou broer gedoen het nie, herinner sy gewete hom. Wie het die kind verwek wat Garry nou sy seun noem? Wie se saad het in sy skoonsuster, Anna, se buik tot ’n seun gegroei?

“Ons was lank weg, nkosi.” Mbejane sien met watter uitdrukking Sean na Theuniskraal kyk, dat hy dinge onthou wat liefs vergete moet bly.

“Ja.” Sean ruk hom reg en sit regopper in die saal. “’n Lang pad en baie jare. Maar nou is ons weer by die huis.”

Hy kyk terug na die dorpie toe, soek in die deel anderkant die hoofstraat en die hotel na die dak van die klein huisie in Proteastraat. Dan sien hy dit tussen die hoë, bosserige bloekombome en sy bui verbeter sommer, hy voel glad opgewonde. Woon sy nog daar? Hoe sal sy nou lyk? ’n Bietjie grys, seker. Het haar vyftig jaar diep spore op haar gelaat, of het die jare haar net so sagkens behandel as wat sy met een en almal doen? Het sy hom vergewe dat hy weg is sonder om eens te groet? Het sy hom die lang jare van stilte vergeef? Verstaan sy hoekom hy nooit geskryf het nie – geen woord of boodskap gestuur het nie, buiten daardie naamlose geskenk van tienduisend pond wat hy in haar bankrekening inbetaal het. Tienduisend miserabele ponde wat hy skaars gemerk het tussen al die miljoene wat hy in daardie dae gewen en verloor het toe hy een van die grootkoppe op die Witwatersrandse goudveld was.

Weer pak ’n skuldgevoel hom beet. En hy weet dat sy verstaan, dat sy vergeef. Want dit is sy stiefma, Ada, en sy liefde vir haar is nog groter as die natuurlike liefde wat ’n mens aan jou eie bloed verskuldig is.

“Kom ons gaan af soontoe,” sê hy en spoor sy perd aan.

“Is dit ons huis, Pa?” roep Dirk terwyl hy op ’n handgalop langs hom ry.

“Ja, ou seun, dis die huis.”

“Sal Ouma hier wees?”

“Ek hoop so,” antwoord Sean, en vervolg sagter: “Dis wat ek hoop, bowenal.”

Oor die brug oor Bobbejaanspruit, verby die beeskrale langs die treinspoor, verby die ou hout-en-staal-stasiegebou met die bord wat in verbleikte wit-en-swart Ladyburg. 2,256 voet bo seespieël aankondig, links in die stowwerige hoofstraat af wat so wyd is dat jy ’n span osse daar kan laat omdraai, en af na Proteastraat toe ry Sean en Dirk, met Mbejane en die pakmuil ’n ent agterna.

By die hoek trek Sean sy perd in tot ’n stappie, rek die laaste paar minute van afwagting voordat hulle by die wit paaltjieheining stop wat die huisie omring. Die tuin is netjies en groen, vrolik van die Barbertonse madeliefies en blou bergrose. Die huis is vergroot met ’n nuwe vertrek aan die agterkant en is sprankelend nuut afgewit. ’n Naambord by die hek sê in goue letters op ’n groen agtergrond:

Maison Ada

Kostumier van gehalte

Sean grinnik. “Genade, die ou tante het skoon Frans geraak.” Dan aan Dirk: “Bly hier.”

Hy glip van die saal af, gee die teuels vir Dirk en gaan by die hekkie in. By die deur huiwer hy ’n oomblik selfbewus en verstel sy krawat. Hy kyk af na die swartlakenpak wat hy in Pietermaritzburg gekoop het, stof sy broek af, stryk sy nuutgeknipte baard plat, gee sy snorpunt ’n draai en klop aan die deur.

’n Jong meisie wat Sean nie ken nie, maak oop. Sy reageer oombliklik, bloos effe en probeer om haar hare ongesiens reg te stoot en van die naaldwerk in haar hande ontslae te raak – skoon verward omdat sy haar skielik in die teenwoordigheid van ’n groot, goedgeklede en aantreklike man bevind. Maar Sean voel ’n tikkie jammerte toe hy na haar geskende gesig kyk, lelik van die pers akneemerke.

Sean lig sy hoed. “Is mevrou Courtney hier?”

“Sy is in die werkkamer, meneer. Wie sal ek sê is dit?”

“Moenie vir haar enigiets sê nie, dis ’n verrassing.” Sean glimlag vir haar en sy lig haar hande selfbewus in ’n poging om haar gesig te verberg.

“Wil jy nie inkom nie, meneer?” Sy draai haar kop skaam weg, asof sy dit wil wegsteek.

“Wie is dit, Mary?”

Sean skrik toe hy die stem van binne af hoor – dit het glad nie verander nie. Dis asof die jare sommer wegval.

“Dis ’n man, tannie Ada. Hy wil met tannie praat.”

“Ek kom. Vra hom om solank te sit en gaan maak asseblief vir ons koffie.”

Mary ontsnap dankbaar en laat Sean alleen in die klein sitkamer staan. Hy vroetel met sy hoed in sy groot, bruingebrande hande en staar na die daguerreotipe-afdruk van Waite Courtney bo die kaggel. Al wil hy dit nie erken nie, lyk sy pa se gesig net soos syne – dieselfde oë onder ruie swart wenkbroue, dieselfde arrogansie om die mond, selfs ’n eenderse vasberadenheid in die uitstoot van die kakebeen onder die digte, lang baard, en natuurlik die groot Courtney-haakneus.

Die werkkamer se deur gaan oop en Sean draai vinnig soontoe. Ada Courtney kom glimlaggend in, totdat sy hom sien. Dan steek sy vas, die glimlag verdwyn en sy raak bleek. Onseker lig sy haar hand na haar keel toe en maak ’n klein stikgeluidjie.

“Liewe Vader,” fluister sy.

“Ma.” Sean skuifel sy voete ongemaklik rond. “Hallo, Ma. Dis goed om Ma weer te sien.”

“Sean.” Die kleur vloei terug in haar wange in. “Vir ’n oomblik het ek gedog … Jy lyk soveel na jou pa. O, Sean!” En sy hardloop na hom toe. Hy slinger sy hoed op die bank en vang haar om haar middel.

“Ek het vir jou gewag. Ek het geweet jy sou kom.”

Sean tel haar op en soen haar in ’n warreling van babbel en lag, draai haar in die rondte en lag self.

“Sit my neer,” hyg Ada uiteindelik. Toe hy dit doen, bly sy hom vasklou.

“Ek het geweet jy sou terugkom. Aan die begin was daar stukkies oor jou in die koerant, en mense het my goed vertel, maar die afgelope paar jaar was daar niks, heeltemal niks.”

“Ek is jammer.” Sean kom tot bedaring.

“Jy is ’n stouterd.” Sy sprankel van opgewondenheid, haar hare het uit haar bolla uit geval en ’n lok hang langs haar wang. “Maar dis so wonderlik om jou terug te hê …” En uit die bloute begin sy huil.

“Moenie, Ma. Asseblief, moenie.” Hy het haar nog nooit sien huil nie.

“Dis net … Dis ’n verrassing.” Sy probeer haastig haar trane afvee. “Dis niks.”

Angstig probeer Sean aan iets dink om haar aandag af te lei. “O,” roep hy dan verlig. “Ek het nog ’n verrassing.”

“Later,” protesteer sy. “Een op ’n slag.”

“Dit kan nie wag nie.” Met sy arm om haar skouers, lei hy haar deur toe en op die voorstoep uit.

“Dirk,” roep hy. “Kom hiernatoe.”

Hy voel hoe sy stokstil word terwyl hulle Dirk met die tuinpaadjie langs sien kom.

“Dis jou ouma.” Hy stel hulle voor.

“Hoekom huil sy?” Dirk staar haar openlik nuuskierig aan.

Later sit hulle by die kombuistafel terwyl Ada en Mary vir hulle kos aandra. Ada Courtney glo die eerste ding om met ’n man te doen, is om hom kos te gee.

Mary is omtrent net so opgewonde soos Ada. Sy het die paar minute wat sy alleen was goed benut. Haar hare is nuutgeborsel en sy dra ’n bont nuwe tabberd, maar die poeier waarmee sy haar beplak het om haar slegte vel te verdoesel, vestig net nog meer aandag daarop. Uit simpatie weerhou Sean hom daarvan om na haar te kyk, en Mary kom dit agter. So in die stilligheid spits sy haar daarop toe om Dirk se aandag te trek. Sy maak op ’n stil manier ’n ophef van hom, en Dirk aanvaar dat dit maar is hoe dinge veronderstel is om te wees.

Terwyl hulle eet, gee Sean vir Ada ’n vinnige oorsig van sy doen en late in al die jare wat hy weg was, raak net in die verbygaan aan Dirk se ma se dood en ander goed waarop hy nie trots is nie. Hy kom by die einde.

“En hier is ons nou.”

Hy haal vir Robert Louis Stevenson aan: “Home is the sailor, home from the sea, and the hunter home from the hill … Dirk, moenie jou mond so vol stop nie en kou toemond.”

“Hoe lank gaan jy bly? … Mary, gaan kyk tog of daar nog konfyttertjies in die blik is, Dirk is nog honger,” sê Ada.

“Julle sal dat hy hom siek eet … Ek weet nie, nie te lank nie, dis oorlog.”

“Gaan jy aansluit?”

“Ja.”

“O, Sean. Moet jy?” Maar sy weet hy moet. Terwyl hy ’n rookding uit sy houertjie haal, bekyk Sean haar vir die eerste keer deeglik. Daar is nou grys in haar hare, soos hy verwag het, amper soveel grys as swart, lang strepe langs haar slape. En haar vel se tekstuur het verander: die jeugdige soepelheid is weg, dit kreukel by haar oë en span styf oor haar hande, en hy kan die knopperige kneukels en blou are daaronder duidelik sien. Sy is plomper ook, haar boesem vol en rond, met die twee buuste wat nie meer van mekaar te onderskei is nie.

Tog is die ander eienskappe wat hy al so lank in sy herinneringe koester nog daar, selfs sterker as tevore – die ingetoë kalmte wat in haar lyf en hande wys, maar wat deur die humor om haar mond weerspreek word; die oë met hul diepe begrip en simpatie vir dit wat hulle sien. Maar bowenal die aura van suiwer goedhartigheid wat haar omhul. As hy so na haar kyk, kom hy opnuut onder die indruk dat geen negatiewe gedagte lank agter daardie oë kan oorleef nie.

Sean steek die seroet op en praat terwyl die rook sy gesig verdoesel.

“Ja, Ma, ek moet gaan.”

Ada, wie se man ook weg is oorlog toe en nooit weer teruggekom het nie, kan nie keer dat die hartseer in haar oë wys nie. “Ja, jy moet seker. Garry is al weg en Michael hou aan dat hy ook wil gaan.”

“Michael?” vra Sean skerp.

“Garry se seun. Hy’s gebore kort nadat … kort nadat jy uit Ladyburg weg is. Hy word hierdie jaar agttien.”

“Hoe ’n soort kind is hy?” Sean se stem klink te gretig. Michael … Dit is dus my seun se naam, dink hy. My eersgeborene. Goeie genade, my eersgeborene en ek het nie eens sy naam geweet totdat hy al byna ’n grootmens geword het nie.

Ada kyk na hom met haar eie vraag ongevra. “Mary, vat vir Dirk badkamer toe, asseblief. Probeer om daardie kos rondom sy mond af te was.”

Sodra hulle weg is, antwoord sy Sean se vraag. “Hy is ’n lang seun, lank en lenig. Donker soos sy ma. ’n Ernstige kind, hy lag nie veel nie. Staan altyd eerste in sy klas. Ek hou baie van hom. Hy kuier gereeld hier by my.” Sy is vir ’n oomblik stil, dan: “Sean …”

Sean onderbreek haar haastig. “En hoe gaan dit met Garry?” Hy weet wat sy wou vra.

“Garry het nie veel verander nie. Die ongeluk ry hom die laaste tyd … Arme Garry, dinge is maar sleg op die plaas. Die runderpes het die beeste uitgeroei, hy moes geld by die bank leen.” Sy huiwer ’n oomblik. “En hy drink deesdae baie. Ek kan nie vir seker sê nie – hy gaan nooit hotel toe nie en ek het hom nog nooit sien drink nie. Maar dis wat dit moet wees.”

“Ek sal uitvind waar hy is wanneer ek Colenso toe gaan.”

“Jy sal hom maklik kry. Garry is ’n luitenant-kolonel in die generale staf. Hy is verlede week van majoor af bevorder, en hy het die Distinguished Service Order gekry, by sy Victoria Cross. Hy is in beheer van die samewerking tussen die koloniale en imperiale eenhede.”

“Goeie hemel!” Sean is verbyster. “Garry ’n kolonel!”

“Generaal Buller dink die wêreld van hom. Die generaal het natuurlik self ’n Victoria Cross.”

“Maar,” protesteer Sean, “Ma weet hoe Garry daardie medalje gekry het. Dit was ’n fout. As Garry op die generale staf is … die Vader behoed die Britse leër.”

“Sean, jy moenie so van jou broer praat nie.”

“Kolonel Garrick Courtney.” Sean lag hardop.

“Ek weet nie wat hierdie ding tussen jou en Garry is nie. Maar dis iets aakligs, en ek wil niks daarvan in hierdie huis hê nie.” Ada se stemtoon is kwaai en Sean sluk sy lag.

“Ek is jammer.”

“Voordat ons die onderwerp los, wil ek jou net waarsku. Wees baie versigtig hoe jy vir Garry hanteer. Wat ook al tussen julle gebeur het – en ek wil nie weet wat dit is nie – Garry haat jou nog. Hy het selfs ’n keer of wat oor jou begin praat, en ek moes hom stilmaak. Maar ek hoor dieselfde stories van Michael af, die seun kry dit by sy pa. Dis omtrent ’n obsessie by hom. Loop lig vir Garry.”

Ada staan op. “En nou, wat Dirk betref … Wat ’n lieflike kind is hy nie! Maar, Sean, ek is bevrees jy’t hom bietjie bederf.”

“Hy’s ’n wildewragtig,” gee Sean toe.

“Watse skool het hy gehad?”

“Wel, hy kan so ’n bietjie lees …”

“Los hom hier by my. Ek sal hom inskryf as die skooljaar begin.”

“Ek wou gevra het. Ek sal geld los.”

“Tien jaar gelede is daar ’n groot en geheimsinnige deposito in my bankrekening inbetaal. Dit was nie myne nie, toe belê ek dit teen goeie rente.” Sy glimlag vir hom en Sean lyk skuldig. “Ons kan dit gebruik.”

“Nee,” sê hy.

“Ja,” kap sy teë. “En sê nou vir my wanneer jy weggaan.”

“Binnekort.”

“Hoe gou?”

“Môre.”

Donderslag

Подняться наверх