Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 10

SONDAG 3 JANUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Psalm 77:1-10

Slapeloos

U laat my wakker lê, ontsteld en sprakeloos (77:5).

GESELSVRAAG: Wat laat ’n mens snags wakker lê?

“Iemand wat sê hy het soos ’n babatjie geslaap, bedoel seker dat hy elke twee uur wakker was en gehuil het,” verduidelik ’n ervare mamma. Dit is ongelukkig die werklikheid, wat ’n mens alleen maar sal verstaan as jy self daardeur is. Ons mammas is darem helde. Pappas lê ook dikwels die hele nag wakker en bekommer hulle oor hul werk of ander bedreigings vir hul gesin, die maatskappy en hulleself.

Asaf vertel hoe hy as gelowige ook sulke tye geken het. As hy dink aan die wonders wat die Here in die verlede gedoen het, dan wonder hy hoekom dit nie nou nog so maklik gaan nie. Waar is die Here dan? Het Hy Hom van ons onttrek? Het Hy sy krag verloor? Is Hy dalk kwaad vir ons?

Ons kan verwag om ook vanjaar sulke tye te ervaar. Dan is dit vir ons ’n troos om te weet dat dit deel van die lewe is. Asaf het selfs hierdie psalm daaroor geskryf. Hy gee nie maklike antwoorde nie. In hierdie gebroke werklikheid is dinge nie volmaak nie. Nietemin sal die Here ons deurhelp, al lyk dit ook hoe donker in tye van depressie. Dit mag nodig wees om professionele hulp te soek. Kom ons begin by die Here, soos Asaf gedoen het. Ons kan Hom eerlik vertel presies hoe ons nou voel.

GEBED: Here, sonder U kan ek hierdie jaar nie in die oë kyk nie. Dra ons almal deur alles wat op ons wag.

Lees vanaand in Psalm 77:11-21 hoe die digter die Here herinner aan die goeie dae in die verlede. Kan jy dit ook doen?

Uit die Beek 2016

Подняться наверх