Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 8

VRYDAG 1 JANUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 1:1-16

Nuwejaarsdag

Organisasie

Julle moet hierin bygestaan word deur persone wat hoofde is van hulle families, een uit elke stam (1:4).

GESELSVRAAG: Waar het ons vanjaar beter organisasie nodig?

“’n Voorspoedige Nuwejaar vir jou en jou gesin!” wens ons mekaar vanoggend toe. Wat presies bedoel ons daarmee? Sukses in die werk? Eenheid in die huisgesin? ’n Sterk en gesonde huwelikslewe? Gesondheid? Rykdom? Aan die begin van ’n nuwe jaar is ons geneig tot Nuwejaarsvoornemens. (Tog vergeet ons dit bra gou!) Dit help nie om jou ideale neer te skryf sonder om te beplan hoe jy dit vanjaar gaan verwesenlik nie.

Moses het ’n regstreekse telefoonlyn na die hemel gehad. God het met hom gepraat soos ’n vriend met sy vriend praat. Min van ons het daardie voorreg. Nietemin kan ons leer uit wat die Here hier vir Moses sê. Hoe tel jy twee miljoen mense? Of selfs net 600 000? Jy kan dit tog nie self doen nie. Daarom moet jy hulp kry. Jy soek die mees logiese persone om te vra. Moses het die familiehoofde gevra. Elkeen het geweet wie en hoeveel mense in sy groep is. So moet ons ook die regte mense in ons huis en by die werk saamsnoer om ons in ons beplanning te help.

Vandag het ons ’n goeie geleentheid om te dink hoe ons die nuwe jaar beter kan beplan. Wat het verlede jaar verkeerd geloop? Hoe kan ons dit vanjaar beter doen?

GEBED: Here, dankie dat ons 2016 saam met U kan aanpak. Help ons om vanjaar regtig ’n verskil te maak.

Lees vanaand in Numeri 1:17-46 wat die sensus opgelewer het, waarvolgens Moses en die leiers beter kon beplan.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх