Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 9

SATERDAG 2 JANUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 1:47-54

Posbeskrywing

Jy moet die Leviete aanstel om toesig te hou oor die tabernakel met die getuienis, oor al sy gereedskap en al sy toebehore (1:50).

GESELSVRAAG: Wat presies is elkeen van ons se werk?

“As jy nie ’n duidelike posbeskrywing het nie, is dit moeilik om bevredigende werk te lewer,” verduidelik die fasiliteerder. Ons moes dus elkeen gaan neerskryf hoe ons ons werk sien en dan kon ons werkgewer kyk of dit met sy of haar idee strook. So kan ons baie misverstande voorkom.

Die Leviete was die kosters van daardie tyd. Hulle was verantwoordelik vir die tabernakel en alles wat daarin gebruik is. Hulle moes dus sterk wees om daardie swaar toerusting kilometers ver te dra! Die tabernakel was opvoubaar en kon uitmekaargehaal word elke keer dat die volk verskuif. Die Leviete het rondom die tabernakel gewoon om altyd byderhand te wees as die wolk begin beweeg.

Elkeen van ons het verantwoordelikhede in die huis en by die werk, asook in die kerk. Ons moet presies weet wat ons werk is, sodat ons nie soos passasiers op ’n oorlogskip voel nie. Ons almal is God se werkers. Kom ons kyk of ons ’n lysie kan maak van hoe ons ons deel kan doen om die huisgesin, werksplek en gemeente se jaar aangenaam vir almal te maak.

GEBED: Here, wys my elke dag van hierdie jaar wat ek vir U kan doen. Help my dan om dit getrou te doen.

Lees vanaand in Numeri 2:1-16 hoe die Israeliete georganiseer is om as families saam te bly en saam te reis.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх