Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 16

SATERDAG 9 JANUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 5:1-10

Oneerlikheid is verbode

Wanneer iemand, man of vrou, ’n medemens benadeel en dus ontrou teenoor die Here is, is hy skuldig (5:6).

GESELSVRAAG: Wanneer is oneerlikheid geregverdig?

“Nee, meneer, die saak is eintlik ’n bietjie anders,” help Ben die uitvoerbestuurder reg. Hy gee toe die ware feite. Hy het nie besef dat sy baas besig was om die klant doelbewus te mislei nie. Die gevolg was dat Ben afgedank is. Daardie maatskappy bestaan nie meer nie. Oneerlikheid raak die Here intens en moet gestraf word.

In vandag se Skrifgedeelte gaan dit oor eerlikheid. Dit is vir die Here belangrik dat sy volk in alles eerlik moet wees. As iemand in hierdie opsig gesondig het, moet hy vir sy oneerlikheid vergoed. As die mens wat hy bedrieg het, nie meer lewe nie, moet die vergoeding aan die priester betaal word.

Baie sakemanne wat tot bekering kom, sal jou vertel hoe die Here hulle oortuig het om te vergoed vir die oneerlike sake wat hulle in die verlede gedoen het. In baie gevalle is dit nie meer moontlik nie. Hul oneerlikheid het dalk gemaak dat hul slagoffers alles verloor het – selfs hul lewe. Baie van ons sal ook kan vertel hoe ons self die slagoffer van gewetenlose mense geword het. Ons moet hulle vergewe, al sien hulle nog nie in dat hulle gesondig het nie. Om nie te vergewe nie maak jouself seerder as vir die skuldige.

GEBED: Here, help my om nooit iemand anders te benadeel nie. Help my om elke dag aan U getrou te bly.

Lees vanaand in Numeri 5:11-22 hoe in daardie tyd omgegaan is met aanklagte van ontrou sodat die waarheid kon seëvier.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх