Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 22

VRYDAG 15 JANUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 8:5-11

God se getuies

Jy moet die Leviete nader bring voor My, die Here, en daar moet die Israeliete hulle hande op die Leviete lê (8:10).

GESELSVRAAG: By watter geleenthede is jy al aan die Here gewy?

“Elke mens wat gedoop word, word as sendeling gedoop,” het wyle dr Andrew Murray glo per geleentheid gesê. Ons word gedoop in die Naam van die Vader, wat die wêreld so liefhet dat Hy sy enigste Seun gegee het. Ook in die Naam van die Seun, wat ons die groot opdrag gegee het om die evangelie aan alle volke te verkondig, en in die Naam van die Heilige Gees, wat ons sy getuies in die wêreld maak wanneer Hy oor ons kom. Ons is dus almal by ons doop tot sendelinge georden.

Die Leviete was die plaasvervangers van die res van die volk, soos ons reeds gesien het. By hierdie plegtigheid moes elke Israeliet sy hande op ’n Leviet lê as simbool dat hy die Leviet die opdrag gee om in sy plek die Here te dien. Daar is ’n sterk ooreenkoms met die voorbereiding van die sondeofferdiere. Die Leviete was dus Israel se offergawes aan God (vgl. v. 11).

Ons kan vandag dink dat ons ook leraars en sendelinge afsonder en uitstuur om die werk van die Here namens ons te doen. Dit skuif egter nie die verantwoordelikheid van ons af om ook God se gestuurde – sy sendeling – te wees by die skool, by die werk, op die plaas en op die pad nie. Geniet jou roeping vandag. Gee jouself (vgl. Rom 12:1-2).

GEBED: Here, ek wy myself en my gesin vandag aan u diens.

Lees vanaand in Numeri 8:12-22 hoe die Leviete die Here namens die volk gedien het.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх