Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 41

DINSDAG 2 FEBRUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 16:36-40

Herinneringsteken

Dit moes die Israeliete altyd daaraan herinner (16:40).

GESELSVRAAG: Waaroor gaan die naaste monument aan jou?

“Hoe kan ons die lidmate help om die Bybelstories te onthou? Die meeste van hulle kan nie lees nie,” het kerkleiers in die Middeleeue gewonder. Die gevolg was dat hulle beelde van Bybelfigure en gebrandskilderde vensters in die kerkgeboue laat aanbring het. So is daar baie grafstene en monumente wat probeer keer dat mense iemand sou vergeet. Dikwels weet vandag se mense nie meer wie die persone was of wat hulle gedoen het nie.

Moses kry die opdrag om die kopervuurpanne van die opstandiges te hergebruik as bekleding van die altaar. Omdat die panne aan die Here gewy is, mag dit net in diens van die Here gebruik word. Bowendien moes dit die opeenvolgende geslagte daaraan herinner dat ’n mens nie sommer in heilige dinge moet inboender nie. Dit was ’n blywende waarskuwingsteken vir die volk. Net priesters mag sulke offers bring.

Die Here Jesus het dinge radikaal kom verander. Hy het Homself as die finale offer gegee. Tog Hy het ’n herinneringsteken agtergelaat: die Nagmaal. Hy het sy volgelinge beveel: “Gebruik dit tot my gedagtenis” (1 Kor 11:23-26). Ons moet onthou wat Hy vir ons gedoen het en dan so lewe dat elkeen van ons monumente van God se genade is.

GEBED: Here, dankie vir die sakramente wat my aan u liefde herinner; herinner my elke dag en elke uur aan u liefde.

Lees vanaand in Numeri 16:41-50 hoe gevaarlik dit is om teen die Here in opstand te kom. Let op Moses se reaksie.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх