Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 40

MAANDAG 1 FEBRUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 16:12-22

Leierskapstryd

Wil jy hierdie mense aanhou mislei? Ons sal nie kom nie! (16:14).

GESELSVRAAG: Waaroor was daar groot ontevredenheid in jul gemeente?

“’n Leier is net ’n leier as hy volgelinge het.” Daar is dus min dinge wat ’n leier so moedeloos maak soos volgelinge wat hom nie meer wil volg nie. Dit veroorsaak skeuring in politieke partye, gemeentes en gesinne. Soms besorg belaglike sake hoofbrekens, soos die kleur van ’n serp, of watter liedere om te gebruik. “Verdeel en heers” is ’n ou maar effektiewe taktiek van ons vyand. As hy die gelowiges teen mekaar laat optree, het hy niks te vrees nie. In Australië het twee Presbiteriaanse Kerke besluit om te verenig. Die gevolg was 11 verskillende kerke!

Moses kry teenstand van leiers wat blykbaar ook ’n klompie volgelinge om hulle versamel het. Hulle was moeg om bloot te doen wat Moses sê, sonder dat sy beloftes waar word. Hulle vergeet geriefshalwe dat hulle weens hul verkeerde keuses nie in die beloofde land kon ingaan nie. Nou klink die slawerny in Egipte – die goeie ou dae – vir hulle baie aantrekliker as wat hulle nou ervaar.

Ons sal vandag by die werk, by die skool of in die kerk te doen kry met stemme wat verdeeldheid saai. Wees op jou hoede! Pasop om self ’n kwaadprater te wees – dit kan jou die ewigheid kos (vgl. 1 Kor 6:9-10).

GEBED: Here, help ons om mekaar lief te hê en te ondersteun.

Lees vanaand in Numeri 16:23-35 hoe die vermetelheid van Datan en Abiram en hul volgelinge gestraf is.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх