Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 38

SONDAG 31 JANUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Psalm 78:52-64

Al weer dieselfde

Maar hulle het God die Allerhoogste getart en teen Hom in opstand gekom. Hulle was nie aan sy gebooie gehoorsaam nie (78:56).

GESELSVRAAG: Hoekom gaan ons vandag kerk toe?

“Ek en my vrou het die afgelope 28 jaar geen sonde gedoen nie,” vertel ’n kerkleier by ’n konferensie oor heiligheid. Dit was duidelik dat hy hoegenaamd nie besef hoe sy kollegas sy dikwels liefdelose gesindheid ervaar het nie. Vir ons almal is dit seker makliker om die sondes van ander mense raak te sien as ons eie.

Ons sou verwag dat die nuwe geslag wat die beloofde land ingetrek het, baie meer gehoorsaam en toegewyd sou wees as hul voorouers wat in die woestyn gesterf het. Nou vertel hierdie psalm egter vir ons dat die erfsonde steeds vasgesteek het en oorgelewer is. Die jongmense was niks beter as hul ouers nie. Hulle het ook maar ingeval by die slegte voorbeeld van hul voorgangers. Hulle het ook afgode begin dien. God moes hulle dus weer straf. Wat ’n teleurstelling!

Gaan ons vandag kerk toe omdat ons volmaak en sondeloos is? Nee, ons gaan juis omdat ons besef dat ons nog ver is van wat die Here met ons bedoel het. Ons wil luister wat die Here vir ons sê, sodat ons ál meer kan groei om soos Christus te wees. Sy Gees woon in ons om ons daarmee te help. Mag jy ook vandag ’n ware ontmoeting met die Here ervaar!

GEBED: Hemelvader, ek gaan nou kerk toe omdat ek U nodig het. Stem my in om u woord op te vang.

Lees vanaand in Psalm 78:65-72 hoe die Here uit genade vir hulle nog ’n kans gegee het deur ’n goeie leier te roep.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх