Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 34

WOENSDAG 27 JANUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 14:25-35

Die gevolge van ongehoorsaamheid

Nie een van julle sal die land betree wat Ek met ’n eed aan julle as woonplek beloof het nie, behalwe Kaleb seun van Jefunne, en Josua seun van Nun (14:30).

GESELSVRAAG: Wat kan maak dat ons God se seën misloop?

“Julle moet onthou dat elke keuse of besluit gevolge het,” waarsku ons ons kinders. Daardie enkele keer se eksperimenteer met drank of dwelms kan jou hele lewe verwoes. ’n Buite-egtelike verhouding kan jou huwelik of gesondheid kos. Oneerlikheid of korrupsie kan jou in die tronk laat beland. Die regte keuses kan vir jou voorspoed en geluk beteken. Op die lang duur is dit die moeite werd om die Here te dien.

Die Israeliete is so maklik emosioneel opgesweep dat hulle nie verder gedink het nie. Hulle sou nou op die swaar manier leer. Van die mense ouer as 20 sou net Josua en Kaleb die beloofde land in besit neem. Al die ander sou in die woestyn sterf. Veertig jaar lank sou daar geen vordering wees nie. Eers wanneer die laaste ongehoorsame dood is, sou hulle kon voortgaan. Hulle het verkeerd gekies. Nou moes hulle die gevolge dra.

Ons kry ook elke dag die geleentheid om keuses te maak. Ons kan kies om die Here voluit te dien, of om onsself en ons eie gerief voorop te stel. Onthou: die ewigheid lê voor. Wat ons in hierdie lewe doen, het ewige gevolge (vgl. Matt 7:21-23).

GEBED: Here, dankie dat U ons vandag waarsku teen ongehoorsaamheid. Help ons om gehoorsaam te leef.

Lees vanaand in Numeri 14:36-45 hoe die volk weer omswaai en besluit om sonder God voort te gaan.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх