Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 25

MAANDAG 18 JANUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 9:15-23

Bly of ry?

Op die bevel van die Here het hulle kamp opgeslaan en op sy bevel het hulle weggetrek (9:23).

GESELSVRAAG: Wanneer laas het jy lekker verdwaal?

“Die Israeliete het 40 veertig jaar lank in die woestyn rondgedwaal, in plaas van die 11 dae wat die reis normaalweg sou duur. Die rede was dat hul leier, Moses, ’n man was. En mans vra nie pad nie,” skerts ’n vrou nou die dag in ’n SMS aan die Afrikaanse radiosender. Dit was natuurlik nie die hele verhaal nie. Deesdae is dit maklik om jou GPS te vertel waarheen jy wil gaan en dan eenvoudig haar aanwysings te volg. Sy vertel jou selfs hoe laat jy daar sal aankom, soos jy nou vorder. Bowendien bly sy geduldig as jy verkeerd afdraai of ’n ompad kies.

Moses was nie regtig die leier van die Israeliete nie. Die Here was. Die wolk van sy teenwoordigheid het op die tabernakel gerus wanneer hulle moes bly en beweeg wanneer hulle moes verder gaan. Die volk het dus elke oggend eers na die wolk gekyk om te sien of hulle moet inpak en oppak. Soms het hulle net ’n nag op ’n plek geslaap en ander kere jare lank gebly. Die wolk het hulle gelei.

’n Mens wens soms dat die Here ons vandag nog so duidelik wou lei oor wat om te maak. Watter beroep moet ek kies? Waar moet ek gaan bly? Met wie moet ek trou? Moet ek hierdie werksaanbod aanvaar? Moet ek oorsee gaan werk?

GEBED: Here, lei my vandag in elke besluit wat ek moet neem. Ek verlang na u duidelike leiding.

Lees vanaand in Numeri 10:1-10 hoe die trompette vir die volk gesein het wat om te doen.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх