Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 31

SONDAG 24 JANUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Psalm 78:32-39

Onegte toewyding

Maar hulle was vals teenoor Hom, hulle was nie opreg in wat hulle gesê het nie (78:36).

GESELSVRAAG: Hoe wil ons die Here vandag dien?

“Ek kan nie julle wit mense verstaan nie,” merk ’n swart man in Namibië op, “julle hoor elke Sondag in jul kerk dat julle jul naaste moet liefhê. Tog sien ons dit glad nie in jul lewe nie.” Oeps! Kan dit waar wees? Hoekom verander die evangelie dan nie die manier waarop ons as gelowiges optree nie? Dan is daar mos iewers groot fout.

Asaf se psalm verwys na die gebeurtenisse waarvan ons hierdie week in Numeri gelees het. Elke keer as die een of ander ramp hulle getref het, het hulle hulle bekeer. Tog was dit nie opreg nie. Nie lank nie of hulle het maar weer die ou paaie bewandel. Ek dink as ons ons in die Here se plek sou stel, sou ons lankal tou opgegooi het. Daar is geen salf te smeer aan hierdie soort mense nie.

Is ons nie maar presies dieselfde nie? Dink daaraan hoe ons almal die Here elke dag ook teleurstel. Ons dop gereeld die toets nadat ons ’n nuwe les by die Here geleer het. Ons moet onthou dat ons getoets gaan word nadat die Here met ons gepraat het, soos vandag daar by die kerk. Ons geloof moet in die praktyk blyk. Kom ons gaan dus in die verwagting dat iets in ons gaan verander.

GEBED: Here, vergewe my dat ek U so dikwels teleurstel. Laat u Gees my lei om hierdie week se toetse te slaag.

Lees vanaand in Psalm 78:40-51 hoe die Here sy almag in Egipte gewys het. Hoekom vergeet ons dit so gou?

Uit die Beek 2016

Подняться наверх