Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 37

SATERDAG 30 JANUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 15:37-41

Teken van toewyding

As julle die klossies sien, moet julle dink aan al my gebooie sodat julle dit onderhou en nie die sondige begeertes van julle hart en oë navolg nie (15:39).

GESELSVRAAG: Watter simbole help ons om aan die Here te dink?

“Wat beteken die WWJD hier aan die voorkant van hierdie pet?” vra die klant aan die verkoopsdame. “Dit staan vir What Would Jesus Do?” verduidelik sy. “Dit is om jou te help om die regte besluit te neem.” “Wel, ek dink nie Jesus sou hierdie buitensporige prys vir hierdie pet betaal het nie,” antwoord hy. So dra baie van ons simbole aan ons klere, armbande om ons arms of hangertjies met ’n Christelike boodskap. Dit is baie nuttig om ’n gesprek mee aan te knoop.

Die Jode het die klossies gedra om hulle elke dag daaraan te herinner om aan die gebooie van die Here getrou te bly. Selfs in Jesus se tyd was dit nog algemeen (vgl. Matt 23:5). In die bekende rolprent Fiddler on the roof dra die Jode ook elkeen ’n voorskoot met klossies daaraan om hulle te help om getrou te bly aan die Wet. Die blou toutjie, sê sommige Skrifverklaarders, was daar om hulle daaraan te herinner hulle is “’n koninkryk wat My as priesters dien, en ’n gewyde nasie” (Eks 19:5).

Watter boodskap dra ons kleredrag en optrede vir onsself en vir die mense oor wat nog buite die Koninkryk is? Moet ons snaaks aantrek om anders te lyk? Of moet ons eerder anders leef om te wys dat ons aan die Here behoort?

GEBED: Here, help my so lewe dat U daardeur verheerlik word.

Lees vanaand in Numeri 16:1-11 hoe Korag homself as priester wou aanstel en wat Moses se reaksie was.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх