Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 23

SATERDAG 16 JANUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 8:23-26

Aftrede

As ’n Leviet egter vyftig jaar oud is, moet hy sy amp neerlê en mag hy nie verder dien nie (8:25).

GESELSVRAAG: Wanneer is dit ’n goeie tyd om af te tree?

“Ek lees van net een persoon in die Bybel wat wou aftree. Dit was die ryk dwaas,” noem iemand toe ons oor aftrede gesels. Hy was egter nie heeltemal korrek nie. Ons lees hier dat die Leviete op 50 moes aftree. Hulle moes vrygestel word van die diens sodat hulle vir hul kinders en kleinkinders kon sorg. Onthou, in hierdie tyd moes die Leviete onder meer die tempelgereedskap kilometers ver dra en die swaar werk doen van die tabernakel op- en afslaan. Dit was dus uit sorgsaamheid dat hierdie reël ingestel is. Dit het ook net vir die Leviete gegeld.

Moses het self eers met sy eintlike werk begin toe hy 80 jaar oud was en was in diens tot 120. Hy was ’n besondere mens – dink net hoe sterk hy moes wees om op daardie gevorderde ouderdom twee groot klipplate teen die berg op en af te dra sodat die Tien Gebooie daarop gegraveer kon word. Sy 40 jaar in die buitelug as skaapwagter het hom seker daarvoor voorberei!

“’n Christen tree nooit af nie. Hy tree net uit sy gewone werk sodat hy voltyds beskikbaar kan wees vir wat die Here deur hom wil doen,” vertel ’n afgetrede boer. Hy en sy vrou werk nou voltyds in die sending in Mosambiek.

GEBED: Here, ons wil U ons hele lewe lank ten volle dien. Help ons om dit te doen.

Lees vanaand in Numeri 9:1-14 hoe gesorg is dat alle mense die vreugde van die Paasfees kon ervaar.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх