Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 35

DONDERDAG 28 JANUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 15:1-10

Die pad na vergifnis

As julle in die land kom wat Ek vir julle as woonplek gee (15:2).

GESELSVRAAG: Wat kan ons doen om vergewe te word?

“Wat op aarde soek hierdie hoofstuk oor die offers tussen die dramatiese hoofstukke 14 en 16?” wonder jy seker ook. Was dit ’n los bladsy wat per ongeluk hier beland het? Nee, kyk mooi: Hierdie opdragte is bedoel vir die gehoorsames – dié wat in die beloofde land sal ingaan, soos ons in vandag se kernvers hierbo kan sien.

Die hoofstuk is in drie dele verdeel wat al drie met dieselfde inleidende woorde begin (vgl. v. 1, 17, 37). Vandag se gedeelte is bedoel om die jongmense, dié wat sal oorleef om die beloofde land te sien, te bemoedig. Jou sondes kan vergewe word. Kyk, hier staan dit hoe ’n aanvaarbare offer lyk. God het jou nie soos jou ongehoorsame ouers verwerp nie.

Sedert Christus gekom het, het ons nie meer nodig om diere vir ons sondes te offer nie. Hy het die volle prys vir ons skuld met sy bloed betaal (vgl. 1 Joh 1:7). Hy was die finale offer. Al wat ons moet doen, is om daardie offer vir ons toe te eien. Ons moet aanvaar wat God ons aanbied. Ons moet die tjek gaan wissel by die hemelbank. Die Here Jesus het ons kom wys hoe lief God ons het (vgl. Joh 3:16). Hy het nietemin herhaaldelik gewaarsku dat daar ’n einde aan God se genade kom. Daar kom ’n dag dat die deur gesluit sal word (vgl. Matt 25:10). Die groot vraag is dan: Wanneer die deur gesluit word, is jy binne of buite?

GEBED: Here, help my om betyds by u deur in te gaan.

Lees vanaand in Numeri 15:11-21 hoe alle aanbidders eenders moet optree en eenders behandel moet word.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх