Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 42

WOENSDAG 3 FEBRUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 17:1-13

Die man deur God gekies

So moet jy ’n einde maak aan hulle verset teen My, sodat hulle nie sterwe nie (17:10).

GESELSVRAAG: Waaroor baklei boeties en sussies onder mekaar?

“Dit is interessant om te sien hoe kinders die grense toets,” sê ons vir mekaar terwyl ons kyk hoe die kleingoed probeer om met iets onnutsigs weg te kom. Dit is goed om reëls te hê, maar dan moet ons weet wat om te doen wanneer die kinders dit oortree. Sonder duidelike perke het ’n kind geen sekuriteit nie.

Moses en Aäron moet gedurig vure doodslaan. Die leiers kom een na die ander in opstand teen hulle. Nou wil die Here uit genade eens en vir altyd duidelik maak wie Hy as priester uitgekies het. Die leiers van die stamme moet elkeen sy kierie bring. Aäron ook. Dit word oornag in die tent van ontmoeting gelaat. Toe hulle die volgende oggend kyk, het daar ’n wonder gebeur. Aäron se kierie het nie alleen botsels nie, maar ook bloeisels en selfs ryp amandels aan! Dit is duidelik dat hier ’n wonder gebeur het. Moses het nie in die nag die kierie gaan omruil nie. Nou was die leiers oortuig. Hulle vrees selfs vir hul lewe!

Elkeen van ons het ’n eie roeping. Ons hoef nie iemand anders se roeping uit te lewe nie! Tog moet ons nie ons roeping verwaarloos of iemand anders afkraak nie. Ons is mos een span, God se span. Geniet hierdie dag!

GEBED: Here, ek wil vandag deel van u span wees, oral waar ons vandag gaan werk of studeer.

Lees vanaand in Numeri 18:1-7 hoe die Here die verantwoordelikheid van priesterskap op Aäron en sy seuns lê.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх