Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 30

SATERDAG 23 JANUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 13:1-16

Inligting

Stuur manne om Kanaän, wat Ek aan die Israeliete sal gee, te verken (13:2).

GESELSVRAAG: Waaroor het jy meer inligting nodig?

“Wat jy nie meet nie, kan jy nie weet nie,” is ’n beginsel wat by elke maatskappy ingedril word. Met behulp van rekenaars word fyn dopgehou hoe elke afdeling van die werk vorder. Slim mense praat selfs van die “inligtingsrevolusie”. Net soos die industriële revolusie die wêreld verander het, het rekenaars dit nou weer gedoen. Baie beroepe van vandag het ’n paar jaar gelede nie eens bestaan nie. Rekenaars speel oral ’n belangrike rol – tot in die enjins van nuwe motors.

Moses moes navorsing doen om te weet presies wat vir hulle in die beloofde land voorlê. Daarom was die 12 verkenners baie nodig om vas te stel wat die uitdagings is wat op hulle wag. Eers wanneer hulle die feite voor hulle het, kan hulle behoorlik beplan hoe om die uitdagings die hoof te bied. Die verkenners was dus nie onkundige mense nie. Hulle was leiers. Hulle het geweet waarvoor om op die uitkyk te wees.

Sommige van ons lewe nog in die “BC”-tyd (Before Computers). Met behulp van die nuwe tegnologie en die internet het ’n nuwe wêreld egter vir die meeste van ons oopgegaan. Ons kan gou enige inligting op die internet naslaan. Ons kan kursusse oor die internet volg. Wat wil jy weet?

GEBED: Here, help my om my geleenthede reg te benut.

Lees vanaand in Numeri 13:17-25 wat die verkenners se opdragte was en wat hulle gesien het.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх